Op die vooraand van die 22ste Versoeningsdag na die stigting van die demokratiese Suid-Afrika, moet ons die vraag stel: Wat het gebeur met die versoenende reënboognasie van Mandela, De Klerk en Tutu? Want dis is ongelukkig baie duidelik dat versoening en verdraagsaamheid te kort skiet in Suid-Afrika.
‘n Paar voorbeelde bewys hierdie punt: xenofobiese aanvalle op buitelanders, onverdraagsaamheid onder en in politieke partye (veral in die Parlement), die onlangse voorbeelde van aanvalle op en skade aan standbeelde en die geweld en rassistiese ondertone van sommige van die studentebetogings. Tony Ehrenreich se nou berugte uitlating betreffende die omstredenheid oor die naam van ‘n Kaapstadse straat na FW de Klerk sê als: “Die fase van versoening wat onpartydige wit en swart mense bymekaar gebring het, is verby. Ons is nou gewikkel in die stryd om ekonomiese en maatskaplike geregtigheid.” In hierdie trant speel baie politieke leiers die rassekaart en sweep emosies op wat ras betref – in direkte teenstelling met ‘n gees van eenheid en versoening. Dit was inderdaad beduidend dat die konsep van versoening as ‘n noodsaaklikheid byna heeltemal afwesig is in die dokumente wat gedien het voor die Nasionale Algemene Raad se vergadering van die ANC vroeër vanjaar.