Gevolglik, betreffende die State of Capture-verslag – moet die vraag gevra word oor of, gegewe die feit dat die President verantwoordelik is vir die aanstelling van kommissies van ondersoek – die Openbare Beskermer kan aanbeveel dat die President ‘n kommissie van ondersoek instel, wat onder leiding van ‘n regter is wat alleenlik deur die Hoofregter aangewys is.

Dit is waarskynlik ondenkbaar dat die Grondwet onbelemmerde diskresie met betrekking tot die uitoefening van mag sou toelaat – sekerlik moet daar sekere wigte en teenwigte wees wat verseker dat sodanige openbare mag nie net op regmatige wyse uitgeoefen word nie, maar ook op ‘n wyse wat tot voordeel is van die oop, deursigtige en verantwoordelike grondliggende waardes van die nasie. Sekere sake waaroor die howe in die verlede beslis het, sal beslis die beginsel steun dat redelike beperkings geplaas kan word op presidensiële magte wat deur die Grondwet verleen is, waar dit in die openbare belang is.

Die magte van die President in artikel 84(2) van die Grondwet blyk nie om uitdruklike beperkings op die uitoefening daarvan te plaas nie. Nietemin word die uitoefening van magte beperk deur die legaliteitsbeginsel en voorts ook duidelik deur die Grondwet in dié sin dat die President ter goeder trou moet optree en nie magte moet uitoefen of funksies verrig buiten dit wat in die wet vervat word nie. Dit is verklaar deur die Konstitusionele Hof in President of the Republic of South Africa and Others v South African Rugby Football Union and Others.  

Gevolglik blyk dit of die howe, op die heel minste, die gronde van rasionaliteit, die magte wat deur die President uitgeoefen word, kan hersien – soos verklaar is in Democratic Alliance v President of South Africa and Others, indien daarop gewys kan word dat die President versuim het om aandag te skenk aan die tersaaklike kwessies soos deur natuurlike geregtigheid geëis word. Die President kan gedwing word, ten minste deur die howe, om rasioneel op te tree wanneer ‘n mag kragtens artikel 84 uitgeoefen word. Gegewe die Konstitusionele Hof se menings oor die Openbare Beskermer se magte in Economic Freedom Fighters v Speaker of the National Assembly and Others; Democratic Alliance v Speaker of the National Assembly and Others, sal die President heel moontlik moet wys waarom dit, gegewe die State of Capture-verslag, NIE rasioneel sal wees om ‘n kommissie van ondersoek in te stel nie.

Daar is selfs meer oorwegings oor waarom die openbare belang die President se prerogatief moet oortref. Deur ‘n kommissie van ondersoek in te stel is dit vanselfsprekend belangrik dat die kommissie absoluut geloofwaardig moet wees en dat daar dus geen teken van partydigheid moet wees nie. Dit sal onmoontlik wees indien die President, wat betrek word in die State of Capture-verslag, die plig opgelê word om ‘n regter aan te stel om die kommissie van ondersoek te lei. Dit is vanselfsprekend dat indien die President die kommissie van ondersoek sou instel, dit ‘n ingeboude vooroordeel sou wees om die geloofwaardigheid van die kommissie te ondermyn. Die Latynse regsfrase “Nemo judex in sua causa” – niemand kan ‘n regter in sy eie saak wees nie – is duidelik in hierdie konteks. Dit is dus waarskynlik nodig dat die mag gedelegeer word ten einde die integriteit van die kommissie te beskerm.

Voorts is daar weens die omstandighede waaronder die the State of Capture-verslag saamgestel is, ‘n behoefte dat die kommissie finaliteit bied oor die ondersoeke wat deur die voormalige Openbare Beskermer onderneem is. Soos die Openbare Beskermer self in die Verslag genoem het, verplig die Executive Ethics Act haar om enige beweerde skending van die Uitvoerende Etiekkode te ondersoek, en daarna, binne 30 dae, ‘n verslag aan of die President, of die Premier te oorhandig, afhangend van die aard van die klagte. Dit is wel bekend dat die Openbare Beskermer op daardie tydstip se termyn op 14 Oktober tot ‘n einde gekom het. Dit blyk of daar weens die gegewe tydraamwerke en volume van ondersoeke wat ingestel moes word, nie genoeg tyd sou wees om bindende statutêre stappe in te stel wat die toets van die howe sou kon slaag nie. Gevolglik maak die State of Capture-verslag nie spesifieke bevindinge nie, maar eerder aanbevelings oor die aanstelling van ‘n kommissie van ondersoek. Die kommissie van ondersoek sal dan op ‘n geregtelike feitesending wees op ‘n hoë vlak van bevoegdheid, gebaseer op die State of Capture-verslag se prima facie-evaluering.

Wat egter steeds onduidelik is, is of die Openbare Beskermer, kragtens die Wet op Kommissies, die bepalings van die kommissie kan voorskryf, wat sy klaarblyklik in die State of Capture-verslag doen. Miskien sal die howe hieroor duidelikheid moet gee.

Wat wel duidelik is, is dat niemand in die ietwat idilliese dae toe die Grondwet opgestel is, kon voorsien het dat ‘n President in ‘n demokratiese Suid-Afrika in so in stryd sou wees dat die nasie aan hierdie dilemma oorweging moet skenk nie.  

Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.