Ons grondwetlike demokrasie is gebaseer op ’n veelpartystelsel van die regering waarin die reg om deel te neem aan alle aspekte van hierdie stelsel van demokratiese regering deur die Grondwet erken en vervat word.
Artikel 19 van die Grondwet bepaal byvoorbeeld dat “dit elke burger vry [staan] om politieke keuses te doen, waarby inbegrepe is die reg om ’n politieke party te stig, deel te neem aan die bedrywighede van, of lede te werf vir, ’n politieke party; en hulle vir ’n politieke saak of party te beywer”. Voorts bepaal artikel 18 dat almal die reg het op vryheid van assosiasie, terwyl artikel 16 voorsiening maak vir vryheid van uitdrukking - wat natuurlik propaganda vir oorlog, aanhitsing van dreigende geweld of die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed aan te veroorsaak, uitmaak nie. Daarbenewens bepaal artikel 17 dat almal die reg het om vreedsaam en ongewapen te vergader, te betoog, ’n betooglinie te vorm en petisies voor te lê. Die EFF en soortgelyke groeperinge het dus in beginsel die reg om deel te neem aan die politiek van die dag.
Ons grondwetlike demokrasie is egter ook gegrond op die waardes van menswaardigheid, die behaling van gelykheid en die bevordering van menseregte en vryhede, nie-rassigheid, nie-seksisme, en die oppergesag van die Grondwet en die reg. Die Handves van Regte vervat gevolglik die regte - met inbegrip van politieke regte - van alle mense, wat slegs beperk mag word ingevolge artikel 36 en ander spesifieke bepalings in die Handves. So word artikel 19 en die reg om ’n politieke party te stig beperk deur artikel 16 in die Wet op die Verkiesingskommissie van 1996 (die Wet), wat die hoof verkiesingsbeampte verbied om ’n politieke party in gevolge daardie Wet onder sekere omstandighede te registreer. Dit sluit in die gevalle waar die voorgestelde naam, onderskeidingsmerk of simbool, of grondwet of stigtingsakte van die party enige iets bevat wat, onder andere, “die propagering of aanstigting van geweld of haat uitbeeld”, of wat “ernstige aanstoot by enige deel van die bevolking” kan veroorsaak op verskeie gronde, met inbegrip van ras, etniese oorspring, kultuur of taal.
Dít is waar die moontlike probleem vir die EFF en die OVK lê, gegewe die EFF se unieke en vreemde benadering en voorstelle, soos uitgedruk in hul stigtingsmanifes. Bevat die EFF se voorgestelde naam, onderskeidingsmerke of stigtingsmanifes enige iets wat sodanige “propagering of aanhitsing van geweld of haat” bevat, of wat ernstige aanstoot by ’n deel van die bevolking kan veroorsaak vanweë die EFF se standpunt oor ras, etniese oorsprong, kultuur of taal? Die antwoord verskil moontlik afhangende van of jy jouself beskou, of beskou word, as “die vyand”. Dit wil sê die “die kapitaal van die wit monopolie en hul politieke vennote”, “koloniste”, “die regering van ná 1994 wat die apartheids- en heersugtige wit staat” onderhou, of die res, wat klaarblyklik almal insluit, met inbegrip van “soldate en die polisie”.
Eerstens, die naam. ’n Vegter kan baie dinge wees. Iemand wat geneig is om jou te pot, of ’n vurige lid van die skool se debat- of sportspan wat ten spyte van uitdagings en teenstand nie sal erken dat hulle verloor het nie. ’n Vryheidsvegter kan egter ’n meer beperkte betekenis hê. Volgens die Oxford English Dictionary verwys dit na ’n persoon wat deelneem aan ’n revolusionêre stryd ten einde ’n politieke doelwit te verwesenlik, spesifiek ten einde hul regering omver te werp. Die Oxford US English Dictionary gaan selfs verder deur hierdie term te beskryf as ’n persoon wat aan ’n gewelddadige stryd deelneem ten einde ’n politieke doelwit, veral ten einde hul regering omver te werp, te verwesenlik. ’n Vryheidsvegter het beslis ’n bepaalde betekenis in die konteks van Suid-Afrika se geskiedenis. Gevolglik behoort die term, veral in die geval van die EFF, beskou te word as ’n poëtiese metafoor of verklaring van voorneme, wat oop is vir interpretasie. Een mens se vryheidsvegter is ’n ander se rebel sonder ’n missie.
Tweedens, die onderskeidingsmerk. Soos in die geval van skoonheid, hang dit af wie daaroor oordeel: Dit is oop vir interpretasie. Indien dit saam met die naam oorweeg word kan dit help om enige verkeerde vertolkings reg te stel. Of ’n vuis wat omhoog gehou word en ’n spies wat vorentoe wys, gesien kan word as teenwoordigend van ’n nasie se onderneming om in vrede en harmonie saam te leef of nie, sal afhang van aan watter kant van die spies jy jouself bevind. Gevolglik dra die simbool moontlik by tot die vaagheid daarvan.
Derdens, die manifes. Verduidelik die EFF se stigtingsmanifes enige verkeerde vertolking van die betekenis van hul naam en simbool? Ook hieroor moet verder uitgewei word. Volgens die grondliggende bepalings van sy stigtingsmanifes bestaande uit 25 bladsye, grond die EFF hul voorgenome stryd om ekonomiese bevryding op die lang weerstand van Suid-Afrika se rassistiese koloniale en imperialistiese, politieke, ekonomiese en maatskaplike oorheersing. Gevolglik is die EFF voornemens om hierdie weerstand te verskerp tot ’n beslissende oorwinning om die regmatigheid van die doelwitte van die bevrydingstryd te regverdig. ’n Mens kan moontlik aanvoer dat die teks en klaarblyklike steun vir ’n voortgesette bevrydingstryd slegs die denke en idees van die passievolle en vurige “kommissarisse” van die beweging weerspieël - al is dit nou op ’n ietwat strydlustige wyse. Die EFF se beskrywing van sy eie karakter as ’n “radikale en militante ekonomiese bevrydingsbeweging wat revolusionêres, vreeslose, radikale en militante aktiviste bymekaar bring wat ten doel het om die stryd te voer om ekonomiese bevryding teen die vyand te behaal, draai egter nie juis stokkies om met sy benadering nie.
Daarbenewens kan die verklaring dat die EFF gelei word deur revolusionêre internasionalisme en solidariteit wat die politiek rondom die July 26 Movement, wat die Kubaanse revolusionêre stryd gelei het. Die naam “July 26 Movement” is afkomstig van die mislukte gewapende aanval op die Moncada-barakke, ’n militêre instelling in die stad Santiago de Cuba, op 26 Julie 1953. Daardie beweging is gevolglik herorganiseer deur, onder andere, Fidel Castro, Raúl Castro en Ernesto “Che” Guevara, om ’n guerrillastryd wat die Kubaanse diktator, Fulgencio Batista, omvergewerp het. As die EFF se “opperbevelvoerder” en sy “bevelspan” verklaar dat “jy gedwing gaan word om te deel” nadat hulle hulself as ’n militante beweging beskryf het wat uit militante aktiviste bestaan en wat deur die July 26 Movement geïnspireer is, kan ’n mens nie help om te wonder of die modus operandi en beoogde taktieke nie net grootpratery is nie, of ’n drukkastrol wat dreig om oor te kook.
Die EFF is duidelik reg oor die feit dat Suid-Afrika steeds ’n diep verdeelde, ongelyke samelewing is - veral in verhouding tot sosio-ekonomiese omstandighede. Hulle is ook in die kol wanneer hulle sê dat korrupsie onder die bewind van die ANCregering vererger het, dat dienslewering afgeneem het en die gehalte van dienste - veral die armes, verswak het. Die voortgesette ongelykheid wat voortduur deur, onder andere, mislukte beleide van regstellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging, moet reggestel word. Dít moet egter binne die konteks van die Grondwet gedoen word. Die Grondwet vervat die regte om ’n politieke party te stig, om politieke aktiwiteite te organiseer, byeen te kom en vrylik uit te druk. Dit vereis egter ook van almal in Suid-Afrika om die Grondwet, die Handves van Regte en mekaar te respekteer. Die EFF se voorgestelde beleide is nie noodwendig ongrondwetlik nie (hoewel die EFF nie een keer na die Grondwet verwys nie), maar die wyse waarop daardie beleide oorgedra word blyk om die fundamentele waarde van nie-rassigheid te ignoreer.
Gevolglik moet die EFF se manifes geïnterpreteer word as ’n bona fide en luidrugtige beroep om sosio-ekonomiese gelykheid. Dit kan egter ook beskou word as ’n baie militaristiese en rassistiese beroep om gewelddadige optrede wat gemik is op die terugeis van welvaart en ekonomieë van “koloniale en neo-koloniale meesters”. Afhangende van die hoogs gepolariseerde en aanstootlike woordkeuse in die teks van die manifes. Die aanstootlike verwysings na ’n aantal Suid-Afrikaners - veral wit Suid-Afrikaners - wat sonder onderskeid na verwys word as “wit heersugtiges”, “kolonialiste” en “imperialiste”, selfs in die konteks van ons grondwetlike demokrasie ná 1994, noodsaak nie juis verduideliking nie. Desnieteenstaande kan ongegronde verklarings, soos “daardie politieke partye wie se agendas en politieke programme voortgaan met wit heersugtigheid en die imperialistiese dominansie van Suid-Afrika” en dat “wit boere tussen 1994 en 2004 meer as 1 miljoen plaaswerkers van plase gesit het”, skaars gesien word as die bevordering van wederkerige respek of eenheid in ons diversiteit. Hierdie verklarings gaan verder as die oplossing van voortgesette ongelykheid en skewe sosio-ekonomiese omstandighede en grens aan rassisme.
Die OVK moet nou oorweeg of die EFF, ingevolge die Wet, geweld propageer of aanhits, of die emosies van afkerigheid of haat opwek. Die OVK sal ook versigtig moet oorweeg of die EFF enige gedeelte van die bevolking aanstoot gee op grond van tas, etniese oorspring, kultuur of taal. Indien wel, kan die OVK natuurlik nie die EFF as politieke party registreer nie. Dit alles is natuurlik onderhewig aan vertolking. Na aanleiding van Nietzche, die interpretasie wat op enige tydstip seëvier, is ’n funksie van mag en nie waarheid nie. Of dit nou gegrond is op die balans van mag, of waarheid, sal ’n interpretasie wat voorsiening maak vir die registrasie van die EFF ’n ryke verbeelding noodsaak. Maar aangesien die hoekstene van hul politieke praktyk “grootskaalse organisasie” en “aktivisme” sal wees, sal die registrasie as politieke party nie ’n noodsaaklikheid vir die EFF wees nie.
by Adv Johan Kruger, Director: Centre for Constitutional Rights
Toespraak: 18 Maart 1992