Die Regbank het ‘n grondwetlike plig om die Grondwet te onderhou, om die wet kragtens die Grondwet uit te lê en enige wet of optrede wat nie aan die Grondwet of die reg voldoen nie, ongeldig te verklaar. Gevolglik en desnieteenstaande die leerstelling van die skeiding van magte, is die Regbank die finale gesag ten opsigte van die uitleg van die Grondwet en die reg. Geen persoon of staatsorgaan mag inmeng met die funksionering van die Howe nie, en alle staatsorgane, by wyse van wetgewende en ander maatreëls, die Howe bystaan en beskerm ten einde die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid, toeganklikheid en doeltreffendheid van die Howe te verseker. Daarbenewens bind ‘n besluit deur die Hof alle persone en staatsorgane op wie dit van toepassing is.
Die vergadering was duidelik ‘n geleentheid vir die Hoofregter om die idee van regterlike gesag en die Oppergesag van die Reg, wat in die Grondwet verskans is, weer te bevestig. Die feit dat dit nodig was vir die Hoofregter om sy boodskap aan die President en die Uitvoerende Gesag oor te dra, is egter om verstaanbare redes kommerwekkend.
Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: GovernmentZA / Foter / CC BY-ND