Voor die vergadering het die Komitee die Raad van die SAUK voorsien van ‘n lys vrae waarop hulle moes antwoord. By die vergadering het die Komitee geluister na die voorlegging wat deur die Raad saamgestel is en deur sy Voorsitter, professor Mbulaheni Maguvhe, aangebied is. Toe dit tyd is vir die Lede van die Parlement om vrae te vra, was dit duidelik dat die Komitee nie deur die antwoorde wat deur die Raad voorgehou is as verskonings vir die toestand waarin die Uitsaaier hom bevind, oortuig kon word nie. Twee weke gelede het die Appèlhof Motsoeneng se aansoek om verlof tot appèl teen die bevinding van die Hoë Hof dat sy aanstelling as Hoof Bedryfsbeampte ongeldig en irassioneel is, geweier. Net dae nadat die beslissing gelewer is, is Motsoeneng in sy huidige pos aangestel. Dit ten spyte van die gebrek aan ‘n interne of eksterne advertensie vir die pos, en sonder dat enige aansoek van Motsoeneng ontvang is. Trouens, Bessie Tugwana, wat daardie pos beklee het, is Motsoeneng se pos as Hoof Bedryfsbeampte aangebied. Op die oog af is hierdie optrede verdag.

Toe vrae gestel is oor die proses wat met betrekking tot die nuwe aanstelling gevolg is, is die Komitee meegedeel dat alhoewel die Hof verklaar het dat Motsoeneng se aanstelling as HBB ongeldig en onwettig was, dit nie die Uitsaaier verhoed om Motsoeneng in ‘n ander pos by die openbare instelling aan te stel nie. Voorts het die Raad aangevoer dat die beslissing nie Motsoeneng se ontslag as werknemer van die Uitsaaier vereis nie. Dit is onlogies dat, ná negatiewe bevindings deur beide ‘n Hoofstuk 9-instelling sowel as drie hofbeslissings – waarvan een die bindende aard van die aanbevelings van die Openbare Beskermer bevestig het – die bedoeling Motsoeneng se voortgesette indienseming by die SAUK was. Dit is belangrik om nie net die letter van die betrokke besluite te volg omdat hulle bindend is nie, maar ook die gees daarvan. Die oënskynlike skuiwergate waarna die SAUK probeer gryp, dui op ‘n giftige oneerbiedigheid vir die oppergesag van die reg en die heerskappy van die Grondwet. Die Grondwet vereis in artikel 165 dat staatsorgane soos die SAUK help om die doeltreffendheid van die howe te beskerm. Die wyse waarop die SAUK hierdie besluite geïgnoreer het, is in stryd met hierdie verpligting.

Motsoeneng se pos by die SAUK is nie die enigste twispunt nie. Sy optrede gedurende sy termyn verontagsaam ook die beginsels van goeie regeringsbestuur en verantwoordbaarheid soos in die Grondwet verskans word. Daar was onprosedurele toelae ten opsigte van verdienste vir hom en ander amptenare van die SAUK, onreëlmatige en onwettige besluite deur sy kantoor, onwettige inmenging by die funksies van die SAUK deur die Minister van Kommunikasie, en die verkleinering van die bevestigde magte van die Kantoor van die Openbare Beskermer en besluite van die Regbank. Dit is duidelik dat Motsoeneng geen voorneme het om (selfs) die letter van die wet te volg met betrekking tot sy bedrywighede by die SAUK nie.

Die onverwagte bedanking van twee nie-uitvoerende raadslede – Krish Naidoo en Vusi Mavuso – by die vergadering, wat separatisme en uitsluiting uitgewys het as van die probleme wat hulle op die Raad ervaar het, is ‘n aanduiding van die wanfunksionaliteit wat die Uitsaaier teister. Voorts beteken hul uittrede uit die Raad dat die Raad nie meer ‘n kworum het kragtens die bepalings van die Uitsaaiwet (die Wet) nie. Artikel 15 van die Wet maak voorsiening vir die verwydering van Raadslede uit hul ampte. Dit wys op onvermoë om hul pligte doeltreffend uit te voer as een moontlike rede vir sodanige verwydering. Uit die onlangse gebeure is dit duidelik dat daar ‘n gebrek is aan funksionaliteit by die SAUK. Dieselfde artikel maak voorsiening vir ‘n ondersoek om ingestel te word voordat Raadslede verwyder word, en dit is ingevolge hiervan dat die Komitee die Parlement genader het om ondersoek in te stel na die bevoegdheid van die oorblywende Raadslede.

Artikel 13(4)(a) van die Wet bepaal dat Raadslede persone moet wees wat geskikte persone moet wees op grond van, onder andere, hul kwalifikasies. Subartikel (b) van dieselfde artikel vereis van hierdie lede om verbind te wees tot regverdigheid, vryheid van uitdrukking, die reg van die publiek om ingelig te wees, en openheid en verantwoordbaarheid van diegene wat openbare ampte beklee. Hierdie waardes is nie deur die huidige Raad gehandhaaf nie – van die aandrang dat die media hulle daarvan weerhou om verslag te doen oor die gebeure rondom die probleme by die SAUK, tot die weiering om finansiële dokumente te publiseer, asook besonderhede van Motsoeneng se tugverhoor.

Dit is kommerwekkend dat die SAUK aanhoudend daaraan herinner moet word dat dit ‘n openbare instelling is wat verplig is om ingevolge artikel 195 van die Grondwet sy funksies op deursigtige wyse uit te voer. Daarbenewens, in teenstelling met die optrede van die Raad van die SAUK, word daar ook van die SAUK verwag om aan die Parlement verslag te doen wanneer dit vereis word. Die voortgesette verdediging van Motsoeneng – ten spyte van al die bewyse teen hom – deur die oorblywende Raadslede, asook die Minister, wys op ‘n bedreiging vir die grondwetlike standaard wat daargestel is wanneer ‘n openbare instelling bedryf word. Daar moet gewaarsku word teen die oneerbiedigheid van parlementêre gesag, selfs na die spesiale vergadering tussen die betrokke individue. Die eenheid wat egter ten toon gestel is deur die Lede van die Parlement van verskillende politieke partye wat op die Komitee dien, is prysenswaardig. Dit dien tot ‘n mate as versekering dat op ‘n tydstip waar die toekoms van ons demokrasie daagliks uitgedaag word, die oppergesag van die reg en die Grondwet nie sonder gevolge verontagsaam kan word nie.

Deur Rebecca Sibanda: Regsassistent, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.