ARTIKEL: DIE GEBRUIK VAN STAATSORGANE OM PERSOONLIKE GESKILLE OP TE LOS
Tydens ‘n mediakonferensie na afloop van die Konstitusionele Hof se historiese beslissing, waarin dit bevind het dat die Openbare Beskermer se verslag oor die opgraderings aan president Zuma se privaatwoning in Nkandla bindend op hom was en dat hy gevolglik verplig is om die geld met betrekking tot opgraderings wat nie met sekuriteit verband hou nie, terug te betaal, het Thuli Madonsela daarop gewys dat in plaas daarvan om dit te vier, sy slegs gelukkig sal wees wanneer die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) hul ondersoek na haar sal staak. Alhoewel die twee staatsagentskappe dit ontken, kan dit aangevoer word dat sy nie sodanige verklaring sonder geldige gronde sou gemaak het nie.
‘n Grondwetlike krisis ontstaan wanneer die Grondwet nie in staat is om probleme wat in die staat ontstaan, op te los nie, of wanneer die optrede van die staat – die Uitvoerende Gesag, die Wetgewer of die Regbank – nie met die voorskrifte van die Grondwet versoenbaar is nie.
Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (die SGR) verwelkom die eenparige beslissing van die Konstitusionele Hof in die gekombineerde sake van Economic Freedom Fighters (EFF) v The Speaker of the National Assembly and Others en Democratic Alliance (DA) v the Speaker of the National Assembly and Others. Die besluit is ‘n duidelike bevestiging van nie net die Oppergesag van die Reg nie, maar ook van die oppergesag van die Grondwet. Die eenparige besluit beklemtoon voorts die belangrikheid van die skeiding van magte in ‘n grondwetlike demokrasie, asook die noodsaaklikheid van wigte en teenwigte om teen die misbruik van mag te waak. Wat belangrik is, is dat die besluit duidelikheid bied oor die bindende aard van die Openbare Beskermer se regstellende stappe wat deur haar Kantoor aanbeveel word.
Op Maandag, 21 Maart word Suid-Afrika se Menseregtedag gevier. Die dag word uitgesonder om die nasie te herinner aan sy oorgang van apartheid na ‘n grondwetlike demokrasie wat gegrond is op die waardes van menswaardigheid, die behaling van gelykheid, en die behaling van menseregte en vryhede, asook nie-rassigheid en nie-seksisme. Die heerskappy van die Grondwet en die Oppergesag van die Reg word ook gewaarborg. ‘n Soortgelyke waarborg bestaan betreffende universele stemreg, ‘n nasionale algemene kiesersrol, gereelde verkiesings en ‘n veelpartystelsel van demokratiese regering, ten einde verantwoordbaarheid, ‘n responsiewe ingesteldheid en openheid te verseker.
Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) verwelkom die uitslag in die regering se appèlaansoek in die al-Bashir-saak, wat deur die Appèlhof van die hand gewys is, as as ‘n belangrike bevestiging van die oppergesag van die reg. Artikel 2 van die Grondwet bevestig die Oppergesag van die Grondwet en bepaal dat enige wet of optrede wat nie met die Grondwet ooreenstem nie, ongeldig is, en voorts dat verpligtinge wat deur die Grondwet daargestel word, uitgevoer moet word. Daar is geen uitsondering op hierdie verpligting nie.
Korrupsie het baie gedaantes. Dit sluit in die omkoop van staatsamptenare, staatsamptenare wat hul invloed of hul funksies of mag misbruik vir hul eie gewin, onwettige verryking en verduistering, wanbesteding of afleiding van eiendom. Korrupsie is natuurlik nie beperk tot openbare administrasie nie. Diesnieteenstaande berokken korrupsie in die staatsadministrasie veral skade aan demokratiese instellings, die ekonomie en die Oppergesag van die Reg.
Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (die SGR) verwelkom die vergadering wat onlangs tussen die Hoofregter as hoof van die regbank, en die President as hoof van die Staat plaasgevind het. Die vergadering, wat deur die Hoofregter, Hoofde van die Howe en senior regters in alle afdelings aangevra is, het ten doel gehad om die ongevraagde aanvalle deur sommige politici op die Regbank, asook die regering se klaarblyklike minagting van hofbevele aan te spreek.
Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (die SGR) verwelkom Hoofregter Mogoeng Mogoeng se ingryping in verband met die onlangse vlaag ongevraagde aanvalle op die integriteit en die onafhanklikheid van die Regbank deur senior lede van die Kabinet en die regerende party.