In hierdie spesifieke saak voor die Hof het die aansoekers beweer dat die NRVP en sommige van die provinsiale wetgewers versuim het om ‘n voldoende mate van openbare deelname te verseker soos deur die Grondwet vereis word. Die aansoekers het voorts die geldigheid van die Wysigingswet betwis op grond daarvan dat die heropening van die venstertydperk vir nuwe grondeise eisers sal benadeel wat hul eise voor 31 Desember 1998 ingestel het, maar wie se eise steeds nie opgelos is nie. Ingevolge die heropende proses, sal nuwe eisers vry wees om eise in te stel op grond wat reeds opgeëis is of wat toegeken is aan bestaande eisers, wat dus tot onsekerheid sal lei. Die aansoekers het ook aangevoer dat die Kommissie op Grondeise ‘n tekort aan kapasiteit het, soos gesien kan word aan die getal eise wat steeds afgehandel moet word. Die Wysigingswet sal net die huidige ondraaglike situasie vererger. Daarbenewens word aangevoer dat die Wysigingswet ontoelaatbaar vaag is en dus nie in staat is om die belange van bestaande eisers voldoende te beskerm nie.
Die Hof het daarop gewys dat die provinsies minder as een kalendermaand het om die wetgewing te verwerk, met slegs drie tot vyf kalenderdae om die publiek van verhore in te lig. Die Hof het die argument verwerp dat die publiek nie aan die wetgewende proses hoef deel te neem nie aangesien sy verkose verteenwoordigers namens die publiek praat – wat die feit beklemtoon dat Suid-Afrika se demokrasie beide verteenwoordigende en deelnemende elemente vervat wat direkte openbare deelname in die wetgewende proses noodsaak. Op grond hiervan het die Hof bevind dat die NRVP onredelik opgetree het deur te versuim om die betrokkenheid van die publiek in te sluit in sy proses om die Wysigingswet in te stel, en om hierdie rede is dit ongeldig verklaar.
Hierdie besluit is belangrik weens die betekenis daarvan vir die Onteieningswetsontwerp. Dit weerspieël, op ‘n manier, dit wat fout is met grondhervorming in die nasie – die onenigheid tussen die Grondwet aan die een kant, en regeringsbeleide aan die ander kant, wat ten doel gehad het om die Staat se grondwetlike verpligtinge te verwesenlik. Dit wil voorkom of die Wysigingswet haastig deur die wetgewende proses gestoot is sonder behoorlike aandag te skenk aan die versekering van voldoende openbare deelname of om selfs die uitvoerbaarheid van sy bepalings te oorweeg. Die Wysigingswet is aanvaar ten spyte van kommer dat 25.9% van die totale grondeise wat by die Departement van Landelike Ontwikeling en Gronhervorming geregistreer is, nog nie afgehandel is nie. ‘n Verdere 50% van die grond wat reeds bekom is vir hersteldoeleindes is ook nogsteeds nie aan die begunstigdes oorgedra nie. Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming raam dat 379 000 nuwe eise tussen 2014 en 2019 ingestel sal word ingevolge die Wysigingswet. Volgens die Kommissie op Grondeise se prestasie sal dit 144 jaar neem om al die eise op te los.
Met die aanvaarding van die Onteieningswetsontwerp, net soos met die Wysigingswet, was daar, op provinsiale vlak, bewerings van onvoldoende openbare deelname in die wetgewende proses. Verskeie mediaberigte het daarop gewys hoe die Oos-Kaap, byvoorbeeld, die publiek slegs drie dae voordat die geskeduleerde openbare verhore ‘n aanvang sou neem, daarvan ingelig is. In die Vrystaat is die plekke waar die verhore sou plaasvind na bewering op die laaste minuut verander na ander plekke as dié wat oorspronklik adverteer is, wat verwarring veroorsaak het. Dit is te betwyfel of die provinsies daarin kon slaag om ‘n voldoende mate van openbare deelname te verseker, wat dus die regmatigheid van die NRVP se finale mandaat in twyfel trek.
Die versuim van een van die Huise van die Parlement om te voldoen aan ‘n grondwetlike verpligting kom uiteindelik neer op die versuim van die Parlement. Die howe het dit baie duidelik gestel dat die wetgewer ‘n plig het om die publiek by die wetgewende proses te betrek. Dit kan aangevoer word dat goeie wette gemaak word, en burgerskap bevorder word, wanneer wetgewers vereis word om die publiek uit te nooi om insette te maak en om daaraan aandag te skenk. Die Parlement versuim sy grondwetlike plig indien die Nasionale Vergadering of die Nasionale Raad van Provinsies nie voldoende openbare deelname fasiliteer nie.
Deur Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte