ARTIKEL: BLADE (DIE LEM) SO SKERP SOOS ATLYD, EN NET SO GEVAARLIK*

In ‘n huldigingstoespraak aan Oliver Tambo verlede week het die nou voormalige Minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, die sluier gelig oor hoe die SAKP die oorsprong van die huidige staatskaping sien en verstaan. Die nuusopskrifte oor die artikel maak sy uitspraak dat die land in die vroeë fase van ‘n sekurokrasie is, die kern daarvan. Maar dit is nie die kern nie. Dit is Nzimande se eerste toespraak nadat hy deur Zuma ontslaan is, en hy doen sy ontleding van wat verkeerd gegaan het deur Tambo as “voorbeeld” te gebruik. In hierdie ontleding kom daar ‘n paar interessante en ‘n paar kommerwekkende sake na vore.
Dit is belangrik om te onthou dat die SAKP leierskap in 2007 by Polokwane instrumenteel was om Mbeki te onttroon en Zuma in te stem. Daarvoor is hulle deur Zuma met ‘n disproporsionele aantal kabinetsposte beloon. En daardeur kon hulle die SAKP en die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) verder neem, onder andere deur sosialistiese elemente in beleid in te smokkel (soos die konsepwetgewing oor eiendomsreg).







