Ons het ook met kommer kennis geneem van die baniere met slagspreuke, wat professioneel gedruk is en gedurende sy bekendstelling in Marikana deur ondersteuners van die EVV vertoon is. Hierdie slagspreuke sluit in: “Honeymoon is over for whites“, “To be a revolutionary you have to be inspired by hatred and bloodshed” en “A revolutionary must become a cold killing machine motivated by pure hate.” Alhoewel die EVV in tussen aangedui het dat hierdie baniere nie deur die party laat druk is nie, illustreer dit duidelik die houding en ingesteldheid en die boodskap – direk of indirek – wat deur Malema aan sy volgelinge oorgedra is, en ondersteuners dus geïnspireer het om “hul eie inisiatief” in hierdie opsig te gebruik.

Artikel 19 van die Grondwet gee elke burger, met inbegrip van Malema en sy ondersteuners, die reg om politieke keuses te maak, ’n politieke party te stig en deel te neem aan aktiwiteite van sodanige party. Artikel 18 van die Grondwet bepaal dat almal, met inbegrip van Malema en sy ondersteuners, die reg op vryheid van uitdrukking het. Daardie reg geld egter nie wat betref die aanhitsing van geweld, die verkondiging van haat wat gebaseer is op, onder andere, ras en etnisiteit, en die aanhitsing om leed te veroorsaak nie.

Ons veelparty grondwetlike demokrasie is gebaseer op die beginsels van menswaardigheid, die behaling van gelykheid, die bevordering van menseregte en vryhede, nie-rassigheid, nie- seksisme, die oppergesag van die Grondwet en die reg. Desnieteenstaande moet ons steeds baie en voortdurende ongelykhede in ons land die hoof bied, wat reggestel moet word. Dit moet egter binne die konteks van die Grondwet geskied.

Malema en die EVV se verklarings, afgesien daarvan dat dit sonder uitsondering wit Suid- Afrikaners bedreig, bedreig ook die grondliggende beginsels van ons as Suid-Afrikaners se voorneme om ’n nasie te versoen en ’n verenigde, gelyke en nie-rassige samelewing te bou. Hierdie boodskappe en die onderliggende trant kom nie neer op die bespreking van politieke menings in ooreenstemming met ons grondwetlike demokrasie nie. Dit bevorder rassevrywing en grens moontlik aan intimidasie en aanhitsing van geweld. Daarbenewens is Malema se mening dat nie die slagspreuke óf die organisasie rassisties nie, teenstrydig met sy en sy organisasie se houding en uitsprake in die openbaar. Alhoewel Malema en die EVV ’n reg het soos alle partye om deel te neem aan ons veelparty-demokrasie, is hierdie soort boodskappe onaanvaarbaar en behoort nie deur ’n samelewing wat ons grondwetlike waardes onderskryf – en met inbegrip van partye wat hoop om voordeel te trek uit die EVV se aanvalle op die regerende ANC – geduld te word nie. 

Deur Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte

Foto: afp photo / alexander joe

Leave a Reply

Your email address will not be published.