Die Grondwet verplig voorts die staat om die regte in die Handves van Regte te respekteer, beskerm, bevorder en verwesenlik. Gevolglik bied die dag die geleentheid om terug te kyk na 2015, om te vra hoe die staat vaar wat sy grondwetlike verpligtinge teenoor sy burgers betref.
Die behaling van gelykheid is steeds ‘n ontwykende doelwit, met Suid-Afrika se Gini-koëffisiënt van 0.66, op van verlede jaar se 0.596. Dit dui op ‘n hoogs ongelyke samelewing, met sommige verslae wat Suid-Afrika aanwys as een van die mees ongelyke samelewings in die wêreld. Daar is wetgewing soos die Wet op Billike Indiensneming, wat ten doel het om groter gelykheid in die werkplek te verwesenlik. Die streng gebruik van kwotas in die werkplek ten einde uitvoering aan die wetgewing te gee – veral in die staatsdiens – is uitgedaag in gevalle waar dit gelei het tot ‘n absolute hindernis vir indiensneming, of vir die vooruitgang van sekere groepe wat nie binne die aangewese groepe van die Wet op Billike Indiensneming val nie.
Die misdaadkoers is steeds onaanvaarbaar hoog, ten spyte van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se statistieke wat dui op ‘n afname in die vlakke van geweldsmisdade, in vergelyking met die afgelope dekade. Dit raak die mate waarin Suid-Afrikaners ander regte kan uitoefen en sekere vryhede kan geniet, soos die reg op vryheid en sekuriteit van die persoon, asook die reg op vryheid van beweging en verblyfreg. Die vlakke van geweld teen kinders en vroue, asook lesbiese, gay, biseksuele, transeksuele en interseksuele individue is ook uiters hoog.
Die Parlement se versuim om die Uitvoerende Gesag in noemenswaardige gevalle tot verantwoording te bring, beteken dat die staat versuim om aan die bepaling te voldoen dat die nasie se grondliggende waardes ‘n regering noodsaak wat verantwoordbaar, responsief en oop is. Die klaarblyklike politieke inmenging in verskeie liggame soos die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die SAPD ondermyn die vermoë van hierdie liggame om hul grondwetlike mandaat na te kom. Die swak prestasie van verskeie semi-staatsinstellings raak ook die vermoë van Suid-Afrikaners om sommige sosio-ekonomiese regte te geniet.
Die droogte, glo Suid-Afrika se ergste in dekades, raak die reg op voldoende voedsel en water. Dit, teen die agtergrond van verswakkende ekonomiese omstandighede vir die land. Ons sal nog moet sien hoe ander sosio-ekonomiese regte geraak sal word. Terwyl grondhervorming ‘n grondwetlike imperatief is, is dit ‘n toenemende bron van kommer die hoeveelheid wetgewing en beleide wat oënskynlik vir grondhervoming bedoel is, terwyl dit in werklikheid die eiendomsregte van alle Suid-Afrikaners raak.
Suid-Afrikaners geniet ‘n relatief vrye pers en Suid-Afrikaners is, oor die algemeen, in staat om hul menings vrylik uit te druk. Meer kinders as ooit tevore het toegang tot basiese onderwys, alhoewel daar steeds kommer is oor die gehalte van sodanige onderwys. Die howe, veral die Konstitusionele Hof, verwerp steeds wetgewing wat nie aan grondwetlikheid voldoen nie, asook enige ander optrede deur die Uitvoerende Gesag wat nie aan die Grondwet se vereistes voldoen nie. Hoofstuk 9-instellings, met inbegrip van die Openbare Beskermer se Kantoor, en tot ‘n sekere mate die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, voer hul mandaat uit om demokrasie te verdiep deur kanale daar te stel waardeur Suid-Afrikaners hul toevlug kan neem betreffende menseregteskendings of onbehoorlike optrede deur die staat.
Uiteindelik is die Handves van Regte steeds die bloudruk waardeur die Grondwet se strewe na versoening, eenheid in diversiteit, nie-rassigheid, verbeterde lewensgehalte en die potensiaal van elke Suid-Afrikaner behaal en verwesenlik kan word.
Deur Phephelaphi Dube; Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte