Toe Zuma egter, selfs vir hierdie eertydse ondersteuners van hom, te erg begin optree het, het die verwydering ontstaan. Van die eerste krake was die geval van al-Bashir en Nkandla en natuurlik die mees onlangse kabinetskommeling waar die SAKP se leidende lig in die pad gesteek is. Daardeur is die SAKP se politieke invloed ernstig geskaad. Die SAKP is nou ‘n uitgesproke voorstaander van ‘n Ramaphosa-presidentskap en ‘n uitgesproke teenstaander van Zuma (en sy voorkeurkandidaat, Nkosazana Dlamini-Zuma).

Aan die interessante kant, haal hy vir Tambo instemmend aan toe hy in 1977 in Angola gesê het dat die kamerade moet onthou dat dit makliker is om ‘n bevrydingsbeweging te wees as om ‘n land te regeer. Hulle sal aan baie eise van die mense moet voldoen, en in hulle poging om dienste aan die mense te lewer, moet hulle ook van die vyand (die NP-regering!) leer, want “die vyand doen nie alles verkeerd nie” (as Helen Zille se kritici maar geweet het dat die vader van die ANC só gesê het!)

Nzimande beskryf die tyd waarin Oliver Tambo se honderdste verjaardag gedenk word as een waar die ANC in ernstige moeilkheid is. “Ons rewolusie en beweging” het onbekende waters binne gegaan, min of meer ‘n “maalkolk”, soveel so dat die ANC op die rand van inploffing is.

Nzimande identifiseer die oorsprong van die probleem as die afhanklikheid van bevrydingsbewegings van die staat, met geen ekonomiese vooruitsigte as hulle daardie mag verloor nie. Daar is dus ‘n insentief om die mag te behou (hy begin hier reeds in Zuma se rigting skimp). Die toegang tot staatsmag verloop baie vinnig in gierigheid. Die gieriges gebruik staatsmag nie net om vir hulle huidige en na-aftrede behoeftes te sorg nie, maar ook vir hulle families. Hierdie beskrywing is waar van Zuma en talle ander Suid-Afrikaanse politici en staatsamptenare.

Deur die Algerynse filosoof Frantz Fanon uit die 1950s aan te haal, wys Nzimande op ‘n tweede probleem. As bevrydingsbewegings eers die pad van gierigheid begin loop, word die “nasionale bewussyn” (lees nie-rassigheid) net ‘n leë dop en ‘n bespotting, met die gevolg dat ras in die plek van die nasie, en stam in die plek van die staat gestel word. Die ironie is dat al het Tambo en sy genote juis nie-rassigheid voorgestaan, die ANC-regering vandag weer besig is om die samelewing te verrassig, primêr deur sy ideologie van rassetransformasie volgens die formule 80-9-9-2. En dit, terloops, is nie ‘n Zumaverskynsel nie, maar het al onder Thabo Mbeki begin. Daar is, helaas, geen teken dat iemand in die toekomstige leierskap van die ANC enigsins krities or hierdie ideologie is nie, selfs met sy verwoestende gevolge vir kapasiteit in die staatsdiens en effektiewe dienslewering. Daarby kan mens nie die gevoel ontkom nie dat die Zoeloestam (en veral sy naby Zoeloefamilie) vir Zuma belangriker is as die ANC of die staat.

In sy goedkeurende aanhaling van die 1848 Kommunistiese Manifes van Marx en Engels, wys Nzimande op die derde probleem: “Die proletariaat sal sy politieke oormag gebruik om, met verdrag, alle kapitaal van die bourgeoisie te gryp, om alle instrumente van produksie in die hande van die staat te sentraliseer en om die totale produktiewe magte so gou as moontlik te vermeerder”. Toegepas op Suid-Afrika se Nasionale Demokratiese Revolusie: as “nasionale produksie” nie vinnig na ‘n demokratiese deurbraak ontwikkel en gediversifieer word nie, verminder dit geleenthede om werk en ander maniere van lewensmiddele te skep. Dit laat staatsmag as die enigste bron van oorlewing en welvaart. Dit is die grondslag van staatskaping en sy tweelingboeties, faksievorming en korrupsie.

In Suid-Afrika se geval het dit tot ‘n wederkerig voordelige verhouding tussen faksies (lees: Zuma se ANC) en besigheidsparasiete (lees: die Guptas) gelei. En wanneer parasitiese netwerke weerstand begin voel, skep hulle paralelle strukture en prosesse binne en buite die regering. Besluite word dan deur hierdie netwerke en “kombuiskabinette” geneem. As daar dan weerstand teen hierdie vorm van staatskaping ontstaan, kom ‘n sekurokrasie tot stand. Nzimande is van mening dat die bestaan van “rogue” intelligensie-aktiwiteite, insluitende smeerveldtogte teen ander leiers van die ANC, ‘n bewys is van die vroeë fases van ’n sekurokrasie.

Opsommend is Nzimande se argumente dus dat bervydingsbewegings (lees: die ANC) té afhanklik geword het van staatsmag om lewensmiddele te kry, dat die ANC (lees: Zuma) ras in die plek van die nasie en die stam in die plek van die staat gestel het, en dat die ANC nie genoeg gedoen het om die produksiemiddele weg van die bourgeoisie (lees wit monopolie kapitaal)  te neem en in die staat te sentraliseer nie. Dit alles het gelei tot faksievorming, korrupsie en parasitiese verhoudings (lees: die Zuptas).

Nzimande se ontleding is deels in die kol, al stem mens nie met sy kommunisitese terminologie en retoriek saam nie. Maar Nzimande sê eintlik dat die ANC en die land in die moeilikheid is omdat die NDR nie geslaag het nie. Daar was te min gedoen om die ekonomie te verstaatlik en te sentraliseer. Dit is ideologiese en oudmodiese wensdenkery. Sosialisme het nog nêrens daarin geslaag om ‘n land ekonomies vooruit te laat gaan nie – vra maar vir die Sjinese.

Daar is dus twee gevare wat SAKP-invloed op die toekoms van die land het. As Ramaphosa President sou word met die aktiewe steun van die SAKP, sal daar (weer) skuld wees om te betaal, waarskynlik deur kabinetsposte. Daarby kom die sosialistiese invloed op ekonomiese beleid, iets wat in Mbeki se tyd reeds ‘n faktor was. En as mens Malusi Gigaba in sy Mediumtermyn Begrotingstoespraak moet glo, het die land nie tyd vir flankering met uitgediende sosialistiese ekonomiese beleid soos die sentralisering van ekonomiese mag in die staat nie. Dis die gevaar vir ‘n Ramaphosaregering en die land: dat die ANC op grond van kompromieë (soos ekonoom Dawie Roodt al gesê het) ‘n skisofreniese ekonomiese beleid aanvaar en dat belegging en inklusiewe groei tussen die twee stoele waarop die ANC probeer sit, deurval.

Die tweede gevaar wat minderhede met ‘n invloedryke SAKP in die gesig staar, is die selfs sterker toepassing van rassetransformasie volgens die 80-9-9-2 formule. Dis deel van die SAKP en ANC se beleid, soos verwoord in die NDR, om alle hefbome van mag in die Suid-Afrikaanse samelewing in te palm.  En die manier waarop dit reeds gedoen word, is deur die mag van die “African” meerderheid te gebruik – sodat in letterlik elke organisasie transformasie moet plaasvind om 80% “African” te wees. Dit beteken dat minderhede in beginsel nie hulle eie kultuur, godsdiens en taalorganisasies kan hê nie. Daardeur sal Marx en Engels se “gryp van die mag” nie net op die ekonomie van toepassing gemaak word nie, maar op alle samelewingsvlakke – met rampspoedige gevolge vir alle minderhede.

Nzimande se SAKP is nie van plan om van die toneel te verdwyn nie en moet volgens hom binne en buite die ANC werk om te help om die ANC van faksievorming, korrupsie en korporatiewe kaping te bevry. Nog belangriker is dat die SAKP die leidende rol moet speel om ‘n populêre front van progressiewe magte te bou wat die NDR vorentoe kan neem. Hierdeur moet die parasitiese netwerke verslaan word.

As President Ramaphosa of Mkhize die land vorentoe wil neem saam met al sy minderhede, en as hy die ekonomie tot voordeel van alle Suid-Afrikaners wil laat groei, sal hulle versigtig moet begin dink oor hulle bondgenote in die komende ANC presidentsverkiesing.

Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
3 November 2017

Foto: GovernmentZA via Foter.com / CC BY-ND

Eers gepubliseer op Netwerk24

Leave a Reply

Your email address will not be published.