Mnr Steward sal voortgaan om ‘n ondersteunende rol in die Stigting se aktiwiteite te speel – veral wat die werk betref van die Sentrum vir Eenheid in Diversiteit, wat onlangs gestig is.
Voormalige President FW de Klerk sal steeds ‘n aktiewe rol as Emeritus-voorsitter van die Stigting speel.
Dr Theuns Eloff
Dr Eloff is in 1955 in Potchefstroom gebore en het ‘n Meestersgraad in Teologie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys behaal. Hy het vir ses jaar as dominee in die Gereformeerde Kerk in Brooklyn, Pretoria gedien, en het tydens hierdie tydperk sy doktorsgraad in Teologie behaal.
Na afloop van sy deelname aan ‘n vergadering met verteenwoordigers van die ANC in Dakar in 1987, het hy die bediening verlaat en by die Consultative Business Movement (CBM) aangesluit. Ná sy aanstelling as Uitvoerende Direkteur van die CBM in 1990, was hy betrokke by die proses wat gelei het tot die Nasionale Vredeskonvensie en die Nasionale Vredesverdrag in September, 1991. Hy het later gedien as die hoof van die proses- en sekretariële dienste van die konvensie vir ‘n demokratiese Suid-Afrika (KODESA) en het gevolglik waargeneem as Hoof van die Administrasie van die Veelparty-onderhandelingsproses.
In die aanloop tot die eerste nie-rassige nasionale verkiesings in April 1994 is dr Eloff gesekondeer om as Adjunk Uitvoerende Direkteur op die Uitvoerende Oorgangsraad te dien. In Februarie 1995 is hy aangestel as Hoof Uitvoerende Beampte van die Nasionale Besigheidsinisiatief vir Groei, Ontwikkeling en Demokrasie.
Op 1 Januarie 2002 is dr Eloff aangestel as Visekanselier en Rektor van sy voormalige universiteit, die Potchefstroomse Universiteit vir CHO. Toe die universiteit saamgesmelt het met die Universiteit van die Noordwes in Mafeking in 2004 om die Noordwes-universiteit te vorm, het dr Eloff die nuwe universiteit se eerste Visekanselier en Rektor geword. Hy het in dié amp gedien tot 2015.
Dr Eloff het in 2006 by die Raad van die FW de Klerk Stigting aangesluit en is in 2015 ná die uittrede van FW de Klerk tot Voorsitter verkies.
Dave Steward
Dave Steward is op 23 Mei 1945 in Nairobi, Kenia gebore. Hy het sy onderrig in Kanada, die Verenigde Koninkryk en by die Universiteit van Stellenbosch en UNISA ontvang. Hy het in 1966 by die Departement van Buitelandse Sake aangesluit en het in Canberra, Ottawa en die Verenigde Nasies in New York gedien, waar hy in 1981 as Ambassadeur aangestel is. Tussen 1983 en 1985 het Steward ‘n aktiewe rol gespeel in die onderhandelings betreffende die onafhanklikheid van Namibië en ontwikkelings in Suid-Angola.
Hy het tussen 1986 en 1992 gedien as Hoof van die Suid-Afrikaanse Kommunikasiediens (oorspronklik die Buro vir Inligting), toe hy as hoof-regeringswoordvoerder en Direkteur-generaal in die Kantoor van President FW de Klerk aangestel is. Hy het as hoof van Adjunkpresident De Klerk se Kantoor gedien tot die Nasionale Party in Junie 1996 van die Regering van Nasionale Eenheid onttrek het.
Steward het gehelp om die FW de Klerk Stigting in 1999 te stig en het sedertdien as Hoof Uitvoerende Direkteur en trustee gedien.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting