Die Hoë Hof in Limpopo in Thohoyandou het onlangs ‘n artikel in die Wet op die Erkenning van Gebruiklike Huwelike ongeldig verklaar wat die vermoënsregtelike gevolge van poligame huwelike wat voltrek is voordat die Wet op die Erkenning van Gebruiklike Huwelike op 15 November 2000 in werking getree het, reguleer. Die betrokke artikel sluit vroue in gebruiklike huwelike uit van die besit en beheer van eiendom op gelyke grondslag met hul gades. Die bepaling het beteken in wese dat sodanige gebruiklike huwelike buite gemeenskap van goedere gereguleer word, terwyl huwelike wat voltrek is nadat die Wet op die Erkenning van Gebruiklike Huwelike in werking getree het, binne gemeenskap van goedere is. Dieselfde hof het daarop gewys dat die individue wat waarskynlik die negatiefste geraak sal word deur hierdie aanvegbare bepaling, ouer vroue is. Sonder versekerde eiendomsregte sal hierdie groep vroue aan groot lyding onderwerp word. Gevolglik het die wet hul reg op gelykheid en waardigheid ondermyn en onregverdig gediskrimineer teen vroue in poligame huwelike.
Nog ‘n kommerwekkende voorval behels nuusberigte oor die munisipaliteit uThukela se instelling van “Beurse vir Maagde”. Die Kommissie oor Geslagsgelykheid het die beursskema, wat aan 16 jong vroue toegeken word en wat toegeken word op voorwaarde dat hulle vir die duur van hul studies maagde bly, ongrondwetlik verklaar. Die Kommissie het voorts bygevoeg dat “enige finansiering deur ‘n staatsorgaan gegrond op ‘n vrou se seksualiteit patriargie en ongelykheid in Suid-Afrika bevorder.” Die ware kommer is die feit dat maagdelikheidstoetse, ‘n oeroue praktyk met sy oorsprong in baie gebruiklike tradisies, steeds deur so baie samelewings toegepas word, veral in KwaZulu-Natal. Ongeag die aangevoerde redes vir die meriete daarvan, behoort die miskenning van die liggaamlike anatomie van jong vroue geen plek in ‘n grondwetlike demokrasie te hê nie.
Dit is ook kommerwekkend dat huwelike wat ingevolge Islamitiese reg voltrek is, nie formeel deur die reg erken word nie. Dit beteken dat individue in sulke verbintenisse nie die regte geniet wat ander gades in huwelike ingevolge die land se burgerlike wette geniet nie. Alhoewel die howe en die Staat betekenisvolle stappe geneem het ten einde sodanige huwelike te erken, is die werklikheid dat paartjies wat kies om ingevolge Islamitiese reg te trou, slegs die volle beskerming van die gereg kan geniet indien hulle, benewens die huwelik ingevolge Islamitiese reg, ‘n burgerlike huwelik registreer. Dit weerspieël ‘n onenigheid tussen die reg op godsdienstige en kulturele regte aan die een kant en die reg op gelykheid aan die ander kant. En dit is hoog tyd dat die Wetsontwerp op Moslemhuwelike deur die Parlement aanvaar word sodat gades ingevolge Islamtiese reg dieselfde regte kan geniet as diegene wat ingevolge burgerlike wette getroud is.
Sedert die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie se besprekingsdokument in 1999 oor tradisionele howe en die regterlike funksie van tradisionele leiers, is die idee van wetgewing wat tradisionele howe reguleer steeds aktueel. Daar was twee pogings, een in 2008 en nog een in 2012, om ‘n Wetsontwerp op Tradisionele Howe in te stel. Op beide geleenthede het die Wetsontwerp in die Parlement verstryk weens beskuldigings dat sommige van sy bepalings ongrondwetlik is. Vroueregtegroepe en ander organisasies het spesifiek gewys daarop dat vroue in tradisionele howe nie toegelaat is om te praat of om hulself te verteenwoordig nie, maar moes steun op manlike familielede om hulle te verteenwoordig. Dit benadeel vroue spesifiek in gevalle wat spruit uit geskille met manlike familielede of waar hulle nie manlike familielede het om hulle te verteenwoordig nie. Wat ook hiermee verband hou is die feit dat voorsittende beamptes gekies word uit diegene met koninklike bloed, en in meeste gemeenskappe is tradisionele leiers mans. Die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste is op rekord waar hy gesê het dat ‘n herverwekte weergawe in die Parlement deur die loop van die jaar ingestel sal word, en ons sal nog moet sien hoe dit die regte en belange van vroue wat onder die jurisdiksie van tradisionele leiers is, sal bevorder.
Uiteindelik is die vraag – hoe kan kulturele en godsdienspraktyke in ooreenstemming met die Grondwet gebring word sonder om individue en gemeenskappe wat sodanige praktyke navolg, te swaar te belas? Dit is waar dat daar sedert 1994 vordering gemaak is ten opsigte van die behaling van vroueregte, maar dit is ook waar dat hierdie vordering gebaseer is op faktore soos geografiese ligging, sosio-ekonomiese omstandighede, ras sowel as kultuur en godsdiens. Dit plaas stedelike Suid-Afrikaanse vroue in ‘n beter posisie as hul landelike eweknieë wat menseregte betref. Hierdie polariteit moet aangepak word deur wetgewing in te stel wat die reg op gelykheid, waardigheid, kultuur en godsdiens behoorlik balanseer.
Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte