+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Die versuim om dit te doen, is teenstrydig met die plig om die kantoor van die Openbare Beskermer by te staan en beskerm ten einde sy onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid te verseker. Maar dit is nie al nie. Die Konstitusionele Hof het ook bevind dat die Nasionale Vergadering se versuim om die President verantwoordbaar te hou – deur te verseker dat hy die regstellende stappe teen hom nakom – teenstrydig is met sy pligte om die Uitvoerende Gesag te ondersoek en daaroor toesig te hou en om toesig te hou oor die uitvoering van die President se uitvoerende magte. Die Nasionale Vergadering het spesifiek versuim om aandag te skenk of in te gryp deur sy nakoming met die regstellende stappe te fasiliteer.

Die Openbare Beskermer het bewerings van onbehoorlike gedrag of onreëlmatige uitgawes betreffende die sekuriteitsopgraderings aan die private woning van die President in Nkandla ondersoek. Sy het bevind dat die President versuim het om in ooreenstemming met sy grondwetlike plig, asook sy etiese pligte, op te tree deur willens en wetens onbehoorlik deur die onreëlmatige besteding van Staatshulpbronne bevoordeel te word. In ooreenstemming met haar grondwetlike mandaat om toepaslike regstellende stappe te neem, het sy beveel dat die President, soos bygestaan deur sekere staatsorgane, ‘n proporsionele bedrag wat hom en sy familie op onbehoorlike wyse toegeval het, moet bepaal en betaal. Daarbenewens moet die President die Ministers wat by die projek betrokke was, vir verskeie oortredings teregwys.

Die Openbare Beskermer se verslag is aan die Nasionale Vergadering voorgelê ten einde dit in staat te stel om sy verantwoordelikheid vir toesighouding oor die President en die Uitvoerende Gesag uit te voer, en om die verslag se inwerkingstelling te verseker. Die Parlement het egter klaarblyklik eerder die President beskerm teen die beantwoording van vrae oor verantwoordbaarheid. Die Nasionale Vergadering het toe twee ad hoc-komitees, wat bestaan uit sy lede, ingestel om die Openbare Beskermer se verslag, asook enige ander verslae, met inbegrip van die een wat, ook op sy aandrang deur die Minister van Polisie opgestel is (lede van die opposisiepartye in die komitee het geweier om aan die verrigtinge deel te neem), na te gaan. Die Nasionale Vergadering het na oorweging van die verslag deur die Minister van Polisie, wat die President van aanspreeklikheid ontheffen, en ‘n verslag oor die selfde uitslag van sy tweede ad hoc-komitee, besluit om die President van alle aanspreeklikheid vry te spreek. Gevolglik het die President nie die regstellende stappe van die Openbare Beskermer nagekom nie. Dit is duidelik dat die Lede van die Parlement in die ad hoc-komitees in ooreenstemming met die opdragte van hul politieke party opgetree het, en versuim het om die ander kwessies wat geopper is, ter goeder trou te oorweeg.

Dit suggereer dat die Lede van die Parlement groter gewig aan hul politieke affiliasie heg, eerder as aan hul grondwetlike plig om die President verantwoordbaar te hou volgens die vereistes van die Grondwet. Terwyl dit te verwagte is dat alle politici aan hul politieke partye lojaal sal wees, moet sodanige lojaliteit versoenbaar wees met die Grondwet. Hierdie lojaliteit moenie afbreek doen aan die grondwetlike plig om die President verantwoordbaar te hou nie.

Die chaotiese tonele in die gesamentlike sittings van die huise van die Parlement spruit uit die Nasionale Vergadering se versuim om sy grondwetlike pligte uit te voer. Lede van die Parlement moet binne die perke van die wet optree en hul optrede moet aan die eise van die Grondwet voldoen. 

Lede van die Parlement moet in gedagte hou dat toesighouding oor die President se uitvoerende magte nie ‘n uitdaging van die magte van die regerende party is nie. Hierdie toesighouding verseker eerder ‘n gesonder, deursigtige en demokratiese proses van regeringsbestuur. Die grondwetlike plig om die President en die Uitvoerende Gesag verantwoordbaar te hou is nie teenstrydig met die partystelsel nie, so lank die partystelsel die oppergesag van die Grondwet erken.

Die Hof het nietemin gewaarsku dat die Nasionale Vergadering nie verplig is om verslae van enige instelling blindelings te aanvaar nie, maar dat dit ‘n belangrike plig het om homself oor die korrektheid van die Openbare Beskermer se bevindings en regstellende stappe te bevredig voordat die President verantwoordbaar gehou word. Die Grondwet gee voorts die Nasionale Vergadering verdere diskresie oor hoe om die toesighoudende funksie ten beste uit te voer.

In ooreenstemming met die idee van die skeiding van magte, het die Hof daarop gewys dat dit nie aan die Nasionale Vergadering kan voorskryf watter maatstawwe ingestel moet word in die ondersoekproses nie, en die Hof kan ook nie aan die Nasionale Vergadering ‘n mandaat gee oor hoe om die Uitvoerende Gesag verantwoordbaar te hou ten einde vir die Parlement om sy toesighoudende funksie uit te voer nie.

Die amptelike opposisieparty in die Parlement het sedertdien ‘n mosie ingedien wat ‘n beroep doen om die President in ‘n staat van beskuldiging te plaas in ooreenstemming met artikel 89(1)(a) van die Grondwet, wat verklaar dat die Nasionale Vergadering, ten opsigte van ‘n ernstige skending van die Grondwet of die reg, deur ‘n resolusie van twee-derdes van sy lede, die President uit sy amp kan verwyder. Dit moet in gedagte gehou word dat die Konstitusionele Hof die President se verweer verwerp het dat hy ter goede trou opgetree het op grond van verkeerde regsadvies. Die Hof het dit duidelik gemaak dat hierdie argument nie geopper kan word om aan die onwettige aard van sy optrede weg te skram nie.

Dit is die ideale geleentheid vir die Nasionale Vergadering om hiervoor te vergoed en om die nasie te red van ‘n dreigende grondwetlike krisis – met sy lede wat stem in ooreenstemming met grondwetlike voorskrifte, en nie op grond van klaarblyklike lojaliteit teenoor partye nie.

Om die besluit van die Hof te herhaal:

Sekere waardes in die Grondwet is as grondliggend tot ons demokrasie toegewys. Dit beteken weer dat dit as pilare van ons demokrasie nougeset nagekom moet word. Indien hierdie waardes nie nagekom word nie en nie nougeset uitgevoer word nie, sal ons ‘n reuse grondwetlike krisis ervaar. In ‘n Staat wat gegrond is op die strewe om die oppergesag van die reg te handhaaf, is dit noodsaaklik dat ieder en elk gedryf moet word deur ‘n morele verpligting om die voortgesette oorlewing van ons demokrasie te verseker.”        

Deur Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.

The FW de Klerk Foundation Annual Conference

The FW de Klerk Foundation Annual Conference – hosted in conjunction with the Konrad-Adenauer-Stiftung – took place on 31 January 2025. The theme of this year’s conference is: “South Africa’s Position in the World Today”.
 

 Esteemed speakers include Ambassador Andreas Peschke (Ambassador of the Federal Republic of Germany); Magda Wierzycka (CEO of Sygnia); Dr Harlan Cloete (Local Governance and Public Leadership – Research Fellow) and Johan “Rassie” Erasmus (Springbok Coach).