ARTIKEL: EVV REG OM KONSTITUSIONELE HOF OOR NKANDLA TE NADER
‘n Besluit deur die Ekonomiese Vryheidsvegters (die EVV) om direkte toegang tot die Konstitusionele Hof betreffende die Nkandla-aangeleentheid te verkry, is die regte besluit. Alhoewel regsekerheid betreffende die Openbare Beskermer se magte ‘n belangrike saak is, het die Wes-Kaapse Hoë Hof in Democratic Alliance v SABC and Others waarskynlik die reg in hierdie verband korrek uitgeklaar.
Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) neem met kommer kennis van onlangse opmerkings deur Julius Malema in sy kapasiteit as leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV). Hierdie opmerkings, met inbegrip van “[i]f white people want a permanent honeymoon, they must deliver the stolen property” en “you [whites] are more than welcome…this is your country, no one should make you [feel] threatened, but you will be unsettled if you are not ready to heed the call“, dien geen ander doel as om rasseverdeling en vyandigheid aan te wakker nie.
Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) is vroeër vanjaar deur die voormalige leier van die ANC se jeugliga, Julius Malema, en ander met die doelwit om “te streef na die stryd om ekonomiese bevryding”, tot stand gebring. Die EFF doen nou aansoek by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) om as ’n politieke party geregistreer te word. Alhoewel die EFF, volgens hul “stigtingsmanifes”, sal “meeding om politieke mag… ten einde die staat te verower”, sal die “hoofdoelwit van grootskaalse organisasie en aktivisme, as ’n maatstaf om die politieke bewustheid van die mense te bevorder, steeds aan die kern van [hul] politieke praktyk wees”.