Suid-Afrika was nou betrokke by die onderhandelings en aanvaarding van die Statuut van Rome wat dié hof tot stand gebring en van bepaalde magte voorsien het. Suid-Afrika het op 17 Julie 1998 een van die eerste lande geword wat die statuut onderteken het.
Die Nasionale Vergadering en Nasionale Raad van Provinsies het die besluit goedgekeur en op 27 November 2000 die statuut bekragtig. Gevolglik is Suid-Afrika ’n volwaardige lidland van die Internasionale Strafhof en gebind deur die bepalings van die statuut.
In ooreenstemming met die vereistes van die statuut, maar ook artikel 231 van die Grondwet, het die parlement die statuut in sy geheel verorden deur middel van die Wet op die Inwerkingstelling van die Statuut van Rome van die Internasionale Strafhof, Wet 27 van 2002. Suid-Afrika is dus nie net gebind tot die bepalings van die statuut nie, maar ook deur sy eie wetgewing soos deur die Grondwet verorden.
Volgens die statuut, maar ook volgens Suid-Afrika se eie wet, moet die land gehoor en uiting gee aan die Strafhof se lasbriewe. Om hierdie rede het Suid-Afrikaanse howe jurisdiksie wanneer ’n persoon ’n misdaad volgens die bepalings van dié wet buite Suid-Afrika se grondgebied pleeg en hom ná afloop daarvan in Suid-Afrika bevind.
Dit is in 2014 deur die konstitusionele hof bevestig. Die Suid-Afrikaanse owerheid moes Al-Basjir dus in hegtenis geneem het die oomblik dat hy sy voete in Suid-Afrika gesit het. Die regering het dit nie gedoen nie, maar besluit om eerder diplomatieke immuniteit aan hom te verleen sodat hy ’n beraad van die Afrika-Unie in Sandton kan bywoon. Dit is gedoen onder die vaandel van die Wet op Diplomatieke Immuniteit en Voorregte, ongeag te feit dat misdade wat volgens die Rome-statuut en die statuut-wet gepleeg is, nie onderworpe is aan immuniteit nie.
Daarbenewens bepaal artikel 233 van die Grondwet dat ’n Suid-Afrikaanse hof altyd wetgewing op so ’n manier moet interpreteer dat dit versoenbaar is met die volkereg en bindende internasionale verpligtinge. Die doel van die Strafhof is juis om straffeloosheid hok te slaan en te verhoed dat staatshoofde, militêre leiers en ander ampsdraers hulle skuldig maak aan menseregteskendings en dan ’n veilige hawe gaan soek op grond van hul status. Gegewe ons eie geskiedenis en grondwetlike bestel, gegrond op menseregte, laat dit ’n bitter smaak in die mond dat ons regering aan enigiemand om watter rede ook al immuniteit wil gee vir misdade teen die mensdom, volksmoord en oorlogsmisdade.
Namate dit duidelik geword het dat die regering hom nie gaan steur aan sy eie wetgewing of internasionale verpligtinge nie, het die Suider-Afrikaanse litigasiesentrum (SALC) ’n aansoek in die hooggeregshof gebring om die uitvoerende gesag te verplig om sy plig na te kom. Die hooggeregshof het dienooreenkomstig ’n tussentydse bevel uitgereik wat Al-Basjir verhoed het om Suid-Afrika te verlaat voordat die saak afgehandel is. Die regering het hand op die hart belowe dat die bevel gehoorsaam sou word.
Die hooggeregshof het die aansoek aangehoor en, soos wat verwag is gegewe die duidelike regsposisie, bevind die regering het strydig met die Grondwet en sy eie wetgewing opgetree deur nie vir Al-Basjir in hegtenis te neem en uit te lewer nie. Die hof het ook ’n bevel gemaak dat laasgenoemde sonder verwyl moet gebeur. In hierdie stadium het die regering die hof ingelig dat Al-Basjir soos ’n skim die land verlaat het. Dat Al-Basjir dit reggekry het om klaarblyklik van Suid-Afrika se grootste lugmagbasis te vertrek sonder die regering se medewete, spreek óf van totale onbevoegdheid aan regeringskant óf van ’n daadwerklike besluit van die regering om die hofbevel te verontagsaam. Albei moontlikhede laat Suid-Afrika in ’n gevaarlike grondwetlike plek.
Intussen is daar berig dat Suid-Afrika se troepe in Soedan as “gyselaars” gebruik is om die regering te dwing om Al-Basjir te laat gaan. Of daar waarheid in steek, is te betwyfel. Indien dit wel die geval was, was dit geen afpersing nie, maar volgens die volkereg ’n daad van aggressie. Dat die Suid-Afrikaanse regering nie so ’n daad onmiddellik onder die Verenigde Nasies en Afrika-Unie se aandag gebring het nie, sy troepe onttrek het en diplomatieke bande met Soedan opgeskort het nie, het geen sin nie. Hierdie storie, wat terloops deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontken word, is waarskynlik net die aanloop tot ’n kleurvolle verweer wanneer die regering in die komende week aan die hooggeregshof moet verklaar waarom sy bevel verontagsaam is.
As die regering – soos wat blyk uit uitlatings van senior ANC-lede – nie meer aan die Internasionale Strafhof en sy statuut onderhewig wil wees nie, is daar grondwetlike en volkeregtelike prosesse wat gevolg moet word. Die regering het nie ’n diskresie wat hierdie prosesse betref nie.
Hierdie fiasko laat ernstige vrae rakende die regering se verbintenis tot die regstaat, oppergesag van die reg en die bevordering en beskerming van menseregte ontstaan. Sy onwilligheid om te voldoen aan sy internasionale verpligtinge sal ook nie ongesiens by die internasionale gemeenskap verbygaan nie. In die volkereg is daar twee beginsels wat ’n land se erns rakende ’n volkeregtelike kwessie bepaal: of ’n land homself gebonde beskou aan bepaalde reëls en hoe ’n land optree jeens daardie reëls. Hoe die Suid-Afrikaanse regering in hierdie geval opgetree het, gaan nie die Suid-Afrikaanse publiek, die hooggeregshof of die internasionale gemeenskap oortuig van sy goeie bedoelings nie.
Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Hierdie artikel het eers in Rapport Weekliks [21 Junie 2015] en op www.netwerk24.com [21 Junie 2015] verskyn.
Foto: http://en.hukumonline.com