ARTIKEL: HET DIE STATE OF CAPTURE-VERSLAG DIE PRESIDENT VAN SY MAGTE ONTNEEM?
‘n Vraag het ontstaan oor of die Openbare Beskermer die President regtens kan dwing om ‘n kommissie van ondersoek in te stel, aangesien die instelling van kommissies van ondersoek, kragtens die Grondwet, alleenlik die prerogatief van die President is.
Verskeie wetlike owerhede het reeds die mening uitgespreek dat die Openbare Beskermer die skeiding van magte geskend het deur die President te beveel om, binne 30 dae, ‘n kommissie van ondersoek in te stel, onder leiding van ‘n regter wat alleenlik deur die Hoofregter aangewys is, wat een naam aan die President sal verstrek. Indien ‘n hof ook tot hierdie gevolgtrekking kom, sal daardie aspek van die State of Capture-verslag nietig wees. Die leerstelling van die skeiding van magte is ‘n belangrike deel van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie. Die leerstelling beteken dat die Grondwet vereis dat howe verseker dat al die takke van die regering binne die grense van die reg optree. Nietemin moet die howe ook toegee aan die uitsluitlike domein van die uitvoerende en wetgewende takke van die regering, tensy die Grondwet die inbraak toelaat.