Die Nasionale Vergadering se besluit op 27 Februarie om die eiendomsklousule te hersien, het byna in histerie, of euforie, ontaard. Daar is egter ‘n groot gebrek aan nuanse, en selfs doelbewuste weerhouding van inligting, oor die inhoud van die mosie wat aanvaar is.
Die kern van die finale gewysigde besluit is om “artikel 25 van die Grondwet en ander klousules, wat nodig is om die staat in staat te stel om grond in die openbare belang sonder vergoeding te onteien, te hersien, en om in die proses openbare verhore te hou om die standpunte van gewone Suid-Afrika Afrikaners, beleidmakers, burgerlike organisasies en akademici te kry oor die noodsaaklikheid van en meganismes vir die onteiening van grond sonder vergoeding.”
Die resolusie is, soos dit voorkom, vaag, en miskien doelbewus so. In wese plaas dit die bal in die hande van die Suid-Afrikaanse publiek, en eis dat die publiek die gapings invul wat deur die vaagheid daargestel is. Die bewoording is deurtrek met dubbelsinnigheid en kan beslis op verskeie wyses uitgelê word. Hierdie artikel fokus dus op wat kón gewees het – maar nie is nie: die Staat as die bewaarder van alle grond.