In die openingspragaraaf van die voorwoord van die Verenigde Nasies se Konvensie teen Korrupsie (UNCAC) (waartoe Suid-Afrika ‘n party is), het die destydse VN Sekretaris-generaal, Kofi Annan, beklemtoon dat korrupsie demokrasie en die Oppergesag van die Reg ondermyn, lei tot die skending van menseregte, markte verwring, lewensgehalte erodeer en toelaat dat georganiseerde misdaad, terrorisme en ander bedreigings vir die sekuriteit van die mense floreer. Of dit nou gemeet word in rande of sente, of die uitwerking op mense se lewens, kom korrupsie teen ‘n baie groter koste as die omkoopgeld wat betaal en ontvang word. Korrupte amptenare – afgesien van onwettige persoonlike verryking ten koste van hul medeburgers – is ook direk en indirek verantwoordelik vir die baie probleme waarna Kofi Annan verwys. Gevolglik is dit belangrik dat die regering – veral lede van die kabinet en senior staatsamptenare – die voorbeeld stel wanneer dit kom by die stryd teen korrupsie. Dit is belangrik vir die regering om die bepalings van UNCAC na te kom – insluitend om te verseker dat Suid-Afrika oor ‘n voldoende onafhanklike teen-korrupsie-agentskap beskik wat in staat is om selfs die mees senior politici en amptenare doeltreffend te ondersoek. Staatsamptenare (enige persoon wat ‘n wetgewende, uitvoerende, administratiewe of regterlike amp beklee) moet hulle egter nie aan korrupsie skuldig maak nie, ongeag of hulle iemand probeer omkoop, en of hulle omgekoop word.
Korrupsie funksioneer op die grondslag van vraag en aanbod: iemand het die mag om iets te doen, iets te verander of ‘n uitkoms te verseker of die ander pad te kyk, en iemand anders is gewillig om vir toegang tot sodanige mag te betaal. Gevolglik, vir so lank as wat individue bereid is (en dikwels aanbied) om omkoopgeld te betaal, sal daar staatsamptenare wees wat gewillig en in staat is om onverdiende voordeel te aanvaar in ruil daarvoor om op te tree of nie op te tree wat die uitvoering van hul amptelike dienste betref nie. Dit kan so eenvoudig wees as om ‘n parkeerkaartjie te vermy of die lewering van ‘n permit of paspoort te versnel. Dit kan ook so ingewikkeld wees as die verkryging van winsgewende staatstenders ter waarde van miljoene rande, of die manipulering van die strafregstelsel en die regstelsel. Ongeag die wyse waarop dit manifesteer, die belofte, aanbied of gee van enige direkte of indirekte onregverdige voordeel aan ‘n staatsamptenaar of ander persoon soos ‘n familielid of vennoot in ruil vir ‘n “guns”, van sodanige amptenaar is nie net onwettig nie, maar vestig ook die kultuur van korrupsie uit aangesien dit korrupte amptenare aanmoedig om voort te gaan met hul onwettige praktyke.
Merkwaardig genoeg het ‘n onlangse studie deur die Etiek-instituut van Suid-Afrika daarop gewys dat ten minste 75% van Suid-Afrikaners wat vir omkoopgeld gevra is, dit toe betaal het, en dat ten minste 26% van respondente weet van iemand wat in die afgelope jaar om omkoopgeld gevra is. Dit blyk of ons eerder gerieflikheidshalwe die feit ignoreer dat beide die geval waar ‘n enkele amptenaar omgekoop word vir ‘n “klein gunsie”, sowel as die betrokkenheid by ‘n skema ter waarde van miljoene rande ten einde die guns van diegene in magsposisies te koop, ewe veel bydra tot ‘n korrupte samelewing en die vestiging van korrupte praktyke as die norm.
Ons moet beter doen. Eis van die regering om alles in sy mag te doen om korrupsie sonder vrees of begunstiging te voorkom, onderdruk en te vervolg. Maar eis egter ook dat elke persoon in Suid-Afrika ophou om omkoopgeld te betaal, aan te bied of te aanvaar. Rapporteer diegene wat omkoopgeld betaal (en veral diegene wat daaroor spog) aan die owerhede so entoesiasties soos wat hulle die omkoopgeld aangebied of betaal het. Streef na ‘n samelewing wat vry is van korrupsie deur die voorbeeld te stel.
Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte