Kragtens die Statuut van Rome sal Suid-Afrika se onttrekking van die ISH slegs in werking tree ‘n jaar nadat die Sekretaris-generaal van die VN die kennisgewing ontvang het. Dieselfde Statuut van Rome bepaal voorts ook dat Suid-Afrika nie heeltemal vry van sy verpligtinge teenoor die Hof sal wees nie. Dit beteken dat Suid-Afrika steeds aanspreeklik sal wees vir enige uitstaande fooie as deel van sy bydrae tot die funksionering van die ISH. Volgens die Statuut van Rome is Suid-Afrika steeds verplig om met die Hof saam te werk betreffende enige aangeleenthede wat ‘n aanvang geneem het voor die datum van onttrekking. Dit beteken dat Suid-Afrika steeds ‘n plig teenoor die ISH het ten opsigte van die al-Bashir-aangeleentheid, waarvoor ‘n lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik is. ‘n Lasbrief vir inhegtenisneming is ook hangende in Suid-Afrika, en tensy ‘n hof die bevel as ongeldig beskou, of die bevel uitgevoer word met die inhegtenisname van al-Bashir, is die lasbrief vir inhegtenisneming steeds geldig. Net so beklemtoon die besluit deur die Konstitusionele Hof in National Commissioner of the South African Police Service v Southern African Human Rights Litigation Centre and Another die beginsel van internasionale reg dat ingevolge internasionale reg en die Implementeringswet, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verplig is om bewerings van marteling wat in Zimbabwe gepleeg is deur en teen Zimbabwiese burgers te ondersoek, ten spyte daarvan dat geen van die verdagtes in Suid-Afrika is nie.

Indien die Suid-Afrikaanse regering voortgaan met sy besluit om van die ISH te onttrek, sal die volgende stap wees om die Implenteringswet te herroep. Tensy nuwe wetgewing ingestel word wat die Implementeringswet herroep, hetsy gedeeltelik of heeltemal, dan is dit steeds van krag in Suid-Afrika. Die Implementeringswet bepaal dat wanneer ‘n wet enige vorige wet gedeeltelik of heeltemal herroep, die wet wat herroep is steeds van krag is totdat die nuwe bepalings in werking tree.

In elke geval maak die Grondwet dit verpligtend vir die howe dat wanneer die reg uitgelê word, die internasionale reg ook oorweeg moet word. Gevolglik sal dit moeilik vir Suid-Afrika wees om heeltemal van die eise van internasionale geregtigheid ontslae te raak, selfs indien die Staat nie noodwendig aan dieselfde internasionale wette wil onderskryf nie.

Suid-Afrika sluit aan by Burundi (waar die ISH tans oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom ondersoek) deur stappe te doen om van die ISH te onttrek. Kenia het ook gedreig om van die ISH te onttrek nadat die ISH President Uhuru aangekla het vir sy vermeende rol in die dodelike geweld na die verkiesings in 2007. Dit is in hierdie geselskap wat Suid-Afrika hom tans bevind. Die Afrika-unie (AU) het ook in die verlede gedreig oor die en masse onttrekking van Afrika-state van die Hof, en het dieselfde redes as Suid-Afrika uitgewys in sy kennisgewing van onttrekking van die Hof. Die Afrika-hof, wat deur die Afrika-handves oor Mense- en Volkeregte ingestel is, het slegs jurisdiksie oor die 26 lande wat die maatstaf wat die Hof ingestel het, bekragtig het. Die Afrika-hof het hoofsaaklik jurisdiksie oor menseregte-aangeleenthede en nie oor internasionale strafreg nie, anders as die ISH. Ten spyte daarvan dat Afrika-state die Malabo-protokol in 2014 aanvaar het ten einde oortredings betreffende internasionale strafreg by die jurisdiksie van die Afrika-hof in te sluit, het die Malabo-protokol nog nie in werking getree nie aangesien geen Afrika-staat dit bekragtig het nie.

Tot op hede beskik geen Afrika-hof oor dieselfde jurisdiksie as die ISH nie, wat nog meer rede is vir Afrika-state, met inbegrip van Suid-Afrika, om deel van die ISH te bly. Daar vind steeds ernstige skending van menseregte in baie dele van die wêreld plaas, met oortreders wat grootliks ongestraf gelaat word. Gevolglik is die ISH ‘n belangrike tribunaal waardeur daar ‘n einde aan die straffeloosheid gemaak kan word.  Terwyl Suid-Afrikaanse howe steeds vir tyd en wyl oor sake kan waarneem wat internasionale strafreg behels, al is dit sonder die invloed van die Statuut van Rome, gooi die besluit om van die Statuut van Rome te onttrek waarskynlik ‘n skaduwee oor Suid-Afrika se verbintenis tot die beëindiging van kommer oor internasionale menseregte. 

Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.