Volgens die aanhef van dié Wetsontwerp het dit ten doel om uitvoering aan artikel 9 van die Grondwet te gee deur voorsiening te maak vir ’n regsraamwerk ten einde die bemagtiging van vroue, sowel as geslagsgelykheid, te bevorder. Die Wetsontwerp poog gevolglik om ’n wetgewende raamwerk daar te stel wat die plek inneem van alle ander wetgewing betreffende die bevordering van vroue, klaarblyklik op ’n wyse wat dié bestaande wetgewing nie in ag neem nie.

In sover die Wetsontwerp uitvoering gee aan artikels 1 en 9 van die Grondwet, moet die doelstelling van die Wetsontwerp in beginsel verwelkom word. Ten spyte van die goedbedoelde bepalings, is daar egter verskeie grondwetlike bekommernisse betreffende hierdie Wetsontwerp. Eerstens is daar die Minister se mag om van byna enige openbare en private instelling (soos gedefinieer deur die Wetsontwerp) te vereis om aan die Wetsontwerp te voldoen. Geen maatstawwe word verskaf ingevolge waarvan die Minister hierdie mag kan uitoefen om ’n instelling voor te skryf nie, met die gevolg dat die Wetsontwerp vaag is en moontlik nie ’n algemeen geldende regsvoorskrif is nie. Die gebrek aan rigtinggewende maatstawwe skep ook só ’n wye diskresie dat die Wetsontwerp moontlik nie aan die beginsel van regmagtigheid sal voldoen nie, wat vereis dat wette duidelik, bepaalbaar en nie terugwerkend moet wees nie. Die Wetsontwerp beskik ook nie oor doeltreffende meganismes om nakoming met die bepalings betreffende bemagtiging en gelykheid te regverdig nie. Tweedens het die Wetsontwerp – ten einde gelykheid te behaal – ten doel om “’n minimum van 50%” verteenwoordiging van vroue op verskeie terreine te behaal, wat opsigself paradoksaal is, aangesien enige iets meer as 50% verteenwoordiging in werklikheid ’n nuwe ongelykheid sal skep. Derdens vereis die Wetsontwerp van aangewese private instellings om sekere fundamentele regte te verwesenlik wat in wese die bevoegdheid en plig van die staat is. Vierdens versuim die Wetsontwerp om enige bestaande wetgewing wat ten doel het om vroue te beskerm en geslagsgelykheid te bevorder, te erken of daarna te verwys – wat dus ’n afsonderlike en nuwe regsraamwerk skep, al is dit vaag. Laastens is daar die Wetsontwerp se weglating van sy verhouding met die Kommissie oor Geslagsgelykheid (die Kommissie), en enige verwysing na hierdie liggaam wat deur die Grondwet ingestel is, kom lomp voor. Laasgenoemde noodsaak verdere verduideliking.

Die mandaat van die Kommissie, ’n sogenaamde Hoofstuk 9-instelling, word vervat in artikels 181 en 187 van die Grondwet. Artikel 181 voer aan dat die Kommissie, as een van die instellings wat grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika versterk, “onafhanklik is en slegs onderhewig is aan die Grondwet en die reg, en onpartydig moet wees en sy magte sonder vrees, begunstiging of vooroordeel moet uitvoer.” Voorts bepaal artikel 181 (3) – (5):

“(3) Ander staatsorgane moet hierdie instellings deur middel van wetgewende en ander maatreëls bystaan en beskerm ten einde die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid van hierdie instellings te verseker.

(4) Geen persoon of staatsorgaan mag op die funksionering van hierdie instellings inbreuk maak nie.

(5) Hierdie instellings is teenoor die Nasionale Vergadering verantwoordingspligtig, en moet minstens een keer per jaar oor hul bedrywighede en die verrigting van hul funksies aan die Vergadering verslag doen.” 

Daarbenewens bepaal artikel 187 as volg:

“(1) Die Kommissie vir Geslagsgelykheid moet respek vir geslagsgelykheid en die ontwikkeling, beskerming en verwesenliking van geslagsgelykheid bevorder.

(2) Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het die bevoegdheid, soos deur nasionale wetgewing gereguleer, wat nodig is om sy funksies te verrig, met inbegrip van die bevoegdheid om aangeleenthede betreffende geslagsgelykheid te monitor, te ondersoek, na te vors, opvoeding daaroor te voorsien, steun daarvoor te werf, daaroor te adviseer en verslag daaroor te doen.

(3) Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het die bykomende bevoegdhede en funksies wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.”

Voorts verklaar artikel 11(1)(a) van die Wet op die Kommissie vir Geslagsgelykheid (39 of 1996) dat ten einde die doelwitte te behaal wat in artikel 187 van die Grondwet verskans word, die Kommissie “die beleide en praktyke van staatsorgane, statutêre liggame of funksionarisse, openbare liggame en gesagte en private sakeondernemings en instellings sal monitor en evalueer ten einde geslagsgelykheid to bevorder.” Hierdie bepaling is in teenstelling met die bepalings van die Wetsontwerp, wat telkens ooreenstem met die bepalings van die Kommissie. Dit sluit in die bepaling van verpligte verslagdoening, ministeriële toesighouding oor geslagsgelykheid; en die Minister se ondersoekende gesag. In wese blyk dit dat die ministeriële magte in die Wetsontwerp dié van die Kommissie dupliseer.

Dit wil egter voorkom of die opstellers van die Wetsontwerp – in plaas daarvan om die mandaat, rol en funksies van die Kommissie te versterk – versuim het om die grondwetlike en laasgenoemde wetgewende bepalings in ag te neem. Hierdie duplisering van rolle kan net lei tot onnodige uitgawes deur die staat, om nie eens te praat van die kleiner rol en verminderde pligte van die Kommissie nie. Desnieteenstaande die ander tekortkominge, is die grootste probleem moontlik dat die Wetsontwerp die grondwetlike mandaat van die Kommissie toe-eien.

Die belangrikheid van die Kommissie, as een van die Hoofstuk 9-instellings, is dat dit die plig opgelê is om ’n verantwoordingspligtige ingsteldheid van die staat te skep deur te verseker dat openbare instellings deurlopend aan die oppergesag van die reg voldoen, en ook ’n kultuur skep waar menseregte deur beide die staat en alle lede van die burgerlike samelewing gerespekteer word. Dit vorm ’n band tussen die staat aan die een kant, en die burgerlike samelewing aan die ander kant. Die Kommissie word deur die Grondwet vereis om te verseker dat die staat grondwetlike regte wat verband hou met geslagsgelykheid daarstel, beskerm, bevorder en verwesenlik. Nóg ’n belangrike rol van die Kommissie is om die staat te monitor en evalueer ten einde te verseker dat dit internasionale verpligtinge nakom. Terwyl die Kommissie ’n uitstekende instelling is om te luister na die vroue van Suid-Afrika, het dit volgens die Navorsingsraad vir Menslike Wetenskappe se “A National Review of Chapter 9 Institutions and Civil Society” wat in 2007 uitgereik is, ’n gebrek aan hulpbronne en word dit nie genoeg gebruik nie. Die hulpbronne wat dus vir die inwerkingstelling van die Wetsontwerp gebruik sou word, moet dus eerder gebruik word om die Kommissie en sy aktiwiteite te versterk.

Die Kommissie is ’n Hoofstuk 9-instelling wat demokrasie moet versterk en steun. Dié instellings bied ’n platform waar burgers hul behoeftes kan uitdruk. Die Kommissie se grondwetlike mandaat is om geslagsgelykheid te bevorder, beskerm, ontwikkel en behaal. Dit is dus uiters noodsaaklik dat alle wetgewing (met inbegrip van die Wetsontwerp) wat geslagsgelykheid bevorder, die rol van die Kommissie erken. Daarbenewens het Suid-Afrika geen tekort aan wetgewing betreffende geslag en gelykheid nie, byvoorbeeld die Wet op Billike Indiensneming (Wet No 55 van 1998), die Wet op Erkenning van Gebruiklike Huwelike (Wet No 120 van 1998), en die Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination (Wet No 4 of 2000). Die Wetsontwerp versuim egter om uitvoering te gee aan laasgenoemde wetgewing. Dit slaag nie daarin om nuwe en duidelike inisiatiewe daar te stel nie. Dit versuim ook om geslagsgelykheid in die breë voldoende te beskerm en bevorder. Die Wetsontwerp blyk eerder om ’n vae en afsonderlike regsraamwerk en ’n maatstaf betreffende nakoming daar te stel wat slegs ’n burokratiese las is vir die ongeïdentifiseerde persone op wie dit gemik is. 

Deur Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

[Fotomichaelhebb / Foter / CC BY-NC-SA]

Leave a Reply

Your email address will not be published.