Die feit dat die Minister se grootste belanghebbende, die mynbousektor, aangedui het dat hulle die Handves op hersiening sal neem, is ‘n slegte teken. Ten beste is dit ‘n aanduiding dat die Minister nie met sy grootste belanghebbende konsenus kon bereik nie (wie se winste die proses moet dryf), en in die ergste geval het iets ernstig skeefgeloop tussen die Minister en die Kamer van Mynwese. Die feit dat verskeie swart Suid-Afrikaners in die bedryf kommer uitgespreek het oor die Handves, vererger hierdie kommer.
Die Handves verteenwoordig ‘n pakket van radikale maatreëls, byvoorbeeld dat die middelbestuur – waar die werklike produksiewerk in myne gedoen word – 80% swart moet wees; asook maatskappye wat betrokke is by die verkryging van goedere (70% SEB Entiteit) en dienste (80% SEB Entiteit). Om dit in werking te stel met ‘n mislukte onderwysstelsel en ‘n gebrek aan vaardighede terwyl die ekonomie nodig het dat beleggings groei, en terwyl onrus en werkloosheid en ‘n gebrek aan beleggersvertoue die sektor belemmer, is waansin. Dit skep die indruk dat die skrywers (lees: die regering en spesifiek die Departement en die Minister) geen idee het hoe beleggers dink nie, hoe beleggings werk nie en hoe volhoubare werksgeleenthede geskep word nie. Hierdie Handves kan nie op ‘n slegter tyd kom vir die mynbousektor nie.
Die transformasie van die mynbousektor en die skep van beleggingsaansporings is nie onderling eksklusief nie, maar die Handves versuim om aan hierdie balans te voldoen, en dit sal heel moontlik enige potensiële beleggings in die sektor ontmoedig. Soos een swart vroulike eienaar van ‘n mynmaatskappy op gewys het, sal dit alle beleggers afskrik, nie net dié wat in maatskappye belê het wat voorheen in besit van wit eienaars was nie. Beleggers is nie gekant teen transformasie en behoorlike werksgeleenthede as sulks nie, indien die doelwitte en teikens nie aanhou rondskuif nie. Dit gebeur egter ongelukkig nou meer gereeld.
Die Stigting is van mening dat meer en ernstige gesprekke tussen die regering, die Kamer van Mynwese, die ANC en ander belanghebbendes moet plaasvind om die bogenoemde kwessies aan te pak. As dit ‘n voorbeeld van Radikale Ekonomiese Transformasie is, dan is ons as ‘n land op ‘n afdraende pad – veral indien ander sektore dieselfde pad gaan stap.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
VERKLARING OOR DIE MYNHANDVES VAN 2017