Suid-Afrika is tans ‘n baie beter weergawe as die een wat hy in 1956 was. Hierdie verbeteringe is grootliks danksy sy progressiewe Grondwet, wat substantiewe en formele gelykheid voor die reg waarborg. Dit beteken egter nie dat nirvana vir Suid-Afrika se vroue bereik is nie. Statistieke wat onlangs deur Statistiek Suid-Afrika (Stats SA) uitgereik is, wys dat die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika tot 27.2% in die tweede kwartaal van 2018 toegeneem het, van 26.7% in die vorige tydperk. Die getal werkloses het met 103 000 gestyg tot by 6.08 miljoen, terwyl die getal mense wat in diens is, met 90 000 gedaal het tot by 16.29 miljoen. Dieselfde Quarterly Labour Force Survey, met die gebruik van die uitgebreide werkloosheidskoers, wys dat die koerse hoër onder vroue as mans is. Die werkloosheidskoers, volgens die amptelike definisie, is 29.5% onder vroue in die tweede kwartaal van 2018, teenoor 25.3% onder mans.
Verdere syfers van StatsSA wys dat baie meer vroue as mans MIV-positief was, terwyl die voorkoms van MIV in vroue tussen die ouderdrom van 15 tot 24 byna vier keer groter as dé van mans van daardie ouderdom is.
Volgens ‘n verslag van Eerste Nasionale Bank, is vroue in eiendom nog nie op dieselfde vlak as mans in alle aspekte van huiseienaarskap nie, met inbegrip van belegging. Ten spyte van onlangse syfers wat wys dat enkellopende vroue na raming 10.3% van kopers uitemaak, klop enkellopende manlike kopers hul steeds met 3.3% – vroue is steeds agter mans met betrekking tot algehele eienaarskap van eiendom.
Met die oorweging van patrone van grondeienaarskap, besit mans 26 202 689 hektaar of 72% van die totale plase en landbouhoewes wat deur individuele eienaars besit word. Dit word gevolg deur vroue op 4 871 013 hektaar, of 13%, volgens die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se grondoudit van 2017.
Anders as in 1956 is die “vyand” vir vroue nie altyd so duidelik identifiseerbaar nie. Nietemin wys die bostaande statistieke dat ongeag die nywerheid of sektor, vroue steeds grootliks in kwesbare posisies is, of dit nou die moontlikheid is om MIV/Vigs op te doen, of die kwessie oor toegang tot grond. Dit beteken dat daar ‘n behoefte is aan voortgesette skakeling en aktivisme deur vroue oor sodanige kwessies.
Die laaste sensus het getoon dat die gemiddelde Suid-Afrikaner 26.1 jaar oud is en meer geneig is om ‘n vrou te wees. Aan die ander kant dui ‘n opname wat deur Afrobarometer in 2016 gedoen is aan dat jong vroue besonder apaties is teenoor openbare beleidskwessies en minder geneig is om betrokke te raak by politieke en burgerlike aangeleenthede. Dieselfde opname toon dat die jeug minder geneig is as hul ouer eweknieë om deel te neem aan politieke en burgerlike aktiwiteite, hetsy deur middel van stemming, gemeenskapsvergaderings of om byander betrokke te raak om kommer oor kwessies aan te spreek. Jong vroue in die besonder, toon beduidend minder belangstelling in openbare sake as jong mans.
Die belangrikheid van openbare deelname moenie onderskat word nie – dit stel die publiek in staat om ‘n sê te hê in besluite wat hul lewens raak. In 2010 het die Konstitusionele Hof die Communal Land Rights Act (CLRA) geskrap op grond daarvan dat die wetgewende proses nie oorleg met die breër publiek gepleeg het nie. Die CLRA sou, deur die belange van tradisionele leiers bo die van ander te stel, ‘n negatiewe uitwerking gehad het op sekerheid van landelike verblyfreg, veral vir vroue. Om hierdie rede word die idee van openbare deelname gesteun deur die reg op vryheid van uitdrukking, wat die vryheid insluit om inligting te soek, ontvang en te deel. Dit is dus belangrik dat meer vroue hulself uitdruk en laat geld oor aangeleenthede wat ‘n uitwerking het op die realiteit van Suid-Afrika se vroue.
Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie word verbeter wanneer daar robuuste skakeling is met wetgewende, beleids- en ander besluitnemeningsprosesse. Daar moet voortgesette skakeling wees met openbare aangeleethede as deel van jou burgerlike plig. Soos die Konstitusionele Hof op gewys het in Doctors for Life International v Speaker of the National Assembly and Others: “…participatory democracy is of special importance to those who are relatively disempowered in a country like ours where great disparities of wealth and influence exist”. 9 Augustus is ‘n beroep op die vroue van Suid-Afrika om hul burgerlike plig te aktiveer en hernu, deur betekenisvolle skakeling met kwessies wat die meeste op vroue van toepassing is.
Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte
8 August 2018