UITNODIGING: DIENSLEWERING EN DIE VERWESENLIKING VAN MENSEREGTE ONTBYTBESPREKING

DIE GRONDWET EN GOEIE PUBLIEKE LEIERSKAP: REEKS VAN ONTBYTBESPREKINGS
ONDERWERP: DIENSLEWERING EN DIE VERWESENLIKING VAN MENSEREGTE
HOOFSPREKER: VOORMALIGE PRESIDENT FW DE KLERK
Sluit by ons aan vir die eerste in ’n reeks ontbytbesprekings wat deur die Skool vir Publieke Leierskapforum (SPLF) aangebied word in samewerking met die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) en die Skool vir Publieke Leierskap (SPL) aan die Universiteit van Stellenbosch (US) en met die steun van die Konrad Adenauer-stigting (KAS).
Die behaling van gelykheid en nie-seksisme is twee van die belangrikste grondliggende waardes van die Grondwet. Artikel 9 van die Grondwet gee uitvoering aan hierdie waardes deur die reg op gelykheid voor die reg en gelyke beskerming en voordeel van die reg te waarborg. Gevolglik is die Wetsontwerp op die Bevordering van Vroue en Geslagsgelykheid laat in 2013 in die Parlement bekendgestel.
Die reg om te stem is een van die mees basiese en fundamentele regte in ’n demokrasie. Dit is die belangrikste wyse waarop burgers hul reg kan uitoefen om die kies wie hulle moet verteenwoordig. Dit is ook die belangrikste wyse waarop burgers die gehalte van regering kan beïnvloed – met ander woorde die responsiewe ingesteldheid, deursigtigheid en verantwoordbaarheid van diegene wat gekies is om die mense as hul verteenwoordigers te dien.
Die betaling van maatskaplike toelae deur die staat is vir baie mense in Suid-Afrika noodsaaklik vir oorlewing. Byna 16 miljoen Suid-Afrikaners is afhanklik van maatskaplike toelae, wat die hoofbron van inkomste is vir die onderste 30% van ons bevolking. Gegewe die ideale van waardigheid, vryheid en gelykheid wat die kernwaardes van ons Grondwet vorm en die feit dat so baie weerlose Suid-Afrikaners geen ander bron van inkomste het afgesien van maatskaplike toelae nie, is dit uiters noodsaaklik dat die proses wat dit moontlik maak nie net onaangetas en deursigtig is nie, maar ook dat dit goed bestuur word en dat diegene wat vir die administrasie daarvan verantwoordelik is, verantwoordelik gehou word.