In die bitter geskil tussen die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, betreffende die sogenaamde “rogue”-eenheid van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Direktoraat vir Prioriteitsmisdade (die Valke), weier laasgenoemde om kommentaar te lewer oor Gordhan se pertinente reaksie op die vrae aan hom. In hierdie verband het hy daarop aangedring dat hulle (die Valke) geen rede het om hom te ondersoek nie en dat hul besluit om vrae aan hom te rig en dreigemente van weerwraak onwettig is.
Alhoewel beide die NVG en die Valke sodanige ondersoek na Madonsela ontken, opper dit wel ‘n sekere vraag. Oortree die Valke doelbewus hul jurisdiksie en word hulle deur sekere gewetenlose elemente of persone in politieke polemiek gebruik om Madonsela en Gordhan te diskrediteer? Die gedrag van Madonsela en Gordhan oor ‘n tydperk wys daarop dat hulle persone met integriteit is, in teenstelling met die omstrede generaal Berning Ntlemeza, wie se aanstelling as hoof van die Valke tans in die Hoë Hof deur die Helen Suzman-stigting betwis word.
Voorts is die Helen Suzman-stigting, in wat beskryf word as ‘geen gewone rooftog nie’, onlangs onderwerp aan ‘n klaarblyklik noukeurig georkestreerde gewapende roof, waartydens verskeie elektroniese toerusting gesteel is. Terwyl die SAPD steeds die rooftog ondersoek, suggereer die hoogs gesofistikeerde aard van die misdaad dat die Stigting geteiken is weens sy betrokkenheid by die litigasie.
In die grondwetlike krisis betreffende president Zuma, in die nasleep van die Nkandla-debakel en die daaropvolgende uitspraak deur die Konstitusionele Hof, blyk die Valke om op wraaksugtige wyse die saak van die President te bevorder deur diegene wat ongeregtigheid blootgestel het, te intimideer.
Indien dit wel die geval is – in die afwesigheid van enige ander rasionele verduideliking – dan is sodanige optrede, waar dit blyk of ‘n staatsorgaan soos die Valke of die NVG gebruik word om polities met iemand af te reken, die antitese van beide die Oppergesag van die Reg en die beginsels, filosofie en waardes verskans in die Grondwet. Dit is rede tot groot kommer, en die publiek en burgerlike samelewing moet op hul hoede wees. Ongelukkig het hierdie soort onwettige optrede onder die apartheidsregime plaasgevind en die destydse Suid-Afrikaanse veiligheidspolisie het hul magte misbruik en groot lyding en skending van regte tot gevolg gehad. Ons durf nie laat dit weer gebeur nie. Ons tragiese en traumatiese verlede moet ‘n waarskuwing vir ons wees, in die bestaande stelsel van liberale demokrasie wat voortbestaan, gebaseer op ‘n voorbeeldige Grondwet en ‘n progressiewe Handves van Regte.
Dit is van uiterste belang dat geen staatsorgaan die reg in eie hande kan neem nie. Geen sodanige staatsorgaan, hoe belangrik dit ook al mag wees, kan toegelaat word om op ‘n wyse op te tree wat teenstrydig met die reg of die Grondwet is nie. Dit is baie duidelik gemaak deur voormalige Hoofregter Chaskalson in die Fedsure Life Insurance-saak met die volgende woorde:
“It seems central to the conception of our constitutional order that the legislature and the executive in every sphere are constrained by the principle that they may exercise no power and perform no function beyond that conferred on them by law.”
Dit is baie duidelik uit die bostaande aanhaling dat geen staatsfunksionaris of staatsorgaan staatsmag vir enige ander doel as regmatige redes mag gebruik nie. Dit sal neerkom op ‘n skending van die Grondwet en die Oppergesag van die Reg, wat as ‘n grondliggende waarde in die Grondwet uiteengesit is. Indien dit sou gebeur kan dit op hersiening na die Howe gestuur word, wat die uiteindelike bewaarders van menseregte en die Grondwet in Suid-Afrika is.
Suid-Afrikaners, wat ‘n geloofwaardige demokratiese regeringstelsel daargestel het wat gebaseer is op die waardes van gelykheid en vryheid vir almal, teen ‘n groot koste, moet verseker dat dit beskerm word teen die plundering van diegene in die nuwe politieke liggaam wat korrup en gewetenloos is in die wyse waarop hulle staatsmag gebruik. Dit kan onder geen omstandighede gebruik word om polities met iemand af te reken of vir enige ander onwettige doeleindes nie.
Die koste van vryheid is inderdaad ewige waaksaamheid en diegene wat ‘n verantwoordelikheid in ons samelewing het om die Grondwet en sy waardes te onderhou moet voortdurend op hul hoede wees. Die universele regte en waardes in die Grondwet is nie self-uitvoerend nie, maar moet opgeëis en gehandhaaf word deur diegene wat deur die skending of daarvan geraak word.
Hierdie artikel is onafhanklik geskryf deur ‘n Vennoot van die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) en verteenwoordig die mening van die skrywer. Dit verteenwoordig nie noodwendig die mening van die SGR, sy personeel of sy Paneel van Kundiges nie. Die SGR is egter verbind tot ‘n breë openbare dialoog wat die beskerming en bevordering van die waardes, regte en beginsels wat in die Grondwet verskans is, ten doel het.
*George Devenish is ‘n Emeritusprofessor aan die Universiteit van KwaZulu-Natal en een van die geleerdes wat gehelp het om die tussentydse Grondwet in 1993 op te stel. Professor Devenish is ook ‘n lid van die SGR se Paneel van Kundiges.