Suid-Afrika het die VN Konvensie bekragtig en deel dus ook hierdie verantwoordelikheid. Die Wet op Vlugtelinge van 1998 (die Vlugtelingewet) skryf die wyse voor waarop asielsoekers aansoek kan doen om vlugtelingstatus te bekom in Suid-Afrika en beklemtoon veral die VN Konvensie beginsel van “non-refoulement”. Dié beginsel behels dat lande wat die VN Konvensie bekragtig het, nie vlugtelinge sal terugstuur na lande waar hul vryheid en lewe bedreig word as gevolg van hul “ras, geloof, nasionaliteit, verbintenis met ‘n spesifieke groep of weens hul politiese opinie” nie. Nietemin, blyk dit dat die toekenning van vlugtelingstatus in Suid-Afrika baie omstredenheid veroorsaak, en dat die asielaansoekproses al vir jare gedompel is in korrupsie en bedrog. Hierdie probleem moes dringend aangespreek word en in Desember 2017 het die President die Wysigingswet op Vlugtelinge van 2017 (2017 Wysigingswet) onderteken, wat maatreëls uiteensit om korrupsie en bedrog te bekamp. Die 2017 Wysigingswet het tot op hede nog nie in werking getree nie.
Die asielaansoekproses moet nie in isolasie gesien word nie. In Suid-Afrika word die beweging van mense in en uit die land, benewens die Vlugtelingewet, ook deur die Wet op Immigrasie van 2002 (Immigrasiewet), gereguleer. Volgens die Departement van Binnelandse Sake se 2016/17 jaarverslag, is daar by Suid-Afrika se 72 aankomshawens 40 miljoen aankomstes per jaar aangeteken. Aankomshawens is ook die eerste punt waar asielsoekers met ons land se administrasiesisteem te doen kry, en waarna hulle aan ‘n vlugtelingontvangskantoor verwys word om aansoek te doen om asiel in Suid-Afrika. Grensbestuur speel derhalwe ‘n belangrike rol in Suid-Afrika se asielaansoekproses.
Teen hierdie agtergrond is dit juis van belang om die omstrede Border Management Authority Bill (BMA Wetsontwerp), wat tans voor die Parlement dien, van nader te beskou. Die BMA Wetsontwerp is, ten spyte van ernstige besware, in Junie 2017 deur die Parlement se Nasionale Vergadering goedgekeur en dien tans voor die Parlement se Nasionale Raad van Provinsies (NRVP). Indien die NRVP dit sou goedkeur, moet die President dit slegs onderteken.
Die BMA Wetsontwerp se doelwit is om grensbestuur – wat tans deur verskeie Departemente, soos die Departement van Gesondheid, Binnelandse Sake en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) uitgeoefen word – te integreer onder ‘n enkele gesag. Die BMA Wetsontwerp bring die sogenaamde “Grensbestuurgesag” tot stand, in Engels bekend as die Border Management Authority (BMA). Die hoof van hierdie liggaam sal aan die Minister van Binnelandse Sake rapporteer.
Die BMA word in taamlike vae terme in die Wetsontwerp beskryf as ‘n “gewapende organisasie” in terme van artikel 199(3) van die Grondwet wat die “uitsluitlike” reg het om “grenswetstoepassingsfunksies” binne die “grenswetstoepassingsgebied” en by die aankomshawens uit te oefen. Die “grenswetstoepassingsgebied” word in die Wetsontwerp basies beskryf as ‘n afstand van 10km vanaf ‘n landgrens of maritieme grens. Dus het ons te doen met ‘n veiligheidsliggaam wat aan die Minister van Binnelandse Sake rapporteer. Die BMA se funksies behels ook die “fasilitering” en “bestuur” van mense en goedere by die punte en, kommerwekkend, ook die “fasilitering” van die invordering van belasting by die aankomshawens en binne die “grenswetstoepassingsgebied”.
Met ‘n noukeurige lees van die Wetsontwerp, is daar verskeie gevaartekens. Die BMA Wetsontwerp se beoogde jurisdiksie ondergrawe die gevestigde magte van die SAID met betrekking tot die heffing, invordering en administrasie van belasting. Die Nasionale Tesourie het benadruk dat die administrasie van belasting nie geskei kan word van invordering nie en die Davis Belastingkommittee het duidelik gemaan dat die BMA nie enige magte van die SAID kan oorneem nie. Verder ondergrawe die BMA Wetsontwerp die grondwetlike magte van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), met die verwysing na die “uitsluitlike” reg van BMA beamptes om “grenswetstoepassing funksies” uit te oefen binne die “grenswetstoepassingsgebied” en aankomshawens. Die SAPD se grondwetlike mandaat om die Wet toe te pas, misdaad te bekamp en te voorkom in die hele Republiek kan nie uitgesluit word nie.
Die BMA Wetsontwerp maak ook geen verwysing na die Immigrasiewet of die Vlugtelingewet nie. Daar is geen duidelikheid of die BMA beamptes wetstoepassing in terme van die Immigrasiewet of die Vlugtelingewet gaan uitvoer nie. Die BMA Wetsontwerp ken ook wye magte aan BMA beamptes ten opsigte van deursoeking, beslaglegging en arrestasie met of sonder ‘n lasbrief, sonder om hierin enige verwysing na die Strafproseswetvan 1977 te maak. Sulke wye magte kan maklik misbruik word teen asielsoekers en dit is hoogs onwaarskynlik dat hulle BMA beamptes se magte in die desperate omstandighede sal bevraagteken.
Regsonserkerheid en onduidelike wetgewing skep die ideale geleentheid vir korrupsie en bedrog. Die BMA Wetsontwerp skep nie net onsekerheid oor belastingadministrasie en wetstoepassing nie, maar ken ook oormatige magte aan BMA beamptes toe. Wêrelddag vir Vlugtelinge dien as ‘n belangrike herinnering dat ons die skep van wetgewing met groot omsigtigheid moet volg om sodoende te verseker dat dit uiting gee aan die oppergesag van die Reg en die Handves van Regte.
Me Christine Botha: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte
20 Junie 2018