Die saak spruit uit die Openbare Beskermer se opdrag betreffende regstellende stappe waarvolgens die President, bygestaan deur sommige staatsdepartemente, ‘n gedeelte van die onbehoorlike voordeel wat die President en sy familie uit sy Nkandla-aftreewoning getrek het, moet bepaal en terug betaal. Dít na opgraderings aan sy woning gebring is wat nie met sekuriteit verband hou nie, met inbegrip van ‘n besoekersentrum, ‘n swembad en ‘n hoenderhok. Daarbenewens is die President ook opdrag gegee om die Ministers wat by die projek betrokke was, vir hul spesifieke onreëlmatighede te berispe. Die Openbare Beskermer se Verslag is aan die President en die Nasionale Vergadering voorgelê ten einde die regstellende stappe in te stel. Dit het nie gebeur totdat die EVV en die DA die Konstitusionele Hof genader het nie.

Die hoofvraag wat voor die Hof gedien het is die presiese aard van die Openbare Beskermer se mag om regstellende stappe voor te skryf. Hierop het die Hof bevind dat die magte van die Openbare Beskermer om regstellende stappe in te stel ‘n regsuitwerking het en bindend is. Gevolglik kon die President en die Nasionale Vergadering nie optree asof die regstellende stappe nie van krag is nie, tensy die regstellende stappe deur ‘n hof ter syde gestel is. Geen sodanige regsgeding is ingestel nie. Die Hof het dus bevind dat die Nasionale Vergadering se besluit (gebaseer op die Minister se bevindings), wat die President van aanspreeklikheid vryspreek, strydig met die Grondwet is en dus onwettig is.

Die Hof het ook bevind dat, deur nie die Openbare Beskermer se bevel na te kom nie, die President versuim het om die Grondwet te “handhaaf, verdedig en respekteer” in ooreenstemming met artikel 83, aangesien die onus om die geld terug te betaal spesifiek op hom geplaas is deur die Openbare Beskermer se grondwetlike mag. Die Hof het voorts verklaar dat die President en die Nasionale Vergadering se optrede strydig met hul grondwetlike verpligtinge is. Dit is ook die plig van die Nasionale Vergadering om toesig te hou oor die uitvoerende gesag en sy grondwetlike verpligtinge en om alle staatsorgane tot verantwoording te bring. Die Nasionale Vergadering se versuim om dringend aandag te skenk aan die President se nakoming met die regstellende stappe – of om in te gryp deur fasilitering – ‘n skending is van die Nasionale Vergadering se plig om optrede deur die uitvoerende gesag te ondersoek en daaroor toesig te hou.

Die belangrikheid van die besluit kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die besluit – wat spruit uit ‘n uitdaging deur die twee hoof opposisiepartye oor die optrede van ‘n sittende Parlement en die regerende party – handel nie net oor party-politiek nie. Die besluit strek ook verder as die Openbare Beskermer se rol in ‘n grondwetlike demokrasie en die geskiktheid van ‘n spesifieke individu vir die presidensiële amp… Die besluit het eerder betrekking op die nasie se grondliggende waardes. Dit beantwoord belangrike vrae oor wat dit beteken om oor Oppergesag van die Grondwet en Oppergesag van die Reg te beskik, en wat die vereistes is vir verantwoordbare, responsiewe en oop regeringsbestuur.

Deur Me Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Foto: mg.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published.