Die regte en die belangrikheid daarvan is aan die kern van ons grondwetlike demokrasie. Dít is duidelik uit artikel 1(d) van die Grondwet, waar “universele stemreg vir volwassenes, ’n nasionale gemeenskaplike kiesersrol en ’n veelpartystelsel van demokratiese regering ten einde verantwoordbaarheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid” in van die grondliggende waardes verskans word. Die belangrikheid van hierdie waardes word bevestig in artikel 19, wat voorsiening maak vir die reg en vryheid van elke Suid-Afrikaner om lede te werf vir die politieke party van hul keuse, die reg op vrye, regverdige en gereelde verkiesings vir daardie wetgewende liggame wat ingevolge die Grondwet ingestel is; en die reg om ’n kandidaat vir ’n openbare amp te wees en om in die geheim tydens sodanige verkiesings te stem.
Die Konstitusionele Hof het hom op ’n vorige geleentheid uitgelaat oor die belangrikheid van hierdie reg – nie net die belangrikheid van die simboliese reg om te stem nie, maar ook die demokratiese waardes van die reg om te stem. In August v The Electoral Commission & Others het die Hof verklaar dat die stem van elke burger ’n teken van waardigheid en menswees is, en dat dit letterlik beteken dat elke persoon tel. Dit blyk egter dat nie alle Suid-Afrikaners verstaan hoe belangrik dié teken van waardigheid en burgerskap is nie. Volgens die Internasionale Instituut vir Demokrasie en Verkiesingsbystand (IDEA) was ongeveer 32 miljoen Suid-Afrikaners in 2009 geregtig daarop om tydens die verkiesings te stem. Volgens IDEA en data watdeur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) beskikbaar gestel is, het slegs 23 miljoen mense registreer om in daardie verkiesing te stem, waarvan slegs ongeveer 18 miljoen op Verkiesingsdag gaan stem het. Gevolglik was die grootste kiesafdeling na afloop van die verkiesings in 2009 die 14 miljoen burgers wat óf nie geregistreer het om te stem nie, óf wat geregistreer is, maar nie gaan stem het nie. In Richter v The Minister for Home Affairs & Others het die Hof, met verwysing na die bogenoemde August-beslissing, aangevoer dat die reg om te stem, sowel as die uitvoering daarvan, ’n aspek het wat grondwetlik belangrik is, afgesien van sy simboliese waarde: “[It] is a crucial working part of our democracy. Without voters who want to vote, who will take the trouble to register, and to stand in queues, as millions patiently and unforgettably did in April 1994, democracy itself will be imperiled“.
In 2014 sal Suid-Afrikaners weer eens die geleentheid hê om hierdie fundamentele reg om te kies – al is dit op indirekte wyse – wie hulle moet verteenwoordig, uit te voer. Sodoende sal kiesers in staat wees om die gehalte van hul nasionale en provinsiale regerings te beïnvloed. In die Richter-saak het die Konstitusionele Hof die belangrikheid van die reg om te stem benadruk in die konteks van die waardes en beginsels van ons grondwetlike demokrasie: “Each vote strengthens and invigorates our democracy. In marking their ballots, citizens remind those elected that their position is based on the will of the people and will remain subject to that will“. ’n Regering met ’n responsiewe ingesteldheid, wat deursigtig en verantwoordbaar is, begin dus by die verkiesing van verteenwoordigers met ’n responsiewe ingesteldheid, wat deursigtig en verantwoordbaar is – of politieke partye in die geval van Suid-Afrika se stelsel van proporsionele verteenwoordiging wat op geslote partylyste gebaseer is.
Aanvaar ons die reg om te stem, en dus demokrasie, as vanselfsprekend deur oorgerus te wees? Sommige mag sê dat die reg om te stem die reg om nié te stem nie, inkorporeer. Dit is een manier om daarna te kyk. Om te stem is inderdaad ingevolge ons Grondwet en ons verkiesingswetgewing nie verpligtend nie (anders as die geval in Australië en Brasilië). Deur nie te stem nie staan ’n mens egter jou reg af om toestemming te gee oor wie oor jou regeer. Die reg om te stem is baie meer as ’n reg in ’n demokrasie. Dit is ook ’n verantwoordelikheid en ’n plig – al is dit slegs ’n morele plig – om deel te neem aan sodanige demokrasie en om ’n ingeligte besluit te maak. Die belangrikheid van hierdie plig en verantwoordelikheid word goed uiteengesit deur Jason Brennan in The Ethics of Voting waar hy aanvoer dat “voting is morally significant” aangesien dit “changes the quality, scope, and kind of government“. Volgens Brennan, “from a moral point of view, voting is not like ordering food off of a menu. When you order salad at a restaurant, you alone bear the consequences of your decision. No one else gets stuck with a salad. If you make a bad choice, at least you are hurting only yourself… Voting is not like that. If anything, when we vote, we are imposing one meal on everybody…We decide electoral outcomes together.” Die belangrikheid daarvan om werklik ’n ete te bestel – in plaas daarvan om te wag vir iemand anders om dit te stel en om dan te kla oor wat opgedien word – is egter baie duidelik.
Om jou reg uit te oefen om te stem en om te kies vir wie jy wil kies, verseker in ons grondwetlike demokrasie regering deur toestemming. Daarbenewens verseker dit dat diegene wat ons toevertrou met ons stem, voortgaan om die mense te verteenwoordig op ’n wyse wat die grondliggende waardes, beginsels en regte namens, en in belang van, elke Suid-Afrikaner te bevorder, respekteer en handhaaf. In ooreenstemming met die Konstitusionele Hof in die Richter-saak: “…the right to vote itself cannot be exercised by a citizen unless he or she takes the trouble to exercise it“. Wanneer ons die reg om te stem uitoefen, moet ons egter Brennan se waarskuwing in ag neem: “When we vote, we can make government better or worse. In turn, our votes can make people’s lives better or worse…The way we vote can help or harm people“.
Praktiese voetnota:
Die reg om te stem bied aan elke Suid-Afrikaner bo die ouderdom van 18 jaar en ouer ’n reg (ingevolge die Richter-beslissing) wat nou ook betrekking het op alle Suid-Afrikaners wat oorsee woon. In die Richter-saak het die Hof aangevoer dat artikel 33(1)(e) van die Kieswet (en bepalings in die Regulasies ingevolge die Wet wat hiermee verband hou) – wat Suid-Afrikaners wat oorsee woon verhoed het om te stem – ’n onregverdigbare beperking is op die reg soos waarvoor voorsiening gemaak word in artikel 19 van die Grondwet. Gevolglik het die Parlement die Kieswysigingswetsontwerp aan die einde van 2013 aanvaar, wat onder andere die Kieswet wysig ten einde Suid-Afrikaners wat oorsee woon in staat te stel om te registreer en om in nasionale verkiesings te stem in die onderskeie lande waarin hulle woon.
Ten einde in verkiesings te stem moet alle Suid-Afrikaanse burgers – of hulle nou in Suid-Afrika of oorsee woon – op die kiesersrol geregistreer wees. Gevolglik het Suid-Afrikaners tot 17:00 op die dag waarop die President die verkiesingsdatum proklameer om te registreer om te stem. Om 17:00 op die dag van die proklamasie sluit die Kiesersrol. Suid-Afrikaners wat in Suid-Afrika woon kan enige tyd registreer (voor die proklamasie) by enige munisipale kieskantoor van die OVK of by hul aangewese kiesstasies gedurende spesiale registrasiedae (die laaste een is op Saterdag, 8 Februarie en Sondag, 9 Februarie 2014). Suid-Afrikaners wat oorsee woon en wat in die nasionale verkiesing in 2014 wil stem, moet persoonlik registreer – óf in Suid-Afrika, óf by enige Suid-Afrikaanse konsulaat, hoë kommissaris of konsulaat-generaal in die land waar hul woon voor Vrydag, 7 Februarie 2014. Ten einde vir die Suid-Afrikaners wat oorsee woon om te registreer, moet hulle in besit wees van ’n geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokument (óf ’n groen ID-boekie, óf die nuwe slimkaart-ID, óf ’n tydelike identiteitsertifikaat) en ’n geldige Suid-Afrikaanse paspoort.
Vir meer inligting, besoek die OVK se webtuiste by: http://www.elections.org.za/content/For-Voters/How-do-I-register-/
Deur Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
[Foto: coda / Foter / CC BY-NC-SA]