Die Verenigde Nasies se verklaring oor opvoeding en opleiding betreffende menseregte voer aan dat onderwys aandag moet skenk aan die volledige ontwikkeling van die mens se persoonlikheid en waardigheid – en wat respek vir menseregte en fundamentele vryhede sal versterk. Dit is plaaslik van toepassing, aangesien die reg op onderwys in die Handves van Regte in die Grondwet verskans word [of beskerm word], wat geloofwaardigheid verleen aan die idee dat menseregte onverdeelbaar en interafhanklik is en met mekaar verband hou. Onderwys dien verder as ‘n manier waardeur beide volwassenes en kinders uit armoede gelig kan word en hul in staat kan stel om ten volle in hul gemeenskappe deel te neem.

Desnieteenstaande suggereer die probleme wat die onderwyssektor teister dat die onderwysprofessie nie aan hierdie ideale voldoen nie. Sodanige probleme wissel van die nasie se hoë uitsakkoers, tot Suid-Afrika se swak prestasie in streeksassesserings in vakke soos wiskunde en wetenskap. Meer onlangs was die onderwysersvakbonde en die Departement van Basiese Onderwys in ‘n geskil gewikkel oor die jaarlikse nasionale assesserings. Hierdie assesserings het ten doel om die geletterdheid en gesyferdheid van leerders in Graad 1 tot 9 te bepaal. Dit is om swakpunte uit te wys ten einde beide die Departement van Basiese Onderwys en onderwysers die geleentheid te bied om toepaslike herstelmaatreëls betreffende die onderwysprobleem in te stel. Onderwysersvakbonde voer aan dat die assesserings nie hul beoogde doelwit behaal nie en het gevolglik geweier om hierdie jaar aan die toetse deel te neem. Nuusberigte dui egter aan dat die vakbonde ingegee het en dat die assesserings vroeg in 2016 sal plaasvind.

Dit is miskien tyd dat die staat groter klem lê op die verwesenliking van die reg op onderwys. Aangesien die Grondwet in artikel 29 voorsiening maak vir die reg van elke kind op basiese onderwys – dit, gelees saam met artikel 28(2) wat bepaal dat die kind se beste belange vooropgestel moet word – is dit dalk logies dat uitvoering aan hierdie bepalings gegee moet word. Terwyl die Konstitusionele Hof nog geen uitsprake gemaak het oor wat die reg beteken nie, het die Departement van Basiese Onderwys Norme en Standaarde vir Skoolinfrastruktuur gepubliseer. Gevolglik word elke skool verplig om oor water, elektrisiteit, internet, werkende toilette, veilige klaskamers met ‘n maksimum van 40 leerders, sekuriteit en ook biblioteke, laboratoriums en sportfasiliteite te beskik. Daar bestaan egter nog geen verpligting om te verseker dat onderwysers opleiding van gehalte ondergaan en voorts gesteun word met die uitvoering van hierdie reg nie. Sonder voldoende bronne, steun en opleiding, kan onderwysers moontlik nie hul belangrike rol uitoefen om jong Suid-Afrikaners by te staan om hul reg op basiese onderwys op te eis nie.

Dit is reeds bewys dat onderwysers se professionele kennis en vaardighede ‘n belangrike rol speel in die bied van onderrig van gehalte. Verskeie studies wys op ‘n positiewe skakel tussen onderrig van gehalte (aangebied deur goed opgeleide, gewaardeerde, gesteunde en gemotiveerde onderwysers) aan die een kant, en blywende vrede en volhoubare ontwikkeling aan die ander kant. 

Daar moet opgelet word dat onderwysers oor die reg beskik om vakbonde te stig en daarby aan te sluit en om aan die aktiwiteite van sodanige vakbonde deel te neem. Hierdie reg moet egter gebalanseer word met hul verpligting om die reg van leerders op onderrig te verwesenlik. Daarbenewens moet die staat ‘n omgewing en die nodige hulpbronne verskaf – met inbegrip van behoorlik opgeleide en bestuurde onderwysers ten einde die reg op onderwys te verwesenlik. Wanneer beide die onderwysers en die staat, hetsy gesamentlik of individueel, versuim om hul deel van die grondwetlike ooreenkoms na te kom, is die enigste verloorders die leerders – en dus ook die toekoms van Suid-Afrika.

So op hierdie Wêreldonderwysersdag moet ons onthou dat die opvoeding van toekomstige nageslagte op die spel is – tensy die beste moontlike onderwysers in elke klaskamer is en onderwys gee op ‘n standaard wat geskik is vir ‘n toekoms soos deur die Grondwet in die vooruitsig gestel is.

Deur Phephelaphi Dube, Regsbeampte: Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.