+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

President Zuma het ‘n paar insigte verskaf in ‘n toespraak wat hy aan sakemanne uit Afrika gemaak het onmiddellik nadat hy Nene se ontslag aangekondig het. Aan die kern van sy denke lê die diep – en dikwels histories geldige – grief oor die wyse waarop Afrika en Afrikane oor die afgelope 500 jaar deur Europeërs behandel is.

Afrika – wat, volgens hom, groter is as al die ander vastelande saam – is die slagoffer van honderde jare van wrede uitbuiting. Miljoene Afrikane is aan slawerny onderwerp en het sodoende bygedra tot die ekonomiese welvaart wat die Verenigde Nasies en Europa tans geniet.

Afrika is opgebreek deur Europese imperialiste wat Afrika nie net van hul eie welvaart en vryheid beroof het nie – maar ook van hul menslike identiteit. Europeërs het probeer om Afrikane na hul eie beeld te hervorm – as Lusitane, Franke en klein Engelsmannetjies.

Afrikane het teen dit alles ‘n stryd gevoer: hulle het opgestaan en hulself van die koloniale juk bevry. Jacob Zuma was deel van hierdie stryd. Hy het, tesame met helde soos Nelson Mandela en Steve Biko, die dood en marteling gewaag ten einde politieke vryheid te verseker.

Afrika is egter nou besig om te ontdek dat politieke vryheid niks sonder ekonomiese vryheid beteken nie. Die oomblik het nou aangebreek vir Afrika om sy ekonomiese vryheid aan te gryp. Met ekonomiese vryheid bedoel die President nie die bourgeoise konsepte van eiendomsregte, oop mededinging en vry en responsiewe markte nie. Hy verwys na die Nasionale Demokratiese Revolusie se doelwit om 80% van die grond, eiendom, maatskappye, top werksgeleenthede ens in die land te bekom.

Nhlanhla Nene is, sonder twyfel, na President Zuma se mening, uitermatig beïnvloed deur nie-Afrikaanse benaderings en het in die pad van ekonomiese vryheid gestaan.

Geen wonder dat Nene moes gaan nie.

Die President het self erken dat hy nóg ‘n ekonoom nóg ‘n sakeman is. Uit sy ervaring as ‘n politieke kommissaris dink hy steeds dat waarde bepaal word deur die arbeidskoste van die lewering van ‘n produk, eerder as deur vraag en aanbod.

Hy is egter ‘n baie slim politikus en het ‘n baie beter begrip van rou politieke mag as die meeste van sy kritici. Hy het ‘n deurdringende en doeltreffende netwerk van beskerming regdeur die staat geskep deur lojale kaders in strategiese posisies te plaas – veral in die veiligheidsdienste. Hy het die onafhanklikheid van belangrike instellings in wese erodeer – soos die Nasionale Vervolgingsgesag, die Onafhanklike Polisiedirektoraat en die SAUK. Hy het probeer om die dapper onafhanklike Openbare Beskermer in te perk – en rig nou sy visier op die howe.

En dit bring ons by die tweede vraag – met betrekking tot die ANC. In 2007 het die ANC Jacob Zuma as hul President verkies, wetende dat 783 klagtes van bedrog teen hom hangende was. Hulle het toe die Skerpioene, die land se doeltreffendste teen-korrupsie-eenheid, ontbind. In 2012 het hulle Zuma herverkies en lojaal by hom gestaan tydens sy belaglike besteding van R246 miljoen aan sy private aftree-woning.

Verlede Maandag het die ANC-leierskap op onoortuigende wyse probeer om die land daarvan te oortuig dat President Zuma met hulle oorleg gepleeg het voordat hy besluit het om Nene af te dank. Hulle het hom geloof vir sy dapper besluit om Pravin Gordhan as Minister van Finansies aan te stel en het gerugte van stappe om die President te herroep, ontken. Hul reaksie is ‘n aanduiding van die mate waartoe magtige leiers wat op President Zuma se netwerk van beskerming steun, in beheer is van die ANC.

Desnieteenstaande is die President gewond. Vir diegene wat hul heerskappy baseer op persepsies van mag, is dit altyd ‘n fout – en soms ‘n fatale fout – om swakheid te toon. En so, regdeur die Alliansie, begin afvallige groepe – met inbegrip van baie ontnugterde en ordentlike ANC-lede – om hul somme te maak in die aanloop tot die ANC se Konferensie in 2017. Hulle doen dit baie senuweeagtig – uit vrees dat die regerende faksie die intelligensiedienste gebruik om na hul gesprekke te luister en op hul aktiwiteite te spioeneer.

Die derde faktor wat uit die fiasko na vore gekom het is die mag van die markte en van die openbare mening. Volgens berigte het Suid-Afrika se voorste banke die ANC-leiers Vrydagoggend konfronteer en die ernstige implikasies van Zuma se besluit om Nene af te dank, verduidelik. Die week het ons geleer – en ons hoop die ANC ook – dat ons in ‘n globaliserende wêreld leef waarin markte absurde optrede swaar sal straf. Die keuse is heel eenvoudig: dit is óf fiskale verantwoordelikheid, die NOP en ekonomiese groei, óf die NDR, ‘ekonomiese vryheid’ en bankrotskap.

Laastens het die week ‘n fundamentele fout in ons grondwetlike stelsel aan die lig gebring wat verband hou met die wyse waarop die President verkies word. Die Grondwet ken aan die president enorme magte toe: hy is die hoof van die nasionale uitvoerende gesag en het die mag om aanstellings te maak (met inbegrip van ministers) wat deur die Grondwet of wetgewing vereis word. En tog word die President vir alle praktiese doeleindes elke vyf jaar verkies deur ‘n meerderheid van die 4000 afgevaardigdes by die ANC se nasionale konferensies. Die afgevaardigdes word op hul beurt verkies deur prosesse wat dikwels ondeursigtig is en maklik manipuleer kan word. Dus doen die President nie verantwoording aan die burgers van die land nie – maar aan die kabaal van party-afgevaardigdes wat maklik deur hierdie of daardie faksie in die regerende alliansie manipuleer kan word.

Dit is tyd dat ons die Grondwet wysig, nie net om die verkiesingshervormings in te stel wat deur Van Zyl Slabbert voorgestel is nie, maar ook om voorsiening te maak vir die direkte verkiesing van die President. Sodanige ontwikkeling sal dus die grondwetlike waardes van openheid, verantwoordbaarheid en ‘n responsiewe ingesteldheid doeltreffend bevorder. Dit sal ook ‘n gesonde afstand plaas tussen die uitvoerende gesag en ‘n wetgewer wat lank reeds nie meer enige doeltreffende toesighoudende magte uitoefen nie. Dit sal ook verseker dat die kiesers – en nie ongeveer 2000 afgevaardigdes van die ANC nie – die belangrikste ampsdraer in die land aanstel.

Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting

Foto: GovernmentZA via Foter.com / CC BY-ND

Leave a Reply

Your email address will not be published.