Die ANC gaan voort om homself te beskou – nie as ‘n gewone politieke party nie, maar as ‘n nasionale bevrydingsbeweging met ‘n onvoltooide revolusionêre mandaat. Omdat die “voortdurende nalatenskap van kolonialisme en wit minderheidsregering” die “werklikheid van ons samelewing definieer”, is sy belangrikste revolusionêre taak die bereiking van ‘ekonomiese bevryding’ deur middel van radikale ekonomiese transformasie.
President Zuma beskryf dit as “’n situasie van strydende magte met antagonisties teenstrydige belange binnelands en wêreldwyd”, wat Marx en Engels baie goed sou verstaan het. Dit is ‘n stryd waarin, volgens Marx, “die onderdrukker en die onderdrukte” konstant teenoor mekaar te staan kom in ‘n “nou onderbreekte, nou versteekte, nou oop, geveg …”
Die ANC se “vyand” in die RET-proses is “wit monopolie kapitaal” – wat eintlik alle blankes beteken – aangesien alle blankes onderworpe is aan die ANC se diskriminerende beleid, ongeag hul inkomste, rykdom of opvoeding. President Zuma beskou blankes as manifestasies van wat die SAKP-ideologie ‘kolonialisme van ‘n spesiale soort noem’, ‘n situasie waar dié wat gekoloniseer is, saam met die koloniseerders in die land bly nadat vryheid bewerkstellig is. Soos hy in Julie aan die jeugliga gesê het, “het hulle grond, krag, jou waardigheid en alles geneem. Toe ons bevry is, het hulle hier gebly. In daardie ander [Afrika-] lande was hulle administrateurs, en toe julle bevry is, het hulle weggetrek. Dit is nou in julle jong mense se hande om onsself ekonomies te bevry … As ons dit nie doen nie, ons sal baie jare lank ly.”
RET se belangrikste doelwit is die uitwissing van maatskaplike en ekonomiese verhoudings betreffende apartheid. Dit sal verwesenlik word deur die derassifisering van eienaarskap en beheer van rykdom, met inbegrip van grond; en ekwiteit en regstellende aksie wat die voorsiening van vaardighede en toegang tot bestuursposte betref. Dit sal lei tot die daarstelling van ‘n “Nasionale Demokratiese Samelewing” waarin:
- al die beduidende hefbome van staatsmag deur die “demokratiese kragte” (dws die ANC) beheer sal word;
- “eiendomsverhoudinge wat apartheid betref” uitgeskakel sal wees; en waarin
- demografiese verteenwoordiging op alle vlakke van eienaarskap, bestuur en indiensneming in die openbare, private en nie-regeringsektore ingestel sal wees.
In sy Staatsrede vroeër vanjaar het President Zuma ‘n verklaring van Oliver Tambo in 1981 aangehaal, naamlik dat dit “ondenkbaar vir bevryding is om betekenis te hê sonder dat die welvaart van die land na die mense as geheel teruggegee word. Om die bestaande ekonomiese magte toe te laat om hul belange te behou, is om rasse-heerskappy en uitbuiting aan te hits, en dit verteenwoordig nie eens die skaduwee van bevryding nie.”
Volgens die President beteken RET ‘n “fundamentele verandering in die struktuur, stelsels, instellings en patrone van eienaarskap, bestuur en beheer van die ekonomie, ten gunste van alle Suid-Afrikaners, veral die armes, waarvan die meerderheid Afrikane en vroue is, soos omskryf deur die regerende party, wat beleid vir die demokratiese regering vorm.”
Natuurlik sal die begunstigdes van RET nie “alle Suid-Afrikaners” wees nie – maar elemente in die regerende faksie en sy vennote. In wese sal diegene wat by staatskaping betrokke is, en wat staatsinstellings en die openbare sektor geplunder het, nou hul aandag vestig op die groen weivelde van die privaatsektor as die volgende gebied wat geplunder kan word.
RET sal onvermydelik ‘n katastrofiese impak hê op die ekonomie, op die oorgrote meerderheid van die burgers en op nasionale eenheid. Dit vereis die ernstige verwatering van eiendomsregte, grootskaalse ingryping deur ‘n korrupte en onbevoegde regering, en ‘n aanval op die legitieme regte van miljoene Suid-Afrikaners alleenlik gebaseer op grond van hul ras. Dit sal onvermydelik beleggings en noodsaaklike vaardighede verdryf, en lei tot ekonomiese ineenstorting op die skaal van Venezuela en Zimbabwe. Dit sal tot ongekende ontbering, lyding en maatskaplike en rassekonflik lei.
RET is ‘n intense rasgebaseerde proses wat weer eens die “belange van die swart meerderheid aan die kern van ons politieke programme moet stel”. Politieke bevryding is nie genoeg nie: die doelwit van politieke mag is om “alle ander sektore van mag binne te dring en eens en vir altyd apartheid-kolonialisme, wat ‘n monopolie het oor die beheer van die ekonomie, te verslaan.”
Dit sal ‘n fout wees om dit alles as leë retoriek af te maak. Die openbare sektor is reeds getransformeer in ooreenstemming met demografiese verteenwoordiging; die versterking van BSEB-regulasies maak dit toenemend moeilik vir maatskappye in wit besit om sake te doen – en regdeur die ekonomie en by ons universiteite verloor wit mense hul werk ten einde hul werkgewers in staat te stel om aan toenemend streng rassekwotas te voldoen. Die jongste voorbeeld is die Mynbouhandves – wat in wese die mynbousektor sal verwoes indien dit ooit in werking gestel sou word.
Waar los dit diegene wat nie aan die swart meerderheid behoort nie – en met wie ook nie oorleg gepleeg is oor die ANC se planne vir hulle nie?
Nie in ‘n baie goeie plek nie. Die ANC se Strategy and Tactics-dokumente het voorsien dat die voorgestelde herverdeling van welvaart volgens rasselyne onvermydelik ‘n reaksie van sy beoogde slagoffers sou ontlok “omdat eiendomsverhoudings aan die kern van alle maatskaplike stelsels is.”
Miskien is die merkwaardigste aspek van RET die byna algehele gebrek aan enige samehangende reaksie van sy beoogde slagoffers – die groter meerderheid van wit mense en maatskappye in wit besit. Daar is, miskien, ‘n aantal redes vir hierdie gebrek aan reaksie:
- Die meeste van hulle het nie die vaagste begrip van die ANC se ideologie of die erns van sy revolusionêre agenda nie. Hulle is nie bewus daarvan dat hul regering hulle as hul vernaamste teenstanders in ‘n titaniese revolusionêre stryd beskou nie. Daarom is hulle geneig om RET af te maak as onverstaanbare nonsens;
- Daarbenewens is die meeste wit Suid-Afrikaners nie ten gunste daarvan om hulself volgens hul ras te klassifiseer nie;
- Ander het weer die ANC se propaganda geglo betreffende hul onuitwisbare skuld vir die verlede en vir die land se voortgesette probleme. Hulle is stilgemaak deur wat Helen Zille na verwys as “praat terwyl jy wit is”, wat die grootste sonde ten opsigte van “kritieke rasteorie” is;
- Daar is niemand wat namens hulle kan of wil praat nie – nie die politieke party waaraan die meeste van hulle behoort nie; nie die burgerlike samelewing nie; nie besigheid nie.
Die ANC is seker verbaas deur die gebrek aan enige teenstand. Dit het op 26 Junie ‘n verklaring uitgereik dat “die stryd van die Suid-Afrikaanse mense wat deur die ANC gelei is, ‘n stryd teen rasse-oorheersing was en is, en nie ‘n stryd teen ‘n spesifieke ras nie. Die ANC is steeds verbind tot die oplossing van die nasionale griewe, nie deur teen wit mense te veg nie, maar om die stelsel van onderdrukking en sy nalatenskap te beveg.” Nkosazana Zuma se verklaring moet in dieselfde lig beskou word.
Die ANC se versekerings is nie waar nie. Deur “die nasionale griewe” op te los, het RET duidelik ten doel om gewone Suid-Afrikaners van eiendom, werksgeleenthede en grond op grond van hul ras te ontneem. Dit is die enigste interpretasie vir President Zuma se definisie van RET – en oor sy siening dat wit Suid-Afrikaners uitheemse en ongewenste oorblyfsels is van “kolonialisme van ‘n spesiale soort”. President Zuma se uitsprake en die ANC se eie dokumentasie stel dit heeltemal duidelik dat RET ‘n rassestryd is – en dat sy doel nie die uitwissing van oorheersing is nie – maar die oplegging van ‘n nuwe en omvattende vorm van rasse-oorheersing – van die soort wat Nelson Mandela belowe het ons nooit, nooit en nooit weer in hierdie pragtige land sal ervaar nie.
Soos President Zuma op 12 Junie aan die MKVA gesê het: “Vryheid beteken dat jy van alles in beheer moet wees, die politiek, die ekonomie en die sekuriteit van die land.”
Deur Dave Steward: Voorsitter, FW de Klerk Stigting