Die FW de Klerk Stigting se vennootskappe met beide hierdie organisasies vorm deel van die Stigting se steun aan liefdadigheidsorganisasies. Benewens die aktiwiteite van die Stigting se Sentrum vir Grondwetlike Regte en die Sentrum vir Eenheid in Diversiteit, ondersteun die Stigting plaaslike organisasies wat omsien na kinders en jongmense met gestremdhede, en jongmense uit benadeelde gemeenskappe. Danksy die goedhartigheid van ons vennote, die Nedbank Golfdag vir Liefdadigheid en die Maurice Hatter-stigting, dra die Stigting by tot verskeie programme wat lewens ten goede verander, op ‘n daaglikse basis. Autism Western Cape het hul ‘Road-Trip’-program van stapel gestuur, wat die organisasie in staat gestel het om hul dienste en opleiding na landelike dele van die Wes-Kaap uit te brei. Die Road Trip-program raak tans 250 gesinne direk, en ‘n verdere 700 kinders en hul gesinne indirek. Iris House het noodsaaklike verbeterings aan hul eiendom gemaak en herstelwerk aangebring. Hulle bied tans hul gespesialiseerde dienste aan 320 begunstigdes, asook hul gesinne.
Vir meer inligting oor Autism Western Cape: www.autismwesterncape.org.za
Vir meer inligting oor Iris House Children’s Hospice: www.iris-house.org
Daarbenewens sal die FW de Klerk Stigting se Uitvoerende Direkteur, dr Theuns Eloff, deelneem aan die Konferensie oor die Toekoms van Suid-Afrika, wat op Mandela-dag sal plaasvind. Hierdie konferensie word aangebied deur die Ahmed Kathrada-stigting, Save South Africa, en ander burgerregte-organisasies.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting