Die howe het dit baie duidelik gemaak dat die wetgewer ‘n plig het om die publiek by die wetgewende proses te betrek. Die Konstitusionele Hof het in Doctors for Life International v The Speaker of the National Assembly and Others dit duidelik gestel dat goeie wette gemaak word en burgerskap bevorder word wanneer daar van wetgewers vereis word om die publiek om insette te nader en dit in ag te neem. Dieselfde saak het dit duidelik gemaak dat die Parlement sy grondwetlike plig sou versuim indien die Nasionale Vergadering of die Nasionale Raad van Provinsies nie openbare deelname voldoende fasiliteer nie.

Wanneer substantiewe bepalings van die Wetsontwerp oorweeg word, is die definisie van onteiening moontlik die mees kommerwekkendste. Die Wetsontwerp definieer onteiening as die verkryging van eiendom. Die definisie is problematies omdat die idee van voogdyskap, soos bekendgestel in die Agri South Africa v Minister for Minerals and Energy and Others (AgriSA)-beslissing, bepaal dat minerale bronne nie deur die Staat verkry word nie, maar in voogdyskap vir alle Suid-Afrikaners geplaas word, wat dus geen vergoeding vereis nie, ten spyte van die algehele ontneming van die regte van eienaarskap. Die AgriSA-beslissing was versigtig om die idee van voogdyskap te beperk tot spesifieke feite – ‘n punt wat die Wetsontwerp nalaat. Die blote idee van die Staat se “voogdyskap” oor nie-natuurlike bronne geniet nie veel steun in akademiese en regskringe nie.

Die Wetsontwerp maak voorsiening vir onteiening om `n openbare doel en in die openbare belang. Die idee van openbare belang is goed gevestig in die reg en sluit in onteiening vir openbare doeleindes, soos die bou van paaie of damme. Die konsep van “openbare belang” is egter vaag en die definisie in die Wetsontwerp haal slegs die Grondwet verbatim aan met die gevolg dat “openbare belang” die nasie se verbintenis tot grondhervorming en tot hervormings om billike toegang tot al Suid-Afrika se natuurlike bronne te bewerkstellig, insluit.

Dit is onvoldoende vir die Wetsontwerp om die Grondwet eenvoudig verbatim aan te haal. Die rol van die wetgewing is om uitvoering aan die Grondwet te gee deur die bepalings duidelik te stel. Deur eenvoudig te herhaal wat reeds gesê is verleen nie groter begrip ten opsigte van die bestaande grondwetlike bepaling nie en laat die Wetsontwerp se bepalings vaag. Die vaagheid skep onsekerheid en kan lei tot onreëlmatighede – en moontlik uitdagings in die Konstitusionele Hof.

Daarbenewens is die Wetsontwerp se definisie van eiendom – eiendom soos in artikel 25 van die Grondwet vervat word – so breed dat dit feitlik enige vorm van eiendom kan insluit, met inbegrip van inheemse kennisstelsels en ander vorms van intellektuele eiendom.

Die Onteieningswetsontwerp blyk ook om oordragte deur derde partye toe te laat in sover dit die onteiening van eiendom vir private individue toelaat. Soos ons voorheen opgemerk het, kan die Wetsontwerp ampsoortredings of die misbruik van gesag aanmoedig, in die afwesigheid van ‘n uitdruklike bepaling in die Wetsontwerp wat oordragte met betrekking tot derde partye vir ekonomiese ontwikkeling te verbied. Afgesien van grondhervorming (wat reeds ‘n vereiste in die Grondwet is), baan oordragte met betrekking tot derde partye vir uitsluitlik ekonomiese ontwikkeling die weg vir onreëlmatighede en misbruik.

Dit moet wel op gewys word dat die Wetsontwerp, in vergelyking met vorige weergawes, beter beskerming bied aan eienaars in die sin dat dit verpligtend is vir die Staat om eers te poog om die eiendom by wyse van ‘n ooreenkoms te bekom. Slegs waar daar geen ooreenkoms is nie, kan die Staat voortgaan om die eiendom te onteien. Terwyl markwaarde slegs een van die faktore is wanneer die vergoedingsbedrag bepaal word, moet dit steeds ‘n regverdige en billike bedrag wees, wat ook die eienaar se belange in ag neem. In ooreenstemming met artikel 25(b) van die Grondwet is dit egter die Howe, en nie die Staat nie, wat die laaste sê het ten opsigte van die vergoedingsbedrag. Dit is ‘n groot verbetering op die Wetsontwerp van 2008, wat in wese gepoog het om die rol van die Howe te omseil wat die bepaling van vergoeding vir onteiende eiendom betref.

Dat Suid-Afrika ‘n nuwe onteieningsproses nodig het, een wat in ooreenstemming met die Grondwet is, is gegewe. Desnieteenstaande moet die onteieningsproses die delikate balans weerspieël wat die beskerming van eiendomsregte noodsaak terwyl dit voorsiening maak vir grondhervorming, soos weerspieël in die eiendomsklousule in die Grondwet. Die Wetsontwerp is steeds heeltemal te vaag, veral met betrekking tot sy definisies van onteiening, eiendom en die openbare belang, en ook weens die bepaling vir onteiening namens derde partye.

Dit mag raadsaam wees vir die President om die Wetsontwerp terug te verwys na die Nasionale Vergadering sodat die grondwetlikheid daarvan bepaal kan word, voordat hy dit bekragtig. 

Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte 

Leave a Reply

Your email address will not be published.