Het dit dus steeds betekenis om steeds Versoeningsdag te vier? Is dit nodig? Het dit ‘n plek in Suid-Afrika vandag? Daar is drie redes waarom die antwoord “ja” moet wees.

Eerstens moet voortgesette versoening en verdraagsaamheid ‘n prioriteit wees in ‘n land met Suid-Afrika se verdeelde verlede en diverse hede. Anders sal die nuwe generasies weer in rassisme, chauvinisme en stereotipering verval – en uiteindelik polarisasie en haat.

Tweedens is versoening en verdraagsaamheid, as beginsels van respek vir ander en vreedsame naasbestaan, in ons Grondwet verskans. Sonder dit is dit ondenkbaar dat menseregte, wedersydse respek en nasionale eenheid moontlik kan wees.

En laastens is versoening en verdraagsaamheid twee van die mees belangrikste maatstawwe om die ANC se strewe na die rassifisering van die Suid-Afrikaanse samelewing deur die ideologie van transformasie, met sy 80-9-9-2 rasse-formule van demografiese verteenwoordiging, teen te staan. Indien Suid-Afrikaners mekaar respekteer en as versoenende burgers leef, sal ons nie mekaar sien as bloot “swart” of “wit” of “bruin” nie, maar as mede-Suid-Afrikaners wat verenig is deur ware patriotisme tot ‘n land en ‘n grondwet.

Maar om dit te verwesenlik moet in gedagte gehou word dat versoening ‘n proses is en nie ‘n gebeurtenis of selfs ‘n reeks gebeurtenisse nie. Dit kan nooit “verby” wees nie. Saam met verdraagsaamheid moet dit ‘n manier van lewe wees vir alle Suid-Afrikaners. Dit is waarom ons herinner word en herinner moet word van hierdie belangrike proses een keer per jaar deur die viering van Versoeningsdag.

Versoening en verdraagsaamheid is slegs moontlik tussen mense wat mekaar se bona fides aanvaar en mekaar se reg op bestaan erken. Dit raak baie moeilik wanneer die eise van sommiges om “tuis te voel” rus op die dat hulle aan die rasse-meerderheid behoort en in beheer is in elke sfeer van die lewe en organisasie, en voorts aanneem dat die minderhede hul kulturele, taal- en godsdienstige regte moet opgee – soos wat duidelik is uit die eise van die Open Stellenbosch-veldtog.

Versoening en verdraagsaamheid kan slegs oorleef en floreer indien daar eerlikheid, kommunikasie en respek is wanneer Suid-Afrikaners met mekaar en oor mekaar praat. Misbruik en stereotipering is in direkte teenstryd met hierdie belangrike konsepte en moet gesien word as vorms van rassisme en onverdraagsaamheid. Aan die ander kant help valse vriendelikheid en politieke korrektheid ook nie om ons vorentoe te neem nie.

Ten slotte: selfs al blyk dit dat versoening en verdraagsaamheid op ‘n laagtepunt op politieke en ideologiese vlak is, is daar steeds groot welwillendheid onder “gewone” Suid-Afrikaners. Miskien was ons naïef om te dink dat versoening en verdraagsaamheid na 20 jaar verwesenlik sou wees. Met ‘n nuwe vlaag van onverdraagsaamheid en rassepolarisasie, is dit duidelik dat gewone Suid-Afrikaners hierdie proses moet aanvoer. Ware en volhoubare versoening en verdraagsaamheid moet van onder af groei. Dit is iets wat Suid-Afrikaners op grondvlak iets aan kan doen. Jy het nie ‘n besluit deur die regering of ‘n wet nodig nie – jy kan môre daarmee begin of voortgaan…

Dr Theuns Eloff: Voorsitter van die FW de Klerk Stigting

Leave a Reply

Your email address will not be published.