Desnieteenstaande vra die EVV die regte fundamentele regsvrae: beskik die Nasionale Vergadering oor ‘n grondwetlike plig om rasioneel op te tree betreffende die inligting wat deur die Openbare Beskermer voor hom gebring is; en kom die President en ander lede van die Kabinet se optrede – in verband met optrede soos in die verslag uitgewys is, asook hul reaksie op die verslag – neer op ‘n skending van hul grondwetlike verpligtinge?
In beginsel mag slegs die Konstitusionele Hof besluit dat die Parlement of die President versuim het om uitvoering te gee aan daardie konstitusionele verpligtinge, of ‘n finale besluit maak oor of die optrede van die President grondwetlik is. Dit is vermoedelik om hierdie rede dat die Konstitusionele Hof dit nodig geag het om in die belang van geregtigheid die EVV toe te laat om direkte toegang in hierdie verband te verkry.
Die Openbare Beskermer word deur artikel 182 van die Grondwet die plig opgelê om “om ondersoek in te stel na enige optrede in staatsake, of in die openbare administrasie in enige regeringsfeer, wat, na beweer of vermoed word, onbehoorlik is of enige onbehoorlikheid of benadeling tot gevolg het” en “om oor dié optrede verslag te doen” en om “om gepaste regstellende stappe te doen”, soos deur wetgewing gereguleer word. Kragtens die Wet op die Openbare Beskermer beskik die Openbare Beskermer oor die vermoë om op grond van sy of haar eie diskresie enige twispunte op te los of enige daad of versuim reg te stel by wyse van mediasie, versoening of onderhandeling; of om enige klaer te adviseer oor toepaslike herstelmaatreëls. Sy beskik ook oor die vermoë om ‘n aangeleentheid na die toepaslike openbare liggaam of owerheid te verwys wat deur die optrede wat ondersoek word, veroorsaak is; om aan die Nasionale Vervolgingsgesag verslag te doen oor haar bevindings indien sy van mening is dat die feite daarop neerkom dat ‘n oortreding begaan is; of, kragtens artikel 182(1) van die Grondwet gelees met artikel 8(2)(b) van die Wet, haar bevindings aan die Nasionale Vergadering voor te lê. In hierdie verband beskik sy oor die vermoë om haar verslag aan die Parlement voor te lê indien sy dit in openbare belang nodig ag, of indien die aangeleentheid die Nasionale Vergadering se dringende aandag of ingryping noodsaak, of indien sy deur die Parlement versoek word om dit te doen.
Die Openbare Beskermer het gevolglik die Nkandla-aangeleentheid ondersoek en haar verslag aan die President en ander lede van die Kabinet as betrokke partye voorgelê. Sy het ook herstelmaatreëls opgelê wat deur die President, die Sekretaris van die Kabinet, die Minister van Polisie, die Nasionale Kommissaris van Polisie, die Direkteur-generaal van die Departement van Openbare Werke en die Sekretaris van Verdediging ingestel moet word. Daarbenewens het die Openbare Beskermer haar verslag aan die Nasionale Vergadering voorgelê aangesien die bevindings duidelik verband hou met die Parlement se toesighoudende funksie, wat die Nasionale Vergadering se dringende aandag of ingryping noodsaak. Haar ondersoek het immers bevind dat die Uitvoerende Gesag op ten minste 20 geleenthede “onwettig opgetree het”, “onbehoorlik opgetree het” of “wanadministrasie” gepleeg het. Haar bevinding dat die President se versuim om op te tree ten einde die staat se hulpbronne te beskerm, wat neerkom op ‘n skending van paragraaf 2 van die Uitvoerende Etiekkode en wat gevolglik neerkom op optrede wat teenstrydig is met sy amp as lid van die Kabinet soos in artikel 96 van die Grondwet uiteengesit is, vereis sekerlik ook die Nasionale Vergadering se aandag.
Die Nasionale Vergadering is verkies ten einde ‘n regering deur die mense kragtens die Grondwet te verseker, en beskik oor ‘n grondwetlike plig om te verseker dat alle uitvoerende staatsorgane in die nasionale regeringsfeer daaraan verantwoording doen. Op sy beurt moet die President die Grondwet onderhou, beskerm en respekteer. Hy en ander lede van die kabinet is verantwoordelik teenoor die Parlement met betrekking tot die uitvoering van hul magte en die funksies. Kragtens artikel 96 van die Grondwet moet lede van die Kabinet en Adjunkministers optree in ooreenstemming met ‘n etiese kode soos deur nasionale wetgewing voorgeskryf en mag nie optree op enige wyse wat met hul amp onbestaanbaar is, of hulself blootstel aan enige omstandigheid wat die risiko inhou van ‘n botsing tussen hul amptelike verantwoordelikhede en hul private belange nie en mag ook nie hul posisie of enige inligting aan hulle toevertrou, gebruik om hulself te verryk of enige ander persoon onbehoorlik te bevoordeel nie. Die Openbare Beskermer het in wese bevind dat die President en die Nasionale Uitvoerende Gesag hierdie bepaling geskend het en het gevolglik ‘n beroep gedoen op die Parlement om op te tree.
In plaas daarvan dat haar bevindings en herstelmaatreëls deur ‘n Hof hersien is, het die Uitvoerende Gesag sy eie ondersoeke gelas deur ‘n verskeidenheid departemente en instellings om aan die Kabinet verslag te doen – en het dus in wese hulself ondersoek. Natuurlik het nie een van hierdie instellings enige redes gevind oor waarom die Uitvoerende Gesag, afgesien van ‘n paar amptenare, skuldig is nie. Die Parlement het nie veel beter gevaar nie. Snaaks genoeg het ‘n meerderheid in die Nasionale Vergadering hoofsaaklik gesteun op die verslae en voorleggings van Ministers en staatsdepartemente, sonder om die Openbare Beskermer te vra om voorleggings oor haar bevindings in te dien. Die Nasionale Vergadering het dus die Uitvoerende Gesag se verslae gebruik om die Openbare Beskermer se bevindings te ignoreer op ‘n wyse wat skaars as rasioneel beskryf kan word.
In die DA-saak het die Hoë Hof bevind dat alhoewel die bevindings en herstelmaatreëls wat deur die Openbare Beskermer opgelê is nie bindend en afdwingbaar is nie, dit nie beteken dat hierdie bevindings en herstelmaatreëls blote aanbevelings is wat ‘n staatsorgaan kan aanvaar of verwerp nie. Artikel 181(3) van die Grondwet bepaal dat staatsorgane, deur wetgewing en ander maatstawwe, Hoofstuk 9-instellings moet bystaan en beskerm ten einde hul onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid te verseker. Deur die Openbare Beskermer se bevindings en herstelmaatreëls te ignoreer, ondermyn dit die magte van die Openbare Beskermer en skend dus artikel 181(3). Daarbenewens kom ‘n besluit deur ‘n staatsorgaan om die bevindings of herstelmaatreëls te aanvaar of ignoreer neer op die uitvoering van openbare mag, wat aan die minimum vereiste van rasionaliteit moet voldoen. Gevolglik het die Hoë Hof bevind dat voordat ‘n staatsorgaan enige bevindings of herstelmaatreëls kan verwerp, dit oor goeie redes moet beskik om dit te doen, dit wil sê om ander redes as bloot sy eie voorkeur. Gegewe die feit dat die Hoë Hof se bevel hoofsaaklik gesteun het op die presedent wat deur die Appèlhof en die Konstitusionele Hof daargestel is, is dit onwaarskynlik dat enige van die Howe wesenlik van die Hoë Hof sal verskil.
Alhoewel die bevindings en herstelmaatreëls wat deur die Openbare Beskermer opgelê is, nie bindend en afdwingbaar is nie, moet die Nasionale Vergadering kragtens artikels 42(3), 55, 181 en 237 van die Grondwet rasionele stappe doen ingevolge sy eie grondwetlike verpligtinge. Die versuim om dit te doen sal nie aan die toets van grondwetlikheid voldoen nie. Indien die Openbare Beskermer oor haar bevindings aan die NVG verslag doen, moet laasgenoemde sonder vrees, begunstiging of vooroordeel besluit oor of vervolging ingestel sal word, soos wat deur die Grondwet en Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag bepaal word. Die NVG is duidelik nie gebind deur die Openbare Beskermer se bevindings nie, aangesien ‘n besluit oor of vervolging ingestel sal word of nie die grondwetlike prerogatief van die NVG is. Soos egter in die Mduli-saak op gewys is, sal dit onwettig wees en deur ‘n hof ter syde gestel word indien die NVG ‘n irrasionele besluit maak. Dieselfde logika is van toepassing wanneer die Openbare Beskermer ‘n duidelike geval van oortreding aan die Nasionale Vergadering voorlê.
Hierdie saak gaan nie oor ‘n huis, sy merkwaardige sekuriteitskenmerke, ‘n spesifieke persoon of ‘n politieke party nie. Dit gaan ook nie oor die magte van die Openbare Beskermer nie. Dit gaan eerder oor wat dit beteken om oor ‘n verantwoordbare, responsiewe en oop regering te beskik soos deur die Grondwet vereis word – en wat nodig sal wees om so ‘n regering te verseker. Die EVV doen dus wat die Openbare Beskermer moes gedoen het – om geregtelike hersieningsverrigtinge in te stel om die Parlement en die Nasionale Uitvoerende Gesag se versuim om hul onderskeie grondwetlike pligte rasioneel, getrou en sonder versuim uit te voer. In Februarie 2016 sal die Nasionale Vergadering en Uitvoerende gesag hul optrede aan die Konstitusionele Hof moet verduidelik – en soos die Hoë Hof op gewys het, sal slegs oortuigende en rasionele redes goed genoeg wees.
Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte