+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

VERKIESING OP PAD, TERWYL JOHANNESBURG VEG OM VOORTBESTAAN

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 12/05/2026

Johannesburg is voorheen beskou as die enjinkamer van Suid-Afrika se ekonomiese toekoms: ’n stad van finansies, infrastruktuur, belegging en geleenthede. Vandag dien dit egter toenemend as ’n waarskuwing oor wat gebeur wanneer plaaslike regering sy dissipline vinniger verloor as wat instellings dit kan herstel. Die huidige krisis waarmee die Stad te kampe het, gaan dus nie bloot oor skuld, tekorte óf vertraagde betalings nie. Dit gaan oor die vraag óf grondwetlike plaaslike regering steeds betekenisvol kan funksioneer wanneer finansiële bestuur in duie stort, infrastruktuur verval en politieke onstabiliteit as normaal aanvaar word.

Die argument dat Johannesburg nie “wetlik bankrot” is nie, mag tegnies korrek wees. Maar tegniese korrektheid kan nie fiskale nood wegsteek nie. ’n Stad wat ’n yslike R25,2 miljard aan krediteure skuld, terwyl dit slegs R3,9 miljard in kontant het, is nie finansieel stabiel nie. ’n Bedryfskapitaalverhouding van ongeveer 0,6:1, teenoor die Nasionale Tesourie se maatstaf van 1,5 tot 2:1, dui nie op volhoubare bestuur nie. Minder as een maand se kontantdekking is nie gerusstellend nie. Dit is ’n teken dat Suid-Afrika se rykste metropolitaanse munisipaliteit gevaarlik naby die rand van institusionele mislukking funksioneer.

WAT IS DAN AAN DIE INEENSTORT?

Die sigbare ineenstorting is dienslewering. Die dieper ineenstorting is finansiële geloofwaardigheid. In 2023/24 het Johannesburg R4,9 miljard se elektrisiteit verloor weens stelselfoute, diefstal, onwettige verbindings en gebrekkige infrastruktuur. Die Stad het nóg R2,9 miljard se water verloor weens lekkasies en kommersiële verliese. Dit is nie bloot rekeningkundige besonderhede nie. Dit is droë krane, stukkende straatligte, onherstelde substasies en ondernemings wat gedwing word om die koste van mislukking te dra. Die Stad het sy boeke gebalanseer deur sy infrastruktuur op te gebruik.

HOE HET DIE STAD HIER GEKOM?

Die krisis het nie by een burgemeester óf een brief van die Minister van Finansies begin nie. Sedert die plaaslike regeringsverkiesings van 2021 het Johannesburg onstabiele koalisies, burgemeesterskommelinge en begrotings beleef wat as oorlewingsinstrumente eerder as eerlike weergawes van die werklikheid hanteer is. Teen Augustus 2024 het Dada Morero die Stad se sewende burgemeester geword. Herstelwerk het onder die 8%-maatstaf gebly. Uitgestelde instandhouding het stukkende infrastruktuur geword. Sstukkende infrastruktuur het verlore inkomste geword en verlore inkomste het uiteindelik skuld geword.

WATTER WETTE IS TER SPRAKE?

Die Grondwet vereis dat plaaslike regering demokraties en verantwoordbaar moet wees, volhoubare dienste moet verseker en maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling moet bevorder. Artikels 151, 152 en 153 beskryf ’n ontwikkelingsgerigte staat op plaaslike vlak. Artikel 216(2) laat die Nasionale Tesourie toe om oordragte aan ’n munisipaliteit te staak indien die munisipaliteit volgehou versuim om sy finansiële verpligtinge na te kom. Die dreigement om R8 miljard terug te hou, is dus ’n grondwetlike rooilig.

Die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur 56 van 2003 vereis geloofwaardige begrotings, wettige verkryging, beheer oor uitgawes en, waar moontlik, die betaling van krediteure binne 30 dae. Artikel 173 skep strafregtelike aanspreeklikheid waar ’n rekenpligtige beampte nalatig versuim om ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes te voorkom. Regulasie 36 oor voorsieningskettingbestuur, wat vir noodgevalle bedoel is, is glo in 2023/24 vir R4,9 miljard se verkryging gebruik, teenoor R20 miljoen voorheen. Wanneer noodverkryging roetine word, raak wetlikheid opsioneel.

HOEKOM MAAK DIT SAAK VOOR DIE VERKIESING?

Johannesburg is nou ’n rooilig op die stembrief. Die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November 2026 sal inwoners nie bloot vra watter party hulle verkies nie. Dit sal ook vra of munisipale mag steeds verantwoordelik uitgeoefen kan word. Die loonooreenkoms van R10,3 miljard met die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie, wat glo as onwettig onderteken en onbekostigbaar beskryf is, vat die dilemma goed saam. Werkers verdien billike behandeling. Maar geen stad kan geld belowe wat hy nie het nie, terwyl inwoners water, krag en veiligheid verloor.

WIE BETAAL DIE PRYS?

Die armes betaal eerste en jongmense betaal die langste. Wanneer verskaffers nie betaal word nie, hou kontrakteurs op werk. Dan word waterlekkasies nie herstel nie, transformators word nie vervang nie en openbare ruimtes verval. Die lewenskoste styg: huishoudings moet water, kerse, gas, alternatiewe vervoer en private sekuriteit betaal. Jongmense erf minder werksgeleenthede, swakker plaaslike ekonomieë, onveiliger woonbuurte en ’n stad wat al hoe kleiner word.

KAN JOHANNESBURG HERSTEL?

Ja, maar nie deur slagspreuke nie. Detroit het ná sy munisipale bankrotskap in 2013 herstel deur skuldherstrukturering, eksterne toesig en fiskale dissipline. Vallejo in Kalifornië het uit bankrotskap gekom nadat dit arbeidskoste moes konfronteer, hoewel teen ’n ernstige sosiale prys. New York Stad se reddingsproses in die 1970’s het gewys dat onafhanklike finansiële beheer, geloofwaardige begrotings en politieke eerlikheid vertroue kan herstel. Johannesburg hoef nie hierdie stede na te boots nie, maar moet by hulle leer dat herstel begin wanneer ontkenning eindig.

WAT MOET NOU GEDOEN WORD?

Eerstens moet die Stad ’n geloofwaardige herstelbegroting publiseer. Tweedens moet die loonooreenkoms opgeskort of heronderhandel word totdat bekostigbaarheid bewys is. Derdens moet ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes ondersoek word, nie bloot afgeskryf word nie. Vierdens moet herstelwerk en instandhouding die 8%-maatstaf bereik. Vyfdens moet digitale stelsels, insluitend KI, gebruik word om lekkasies op te spoor, onwettige verbindings te identifiseer, fakturering te verbeter, onreëlmatighede in verkryging uit te wys en openbare uitgawedashboards te publiseer. Tegnologie sal nie integriteit vervang nie, maar dit kan oneerlikheid moeiliker maak.

Johannesburg se krisis gaan oor meer as skuld. Dit gaan oor die vraag of grondwetlike plaaslike regering nog enigiets beteken wanneer politiek roekeloos met geld omgaan. Die Stad van Goud het nie nog ’n belofte nodig nie. Dit het volhoubare begrotings, eerlike syfers, bekwame administrasie en kiesers nodig wat bereid is om roekelose fiskale optrede te straf. Terwyl die aftel na die verkiesing begin het, hang Johannesburg se toekoms aan ’n draadjie. Die taak is nou om te verseker dat daardie draadjie nie demokrasie self is nie.

Vir meer oor hierdie onderwerp, lees: DIE WATERKRISIS DREINEER SUID-AFRIKA SE EKONOMIE EN LAAT BURGERS SE SAKKE LEËR WORD – https://fwdeklerk.org/af/die-waterkrisis-dreineer-suid-afrika-se-ekonomie-en-laat-burgers-se-sakke-leer-word/

WIE HOU TOESIG OOR DIE WAGHOND? BEKAMP MISBRUIK, NIE GODSDIENSVRYHEID NIE

.In hierdie artikel voer die FW de Klerk Stigting aan dat Suid-Afrika misbruik in godsdiensgemeenskappe moet aanpak sonder om wettige geloofsbeoefening onder staatstoesig te plaas. Bestaande strafregtelike, belasting- en niewinsgewende organisasie-wetgewing moet behoorlik toegepas word, terwyl geloofsgemeenskappe vrywillige beskermingsmaatreëls en aanspreeklikheid versterk. Die beskerming van gemeentelede moet nooit die uitoefening van godsdiensvryheid afhanklik maak van amptelike goedkeuring nie.

Read More »

WANNEER OPENBARE GELD WANBESTEE WORD, BETAAL GESINNE TWEE KEER

In hierdie tweede aflewering van die FW de Klerk Stigting se Money Smart Week Suid-Afrika 2026-reeks verskuif die fokus van persoonlike inkomste na die openbare geld wat bepaal hoe ver dit kan strek. Wanneer dienste misluk, betaal gesinne twee keer: eers deur belasting, tariewe en heffings, en dan weer om noodsaaklike dienste uit hul eie sak te vervang. Die artikel verduidelik waarom dit noodsaaklike dade van grondwetlike burgerskap is om die rand se spoor te volg, verantwoordbaarheid te eis en aan openbare prosesse deel te neem.

Read More »

FW DE KLERK STIGTING STEL MET TROTS BEKEND: DIE KRAG VAN FINANSIËLE MOONTLIKHEDE: JEUGGIDS

Die FW de Klerk Stigting stel met trots Die krag van finansiële moontlikhede: Suid-Afrika se grondwetlike geldgids vir 2026 tydens Money Smart Week South Africa 2026 bekend. Die praktiese gids, wat in ’n volledige en verkorte uitgawe beskikbaar is, bemagtig jong Suid-Afrikaners om te leer, inkomste te verdien, hul geld te beskerm, bates op te bou en te verstaan hoe openbare finansies hul lewens beïnvloed. Dit verbind persoonlike finansiële vaardigheid met grondwetlike burgerskap en bied praktiese werkkaarte, amptelike hulpbronne en ’n moontlikheidsuitdaging van 30 dae.

Read More »