Die Grondwet bepaal dat Suid-Afrika ‘n nasie is wie se grondliggende waardes universele stemreg, ‘n nasionale algemene kiesersrol, gereelde verkiesings en ‘n veelpartystelsel van demokratiese regering daarstel ten einde verantwoordbaarheid, ‘n responsiewe ingestelheid en openheid te verseker. Politieke regte word ook verskans in die Handves van Regte, ingevolge waarvan Suid-Afrikaanse burgers vry is om politieke keuses uit te oefen. Die Grondwet gee ook aan burgers die reg op vry, regverdige en gereelde verkiesings, terwyl dit ook dieselfde burgers se reg waarborg om in verkiesings te stem, asook die vermoë om ‘n kandidaat vir ‘n openbare amp te wees, en indien verkies, die amp te beklee.
Die Verkiesingskommissie is ‘n liggaam wat deur die Grondwet ingestel is om verkiesings op alle vlakke te bestuur, wat ook die verdere rol het om te verseker dat verkiesings vry en regverdig is. Die Kieswet bevat ‘n gedragskode ten opsigte van verkiesings, wat ten doel het om toestande te bevorder wat bevorderlik is vir vry en regverdige verkiesings en wat ‘n klimaat skep van verdraagsaamheid, vrye politieke veldtogte en oop openbare debatte. Al die partye wat geregistreer het om aan die verkiesings op 3 Augustus deel te neem, asook die kandidate wie se name op die verskeie partylyste verskyn, het tot die Kode ingestem.
Die Kode verbied pertinent gewelddadige optrede, benewens die gebruik van taal wat geweld aanhits. Die Kode verbied ook die intimidasie van kandidate of kiesers, benewens die misbruik van magsposisies, bevoordeling of om die uitslag van verkiesings te beïnvloed. Individue, so wel as politieke partye, wat daarvan skuldig bevind word dat hulle die Kode ondermyn, kan ‘n boete en/of gevangenisstraf opgelê word. Uiteindelik het politieke partye ‘n plig om hul kiesafdelings te bestuur, asook die prosesse wat die aanstelling van verkiesingskandidate bepaal, ten einde te verseker dat daar geen openbare geweld plaasvind nie.
Politieke partye en kandidate moet in gedagte hou dat ‘n vry en regverdige verkiesing nie net gaan oor die prosesse en die tel van stemme op Verkiesingsdag nie. Verkiesingsuitslae moet vertroue waardig wees – die geweld, verwoesting van eiendom, moorde en beweerde intimidasie kan moontlik die komende verkiesing in ‘n negatiewe lig stel.
Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) erken dat die voortgesette geweld wat met verkiesings verband hou nie net ‘n uitwerking het op die nasie se grondliggende waardes het nie, maar ook op die politieke regte van individuele Suid-Afrikaners. Uiteindelik maak dit saak, beide plaaslik en in die internasionale arena, dat Suid-Afrika vreedsame, geloofwaardige, vry en regverdige verkiesings het. Dit skep vertroue in Suid-Afrika se demokrasie, asook vertroue in die Staat se vermoë om die Oppergesag van die Reg na te kom. Gevolglik doen die SGR ‘n beroep om vreedsame dialoë betreffende die oplossing van konflik, en herinner ook die gemeenskappe wat ongelukkig is met politieke leierskap dat hulle ook hul ongelukkigheid op 3 Augustus 2016 by die stembus kan laat hoor.
Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: www.tshwane.gov.za