In hierdie verband het die Stigting op 5 Januarie ‘n verklaring uitgereik wat die onlangse aanmerkings deur Penny Sparrow betreffende swart Suid-Afrikaners wat openbare strande op Nuwejaarsdag gebruik het, ten sterkste veroordeel.
Die meeste mediakommentators het Sparrow se opmerkings en die daaropvolgende, veel minder omstrede opmerkings deur Chris Hart en Gareth Cliff as bewyse voorgehou van deurdringende wit rassisme wat aan die orde van die dag is. ‘n Analise van Facebook- en Twitter-inskrywings wys egter daarop dat by verre die heftigste en gevaarlikste rassisme – wat in die mees ekstreme en gewelddadigste taal uitgedruk is – deur afvallige swart Suid-Afrikaners gemaak is. Die boodskappe is deurtrek met dreigemente om alle wit mense – insluitend kinders – dood te maak; om wit vrouens te verkrag of alle wit mense uit Suid-Afrika te skop.
Artikel 16(1) van die Grondwet verklaar dat almal die reg op vryheid van uitdrukking het en artikel 16(2) voeg by dat hierdie reg nie uitgebrei kan word tot propaganda vir oorlog, aanhitsing tot dreigende geweld of die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.
Artikel 10 van die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (PEPUDA), wat betrekking het op haatspraak, verklaar dat geen persoon woorde mag “publiseer, propageer, verkondig of oordra wat redelikerwys wat redelikerwys vertolk kan word as sou dit ’n duidelike bedoeling hê om kwetsend te wees; om skadelik te wees of om skade aan te stig; om haat te bevorder of te propageer.”
Na die Stigting se mening oortree hierdie boodskappe wat aan die SAMRK voorgelê is, al hierdie bepalings.
Die Stigting het die SAMRK gevra om sy magte te gebruik om betreffende die handhawing van menseregte “ondersoek in te stel en daaroor verslag te doen” in so ver dit neerkom op haatspraak kragtens artikel 16(2) van die Grondwet en artikel 10 van PEPUDA.
Die Stigting het ook die SAMRK gevra om sy magte te gebruik om gepaste herstel te verseker waar menseregte geskend is en indien dit nodig geag word, om kommunikasie wat die doodmaak van mense of die veroorsaking van ernstige liggaamlike leed direk aanhits, na die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolg te verwys vir verdere oorweging.
Die Stigting doen ‘n beroep op die Regering en op alle Suid-Afrikaners van welwillendheid uit al ons gemeenskappe om dringend saam te kom om rassisme te veroordeel vanuit watter oord dit ook al kom.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting