Die regering het die afgelope week nie net die Grondwet en oppergesag van die reg verontagsaam nie, maar ook sy tong vir die volkereg en internasionale gemeenskap uitgesteek.
Deur nie vir Omar al-Basjir, die Soedanse president, in hegtenis te neem en uit te lewer aan die Internasionale Strafhof nie – én ’n hooggeregshofbevel te verontagsaam – het die uitvoerende gesag op die duidelikste manier tot nog toe sy ware kleure gewys.
Al-Basjir word gesoek op vyf aanklagte van misdade teen die mensdom, twee aanklagte van oorlogsmisdade en drie aanklagte van volksmoord. Hierdie aanklagte spruit uit die dood van nagenoeg 300 000 Soedannese en die skending van die menseregte van duisende ander.