Na afloop van die klagte wat die SGR by die SAMRK in Julie 2011 ingedien het, het die SAMRK bevind dat verskeie van mnr Maxwele se regte geskend is, met inbegrip van sy menswaardigheid, die vryheid en sekerheid van sy persoon en sy regte as aangehoudene, soos in die Grondwet verskans word. Aanbevelings om die bogenoemde aan te spreek is na die Minister van Polisie gestuur. Die Minister het versuim om die vermelde aanbevelings na te kom en het appél teen die bevindings aangeteken. Die SAMRK het die appél van die hand gewys en by sy bevindings gehou. Die aangeleentheid is toe deur die Minister op hersiening na die Suid-Gautengse Hoë Hof gestuur. Die Hof het die aansoek om die bevindings van die SAMRK te hersien, van die hand gewys.
Die aanbevelings wat na die Minister en lede van die Spesiale Beskermingseenheid gestuur is, vereis dat hulle erken dat hulle die oppergesag van die Grondwet en die Heerskappy van die Reg in ooreenstemming met die Grondwet aanvaar. Voorts het die verslag die Staat se plig benadruk om die regte in die Handves van Regte te respekteer, beskerm, bevorder en uit te voer. Die SAMRK het ook aanbeveel dat die Minister die stappe kragtens artikel 199(5) van die Grondwet moet aandui ten opsigte van wat die SAPD sy lede leer en wat dit van sy lede vereis – en spesifiek die lede van die Eenheid – betreffende optrede in ooreenstemming met die Grondwet en die reg.
In 2014, ná die Minister se versuim om die bogenoemde aanbevelings na te kom en samewerking in hierdie verband te gee, het die SAMRK ‘n brief by die Speaker van die Nasionale Vergadering ingedien waarin sy van die bogenoemde in kennis gestel is en waarin sy gevra is om in te gryp ten einde die Minister se nakoming van die aanbevelings te verseker. Gevolglik het die Minister in ‘n brief aan die SAMRK die plig van die SAPD, as deel van die Staat, se plig erken om die regte in die Handves van Regte te respekteer, beskerm, bevorder en om dit uit te voer. Hy het ook die bestaan erken van polisiebeamptes wat nie in ooreenstemming met die Grondwet en die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens optree nie. Hy het die SAMRK verseker dat die Nasionale Kommissaris van Polisie oorweging sou skenk aan die wyse waarop die aanbevelings ingestel sou word. Die Minister het ook ‘n geskrewe verskoning aan mnr Maxwele gerig.
Die SAMRK het voorts ‘n komitee van kundiges kragtens artikel 11 van die Wet op die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor Menseregte in Wetstoepassing ingestel, waarheen die Nasionale Kommissaris van Polisie uitgenooi is en wat hy bygewoon het. Voorts het die SAPD en die SAMRK in 2014 vergader en menseregte in polisiëring bespreek. Daar is ooreengekom op ‘n Memorandum van Verstandhouding en dit is vroeg in 2015 onderteken. Die SAMRK se komitee het ook skakeling van komitees van kundiges gefasiliteer oor die voorkoming van marteling. Sedert die Memorandum van Verstandhouding onderteken is, is verskeie vergaderings gehou ten einde die verbetering van basiese opleiding vir die SAPD te verseker. Dit het gelei tot die byeenkoms van ‘n operasionele groep in 2015, bestaande uit senior bestuur van die SAPD, die SAPD-akademie en die SAMRK.
Terwyl die aangeleentheid afgehandel is, het die SAMRK onderneem om voort te gaan met ingrypings ten opsigte van die SAPD se opleiding en die monitering van polisie se optrede. Dit is ‘n welkome maatreël aangesien hierdie voorval nie ‘n geïsoleerde een is nie. Polisiewreedheid of die gebruik van oormatige geweld deur die SAPD is niks nuuts nie. Die dood van stakende werkers by Marikana is moontlik die mees ontnugterende voorbeeld hiervan. In die verslag van die Marikana-kommissie (wat ingestel is om die tragiese gebeure te ondersoek wat by die Lonmin-myn in Marikana plaasgevind het), word daarop gewys dat die optrede van die polisie in Suid-Afrika nie aan internasionale standaarde voldoen nie. Dit is in hierdie gees wat die Witskrif oor Polisie (steeds in konsepvorm) ‘n beroep doen om die toepassing van ‘n menseregte-beleid.
Hieride bevinding is ‘n goeie voorbeeld van die rol van Hoofstuk 9-instellings oor die bewaring van ons demokrasie. Organisasies soos die SGR wat streef om die Grondwet te handhaaf, lewer ‘n bydrae in hierdie verband. Ook, met die onlangse bevinding deur die Konstitusionele Hof in Economic Freedom Fighters v Speaker of the National Assembly en Others; Democratic Alliance v Speaker of the National Assembly and Others, betreffende die aanbevelings deur die kantoor van die Openbare Beskermer in gedagte, is dit die moeite werd om aandag aan die bogenoemde te skenk. Hoofstuk 9-instellings is belangrik en dien as waghonde van ons demokrasie en die Handves van Regte. Hul bevindings moet met groot respek behandel word. Die saak is bewys daarvan dat alhoewel die stelsel soms stadig en burokraties mag wees, dit wel werk.
Deur Rebecca Sibanda: Regsassistent, Sentrum vir Grondwetlike Regte