Internasionale Moedertaaldag is in November 1999 deur UNESCO ingestel. In Mei 2007 het die VN se Algemene Vergadering ‘n beroep op sy lede gedoen om die bewaring en beskerming van alle tale wat deur mense van die wêreld gebruik word, te bevorder, en het 2008 aangewys as die Internasionale Jaar van Tale ten einde eenheid in diversiteit en internasionale begrip deur veeltaligheid en multikulturalisme te bevorder.
Die VN se webtuiste verklaar dat vanjaar se tema die belangrikheid van toepaslike tale van onderrig, gewoonlik moedertale, in die vroeë jare van skoolopleiding beklemtoon. Dit fasiliteer toegang tot onderrig – terwyl dit ook regverdigheid bevorder – vir bevolkingsgroepe wat minderheids- en inheemse tale gebruik, veral meisies en vroue; dit verhoog die gehalte van onderrig en leerprestasie deur begrip en kreatiwiteit te beklemtoon, eerder as om soos ‘n papegaai te leer of te memoriseer.
Irina Bokova, UNESCO se Direkteur-generaal, sê: “Moedertale in ‘n veeltalige benadering is noodsaaklike komponente van gehalte-onderwys, wat weer die basis vir die bemagtiging van vroue en mans en hul samelewings daarstel”.
Dit is dus duidelik dat dit wêreldwyd ‘n belangrike dag en aangeleentheid is, omdat die internasionale gemeenskap en die internasionale organisasies met die jare die belangrikheid van moedertaal, veeltaligheid en diversiteit besef het, veral wat onderwys betref.
Wat van Suid-Afrika? In een van die grondliggende bepalings van die Grondwet, in Hoofstuk 1, artikel 6, word verklaar dat Suid-Afrika oor 11 amptelike tale beskik. Dit verklaar ook dat die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) “omstandighede moet bevorder en skep vir die ontwikkeling en gebruik vir al die amptelike tale, asook die Khoi-, Nama- and San-tale, en gebaretaal. Dit moet ook respek vir ‘n verdere 11 tale wat deur gemeenskappe in Suid-Afrika gebruik word, bevorder en verseker, met inbegrip van dié wat vir godsdienstige doeleindes gebruik word.
Die “stigterslede” het taal, en dus die moedertale van Suid-Afrika se mense, so belangrik geag dat hulle dit in die eerste hoofstuk van die Grondwet ingesluit het. Dit is belangrik om daarop te let dat – anders as die regte in die Handves van Regte – die beginsels in Hoofstuk 1 van die Grondwet nie onderhewig is aan die beperkingsklousule in artikel 36 van die Grondwet nie. Dit kan dus slegs deur ‘n meerderheid van twee-derdes in die Nasionale Vergadering gewysig word en – omdat enige sodanige wysiging die provinsies sal raak – deur ten minste ses provinsies in die Nasionale Raad van Provinsies.
Indien ons egter na die feitlike situasie kyk, is dit duidelik dat Suid-Afrika agter geraak het wat internasionale norme en standaarde betref. Nie net is daar druk om Engels as die primêre (en dikwels enigste) taal in die openbare sektor te vestig nie, maar daar is byna geen bevordering van inheemse moedertale as tale van onderrig nie. Amptelik moet moedertale in skole tot aan die einde van graad 3 gebruik word, maar dit gebeur eenvoudig nie in praktyk nie. Beide amptenare en ouers verkeer onder die indruk dat Engels die beste taal van onderrig is, en die oorgang na Engels word baie vroeg reeds ingestel – ten koste van nie net inheemse moedertale nie, maar ook van die leerders en hul gehalte van onderwys.
Dit is presies wat die VN se tema vir 2016 hier beklemtoon: moedertaalonderrig verhoog die gehalte van onderwys en leerprestasie deur begrip en kreatiwiteit te beklemtoon. Daarbenewens is dit kommerwekkend om daarop te let dat die een inheemse moedertaal wat in skole en universiteite gebruik word, Afrikaans, tans onder enorme druk verkeer om deur Engels vervang te word, duidelik nie om opvoedkundige redes nie, maar om politieke en ideologiese redes.
Dit is dus hartseer om daarop te let dat betreffende die gebruik en belangrikheid van moedertale, Suid-Afrika uit voeling is met internasionale navorsing en praktyke. Die Suid-Afrikaanse regering, op nasionale en provinsiale vlakke, moet verantwoordelikheid hiervoor neem. Die feit dat PanSAT nie sy grondwetlike plig in hierdie verband nakom nie, of nie toegelaat word om dit na te kom weens ‘n gebrek aan vermoë of finansiering nie, moet groot rede tot kommer wees.
Die FW de Klerk Stigting het onlangs ‘n Sentrum vir Eenheid in Diversiteit gestig. Die aangeleentheid betreffende moedertaalonderrig sal hoog op sy lys van prioriteite wees – nie net ter wille van minderheidstale nie, maar in die belang van alle Suid-Afrikaanse leerders.
Daar word dikwels gesê dat Suid-Afrika nie moedertaalonderrig kan bekostig nie. Die werklike vraag is of ons as ‘n land kan bekostig om nié moedertaalonderrig te hê nie. Die swak stand van ons basiese onderwysstelsel en ons leerders se onvermoë om selfs naastenby volgens internasionale standaarde te presteer, dui duidelik daarop dat ons die volgende nageslag in die steek laat.
Deur dr Theuns Eloff: Voorsitter, FW de Klerk Stigting