Die Nasionale Vergadering het die Onteieningswetsontwerp aanvaar en indien die President dit bekragtig, sal Suid-Afrika ‘n nuwe Onteieningswet hê.
Die nuwe Onteieningswet is lank reeds in die pyplyn – dit is in 2008 van stapel gestuur – met verskeie weergawes wat in die Parlement verval het weens kommer oor die grondwetlikheid daarvan. In verskeie opsigte is hierdie weergawe moontlik die beste tot dusver. Dit wil nie sê dat die nuwe Onteieningswetsontwerp sonder probleme is nie.
Om mee te begin was daar op provinsiale vlak bewerings van onvoldoende openbare deelname in die wetgewende proses. Verskeie mediaberigte het byvoorbeeld daarop gewys dat die publiek in die Oos-Kaap slegs drie dae voordat die openbare verhore ‘n aanvang sou neem, daarvan bewus gemaak is. In die Vrystaat is plekke waar die verhore sou plaasvind na bewering op die laaste minuut verander, wat verwarring veroorsaak het. Dit is te betwyfel of die provinsies daarin geslaag het om voldoende openbare deelname te verseker, wat dus die Nasionale Raad van Provinsies se finale mandaat in twyfel trek.