Die besluit van die Konstitusionele Hof (die Hof) spruit uit ‘n appèlaansoek teen ‘n bevel van die Arbeidsappèlhof. Kortliks is die feite van die saak dat die werknemers van die Departement, bestaande uit vyf bruin vroue, vier bruin mans en een wit man voor 2010 aansoek gedoen het om aanstelling of bevordering. Daarna is hulle op die kortlys geplaas as kandidate wat “sterk voorkeur” geniet ten opsigte van hul onderskeie poste. Weens oorwegings betreffende ras en geslag wat na bewering “oorverteenwoordig” is in die Departement, is hul aanstellings afgekeur op grond daarvan dat dit in strydig sou wees met die Departement se diensbillikheidsplan ingevolge die Wet op Billike Indiensneming. Die Arbeidshof het aanvanklik teen die Departement beslis op grond van onregverdige diskriminasie en onregverdige arbeidspraktyke. Op appèl het die Arbeidsappèlhof saamgestem dat die diensbillikheidsplan nie aan regmatige regstellende aksie-maatstawwe voldoen het nie, maar het egter nie die werknemers se aanstellings en bevorderings bekragtig nie omdat hulle versuim het om te bewys dat selfs indien streeksdemografie oorweeg is, hulle steeds aangestel sou word. Dit is hierdie beslissing van die Arbeidsappèlhof wat toe in die Konstitusionele Hof gedraai het.

Ten opsigte van die beslissing het die Hof dit duidelik gestel dat aangewese werkgewers nie van rigiede kwotas gebruik mag maak wanneer diensbillikheidsplanne opgestel word nie. Aangewese werkgewers moet eerder numeriese teikens daarstel wat voorsiening maak vir afwykings wanneer ‘n behoefte daaraan ontstaan. Die Hof het weer bevestig – deur sy eie beslissing wat voorheen in die Van Heerden-uitspraak gemaak is – dat enige maatreëls om die bevordering van gelykheid te bevorder nie buitensporige laste tot gevolg mag hê nie of mag “neerkom op ‘n misbruik van mag of wat in so ‘n mate wesenlike en onnodige leed besorg aan diegene wat van sy voordele uitgesluit is, dat ons grondwetlike doelwitte op die lang termyn bedreig sal word nie”.

Die besluit verduidelik wat verlang word ten einde ‘n getransformeerde werkplek te verwesenlik – naamlik die breë verteenwoordiging van die mense van Suid-Afrika. Transformasie in die werkplek behoort te bestaan uit inklusiewe rassegroepe en beide geslagte wat in die breë verteenwoordig word.

Die besluit herbevestig die bepalings van die Wet op Billike Indiensneming, wat sy oorsprong in die Grondwet het en wat onregverdige diskriminasie op grond van geslag of ras verbied. Die Hof het oorweeg dat die Departement slegs nasionale demografie gebruik het om die vlak van verteenwoordiging van die verskillende aangewese groepe te bepaal. Dit ten spyte van die feit dat die Departement verplig was om gebruik te maak van die demografiese profiel van beide die nasionale en streeksbevolking wat ekonomies aktief is, in ooreenstemming met die Wet op Billike Indiensneming. Op grond hiervan het die Hof bevind dat die Departement onwettig opgetree het. Die Hof het voorts die Departement se argumente verwerp dat dit ‘n nasionale departement is en dus vrygestel is daarvan om die vereiste na te kom dat beide nasionale en streeksdemografie oorweeg moet word. Aangesien die Departement se mening dat bruin mense en vroue oorverteenwoordig is, onwettig is, en voorts dat die Departement versuim het om te bewys dat die diskriminasie rasioneel was, kan aangevoer word dat die Departement se versuim om bruin mense en vroue aan te stel neerkom op onregverdige diskriminasie, wat weer neerkom op onregverdige arbeidspraktyke. Gevolglik het die Hof beveel dat die bruin en vroulike aansoekers aangestel word in die poste wat steeds vakant is.

Die besluit wys op die delikate balansering en die onderliggende spanning tussen, aan die een kant, die Grondwet se doel om die onregmatighede van die verlede te erken en reg te stel, en die verbintenis tot die daarstelling van ‘n nie-rassige, nie-seksistiese en maatskaplik inklusiewe samelewing aan die ander kant. Verdere spanning bestaan ook tussen die reg op gelykheid deur ‘n individu, teenoor die gelykheid van die samelewing in sy geheel. Desnieteenstaande wys die beslissing daarop dat die Hof bewus is van hierdie mededingende belange, en dat dit uiteindelik groter begrip verleen aan hoe die reg op gelykheid opgeëis kan word.

Deur me Phephelaphi Dube, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.