Die Raad glo dat respek vir die regte en waardes in ons Grondwet die raamwerk bied vir die bevordering van welwillendheid tussen al ons mense. Welwillendheid kan veral bevorder word in gevalle waar regeringsbestuur gekenmerk word deur die grondliggende waardes van verantwoordbaarheid, openheid en ‘n responsiewe ingesteldheid.
Die Grondwet stel die Kantoor van die Openbare Beskermer in om burgers die versekering te gee dat regeringsbestuur met hierdie waardes sal ooreenstem en dat dit integriteit sal handhaaf ten opsigte van die wyse waarop dit die publiek dien.
Die Kantoor van die Openbare Beskermer speel ‘n belangrike rol in die beskerming van individuele burgers teen magtige staatsburokrate en deur te verseker dat die regering gebaseer is op die wil van die mense en nie op die diktaat van die staat nie.
Die wyse waarop die Openbare Beskermer en haar kantoor hul belangrike grondwetlik rol gespeel het, het na die Raad se mening gehelp om welwillendheid tussen Suid-Afrikaners te bevorder.
Die Raad wil voorts ook erkenning verleen aan die voorbeeldige wyse waarop die Openbare Beskermer, adv Thuli Madonsela, en haar span hul pligte uitvoer. Hul waardigheid, dapperheid, onpartydigheid en toewyding tot die waardes van ons Grondwet is ‘n inspirasie vir Suid-Afrikaners van al ons gemeenskappe en regoor die maatskaplike en politieke spektrum.
Thuli Madonsela en haar span het ons almal trots gemaak daarop om Suid-Afrikaners te wees en het ‘n voorbeeld gestel oor hoe ons almal in ons nie-rassige grondwetlike demokrasie moet optree. Hulle het ‘n visie daargestel van die samelewing wat ons wil word.
Adv Madonsela het die FW de Klerk-welwillendheidstoekenning namens die Openbare Beskermer-span aanvaar tydens ‘n funksie wat op Maandag, 1 Februarie deur die Stigting aangebied is. In haar aanvaardingstoespraak het adv Madonsela die Stigting bedank vir die geleentheid “om ‘n gesprek te voer oor ons kollektiewe verbintenis tot die bou van welwillendheid onder ons mense in die strewe na algemene welsyn en vrede”. Sy het ook haar verbind tot optrede wat “altyd bydra tot ‘n staat wat verantwoordbaar is, en wat met integriteit handel en responsief is wat die behoeftes van sy mense betref”.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting