
Dit is vandag Erfenisdag. Hierdie dag is ná die 1994 onderhandelde skikking op die kalender geplaas. Die viering daarvan verskil van Suid-Afrikaner tot Suid-Afrikaner, maar President Nelson Mandela het by die eerste viering van Erfenisdag in 1995 gesê dat dit ingestel is omdat die regering besef het dat “ons ryk en gevarieerde kulturele erfnis diepgaande krag het om ons te help om ons nuwe nasie te bou”. Erfenisdag is dus nie net bedoel om verskiedenheid te vier nie, maar ook om eenheid te help bou.
Dit is interessant dat 24 September aanvanklik nie op die lys van openbare vakansiedae was toe die Wetsontwerp op Openbare Vakansiedae in 1995 in die Parlement gedien het nie. Die Inkatha Vryheidsparty het daarop aangedring dat diè dag, waarop die Zoeloenasie tradisioneel Shakadag gevier het (vir dié Zoeloekoning se vesoenende rol tussen die verskillende Zoeloestamme), by die lys van openbare vakansiedae gevoeg moet word. Die kompromie wat aanvaar is, is dat die dag Erfenisdag genoem sou word – en vir alle Suid-Afrikaners en nie net vir Zoeloes sal geld nie.