Die bogenoemde verklaring deur die Sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-moon, som die Suid-Afrikaanse verhouding met en behandeling van migrante, vlugtelinge en asielsoekers perfek op. Suid-Afrika se Grondwet bied menseregte aan alle persone, terwyl verskeie wette en beleide die regte van migrante, vlugtelinge en asielsoekers beskerm en bevorder. In praktyk word hierdie regte egter dikwels met straffeloosheid geskend, en die regering is al te dikwels aandadig aan hierdie skending van regte.

Na 1994 het Suid-Afrika ‘n bestendige toename in die getal vlugtelinge en asielsoekers ervaar. In 2010 het hierdie syfers verseker dat Suid-Afrika die meeste individuele aansoeke van asielsoekers van Afrika en elders gehad het. Die Verenigde Nasies se Hoë Kommissariaat vir Vlugtelinge (UNHCR) verklaar dat daar 65 000 erkende vlugtelinge in Suid-Afrika is. Daarbenewens was daar 230 000 asielsoekers teen die einde van 2013 wat gewag het op besluite van die Departement van Binnelandse Sake (die Departement). Volgens die UNHCR het die meeste vlugtelinge en asielsoekers in Suid-Afrika gevlug van die konflik in die Demokratiese Republiek van die Kongo, die veiligheidsituasie in Somalië, of hulle is individue wat vervolging in lande soos Burundi, Ethiopië, Rwanda en Zimbabwe in die gesig staar.

Die Suid-Afrikaanse beskermingstelsel vir vlugtelinge word gereguleer deur die Wet op Vlugtelinge, wat die integrasie van die stedelike vlugtelingsbevolking bevorder. Die Wet op Vlugtelinge sluit die basiese beginsels van die beskerming van vlugtelinge in, met inbegrip van vryheid van beweging, die reg om te werk, en toegang tot basiese maatskaplike dienste. Die asielstelsel is oorweldig. Die toenemende getal aansoeke het ‘n agterstand geskep, wat die gehalte en doeltreffendheid van die bepaling van vlugtelingstatusse raak. Dit beteken dat die regering dikwels nie in staat is om sy wettige mandaat om die bepaling van vlugtelingstatusse doeltreffend uit te voer of om dokumentasie aan vlugtelinge te voorsien nie.

Ander organisasies soos die Universiteit van Kaapstad se Regskliniek vir Vlugtelinge wys daarop dat Suid-Afrika ook versuim het om ‘n algemene omgewing vir die beskerming van die regte van vlugtelinge daar te stel, en dat dit gereeld onwettig optree. Hierdie onregmatige optrede is onlangs beklemtoon toe die Departement meer as 200 mense aangehou het – met inbegrip van vlugtelinge en asielsoekers – dit terwyl hulle die mense van toegang tot prokureurs in ooreenstemming met die reg weerhou het. Sommige van die individue is na bewering gedeporteer, wat beteken dat Suid-Afrika moontlik die beginsel van non refoulement geskend het, wat vlugtelinge die reg waarborg om nie gedwing te word om na hul lande terug te keer nie. Dit is ‘n beginsel van internasionale gewoontereg, wat ook in die VN se konvensie vervat word wat verband hou met die status van vlugtelinge, wat Suid-Afrika onderteken en bekragtig het. Gevolglik is Suid-Afrika verplig om hierdie beginsel te handhaaf.

Nog ‘n voorbeeld van die regering se oënskynlike onwilligheid om die regte van vlugtelinge en asielsoekers te bevorder is die feit dat Prokureurs vir Menseregte in 2012 en 2013 hofbevele verkry het wat die sluiting van die kantoor van die Departement van Binnelandse Sake in Port Elizabeth ter syde gestel het. Die Departement het beide hofbevele ignoreer. Die Vlugtelingontvangskantoor is in 2011 gesluit, met die gevolg dat asielsoekers groot afstande moet reis om hul permitte elders te hernu. Voorts het die Departement geweier om lêers na die oorblywende Vlugtelingontvangskantore in Pretoria, Durban en Musina oor te plaas. Die Appèlhof het Binnelandse Sake tot 1 Julie 2015 gegee om die Vlugtelingontvangskantoor in Port Elizabeth te heropen. Ons moet nog sien of die Departement die hofbevel hierdie keer sal nakom. Die blyk of die Departement wil poog om die regte van asielsoekers te beperk, met inbegrip van vryheid van beweging en die reg om te werk, hangende die finale bepaling van hul eise.

Onder hierdie omstandighede is asielsoekers en vlugtelinge dikwels steeds kwesbaar in Suid-Afrika, ten spyte van die wette en gevestigde prosedures wat bestaan om eise om vlugtelingstatus te ondersoek. Daar is wyd berig gelewer oor arbitrêre aanhouding en xenofobie, met kundiges wat die heersende sosio-ekonomiese omgewing – hoë werkloosheid, swak dienslewering en ekonomiese ongelykheid – verbind met gespanne verhoudings tussen vlugtelinge, asielsoekers en die bevolking van die gasheerland. Terwyl honderde individue in hegtenis geneem is of vir misdade teen migrante aangehou is, het Suid-Afrika nog nie enige individue suksesvol vir sodanige misdade vervolg of skuldig bevind nie. Dit suggereer ‘n regering wat onwillig of nie in staat is om migrante, asielsoekers en vlugtelinge die beskerming te bied waarna hulle op soek is nie.

Dit moet in gedagte gehou word dat die Universele Verklaring van Menseregte die reg om asiel te vra en te geniet as basiese mensereg erken. Die UNHCR het daarop gewys dat vlugtelinge en asielsoekers, veral wanneer hulle in groot getalle aankom, ‘n groot uitwerking kan hê op ‘n land van asiel en die plaaslike bevolking, en dit is in Suid-Afrika bewys deur die gewelddadige vlaag xenofobiese aanvalle. Dit is egter ook belangrik om die positiewe bydrae te erken wat vlugtelinge tot Suid-Afrika kan maak, en om hul behoefte aan humantitêre hulp en beskerming te erken.

 

Deur Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Foto: John Englart (Takver) / Foter / CC BY-SA

Leave a Reply

Your email address will not be published.