ARTIKEL: JEUGDAG – DIT GAAN OOR VANDAG EN DIE TOEKOMS
Op 16 Junie vier ons Jeugdag ter herinnering van die jongmense wat op daardie dag in 1976 opgestaan het teen ongeregtigheid en ongelykheid en die hoogste prys betaal het vir dít waarin hulle geglo het. In ooreenstemming met die Aanhef tot die Grondwet is hierdie dag ongetwyfeld ’n huldeblyk aan die jeug wat geveg en gely het vir geregtigheid en vryheid in ons land. Jeugdag gaan egter nie net oor die verlede nie, maar ook oor vandag sowel as die toekoms. Dit is ’n viering van ons Grondwet en die waardes, regte en vryhede wat ons vandag geniet. Dit is ‘n huldeblyk aan almal wat gestreef het na – en vandag steeds bou aan – ’n regverdige en demokratiese samelewing. Dit behoort te gaan oor ’n toekoms waarvoor die jeug van vandag, net soos die res van die samelewing, vandag reeds verantwoordelik is.