Hoe lyk ons President se prestasietelkaart vyf maande nadat hy die ANC tot ‘n oorwinning by die stembus aangevoer het en daarna vir vyf jaar as President van die land aangewys is?

Aan die positiewe kant is daar verskeie sake, waarvan baie in die geraas van ander negatiewe gebeure vergete geraak het. Die aanstelling van ‘n Ekonomiese Adviesraad met verskeie internasionale ekonome en kundiges aan boord, is ‘n positiewe teken. Die afstand wat sommige van hulle van Suid-Afrika en die heersende ideologieë het, kan beteken dat hulle met vars en oorspronklike  planne na vore kan kom. Die gedeeltelike aanvaarding van Tito Mboweni se ekonomiese regrukplan deur die ANC se NUK is ‘n tweede positiewe ekonomiese teken. Puriste het reeds gekla dat dit nie genoeg is nie, maar dit is veel beter as die histerie wat by die loodsing daarvan uitgebreek het, binne die ANC en deur die alliansievennote. Wat baie mense uit die oog verloor, is dat Moody’s se beleggingsgradering van Suid-Afrika nie afgeskaal is na rommelstatus nie – miskien sien hulle op ‘n afstand wat ons wat nader aan die vuur sit, nie raaksien nie.

Ten opsigte van korrupsie en staatskaping was daar ten minste drie betekenisvolle aankondigings (benewens die voortgaande onthullings voor die Zondokommissie). Die eerste was die regulasies vir die magtiging van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) om die sogenaamde “asbestos-saak” in die Vrystaat te ondersoek – waarin Ace Magashule na bewering ‘n sleutelrol gespeel het. Die tweede was die regulasies vir ‘n Spesiale Tribunaal (bestaande uit agt regters) wat daarop gemik is om siviele eise in te stel in gevalle waar die staat geld verloor het en wat uit ondersoeke van die SOE spruit, te bespoedig. Die Tribunaal het reeds met sy werk begin en die bedrag wat ter sprake is, is meer as R14 miljard. Die derde is die loodsing van ‘n antikorrupsie forum in die gesondheidsbedryf, met vennote Corruption Watch en Section27 – terloops organisasies wat nie sonder kritiek op die regering is nie.

‘n Kwessie wat oor tyd vergete kon raak, is hoeveel Zupta’s reeds uit sirkulasie en uit die regering verwyder is onder Ramaphosa se leierskap. Ferial Haffajee het selfs onlangs ‘n artikel geskryf (“See how they’ve fallen – a State Capture rogue’s gallery”) waarin sy onderskei tussen dié wat “spilpunte” en dié wat die bemagtigers (“enablers”) was. Hieronder tel Bathabile Dlamini, Des van Rooyen, Malusi Gigaba, Supra Mahumapelo, Mosebenzi Zwane, Brian Molefe, Anoj  Singh, Siyabonga Gama, Dan Matjila, Hlaudi Motsoeneng, Lucky Montana, Tom Moyane, Shaun Abrahams en Berning Ntlemeza. En al het die strafregtelike vervolgings nog nie begin nie, is ‘n hele klomp geld reeds deur siviele sake teruggekry. Die punt is: polities en administratief het Ramaphosa gedoen wat hy kon doen. Die regsprosesse en vervolgings sal langer duur om te begin en afgehandel te word. Dit is ook positief dat daar die afgelope weke hardnekkige gerugte is dat die eerste hoë profiel vervolgings binnekort gaan begin.

Op taal- en diversiteitsgebied was President Ramaphosa tot onlangs nie baie uitgesproke nie. Op vanjaar se Erfenisdag op Upington sê hy egter (in Afrikaans nogal): “Daar is geen taal in ons land wat ons kan sê is ‘n taal uit ons verlede en wat in ons gelede (sic) gelaat moet word nie. Vandag omhels en beoefen ons alle tale wat bydra tot die diversiteit van ons nasie”. Dit is ‘n welkome noot en mens hoop dat Panyaza Lesufi dit ernstig sal opneem. Oor ander Afrikatale het hy onderneem dat die regering hard werk om daardie tale as skoolvakke aan te bied – maar ongelukkig niks oor moedertaalonderrig in inheemse tale gesê nie.

 

President Ramaphosa se weeklikse nuusbrief wat aan die einde van September begin is, is ‘n poging om beter te kommunikeer en meer sigbaar te wees. Of die verspreiding daarvan wyd genoeg is en of die media dit as nuuswaardig genoeg sal beskou om daaroor te berig, sal gesien moet word.

 

Ten slotte (en miskien klink dit teenstrydig) is die uitspraak van Ace Magashule dat hy eerder onder Nkosazana Dlamini-Zuma sou wou dien as onder Cyril Ramaphosa, ‘n positiewe teken. Nadat hy die afgelope tyd ‘n paar keer ietwat op sy plek gesit is, het hy die stilte verbreek met hierdie blatante uitdaging aan sy President.  Dit kan die begin van die einde van die Zuptas in die ANC beteken.

 

Maar dit kan nie ontken word nie dat daar ook ‘n hele paar negatiewe punte op die telkaart is. President Ramaphosa lei ‘n party wat ideologies grootliks verdeeld is en waarvan ‘n groot deel (indien nie die grootste deel nie) steeds aan ‘n vorm van sosialisme verknog is, met die sogenaamde Nasionale Demokratiese Rewolusie as die basis. Dit het onlangs weer na vore gekom in die kritiek op Tito Mboweni se ekonomiese regrukplan. ‘n Tweede negatiewe faktor (wat vir die voorsienbare toekoms nie sal verander nie) is die swak of geen kapasiteit in die staatsdiens – aangevuur deur ideologiese transformasie, die 80-9-9-2 ideologie en kaderontplooiing. Die skynbare stagnering van vervolgings maak baie mense moedeloos. Die vasgevalde ekonomie – met ‘n verwagte groeikoers van net 0.6% vir 2019 – help ook nie om vertroue te bou nie. Voeg hierby die debat oor voorgeskrewe bates, die dreigende wysiging van artikel 25 van die Grondwet, misdaadstatistieke en die beplande Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel, en daar is baie om oor bekommerd te wees.

Aan sekere van hierdie negatiewe punte op die telkaart kan President Ramaphosa nie op die korttermyn iets doen nie. Maar die positiewe punte op die telkaart wys dat baie ander dinge reeds gedoen kan word – en dat daar inderdaad vordering is. Dis nie ‘n telkaart wat al ‘n onderskeiding sal gee nie, maar die resultaat is op hierdie stadium meer as 50%.

Die President se “akademiese jaar” strek egter langer as ‘n kalenderjaar. Daar lê harde werk voor en hy sal voor gereelde toetse te staan kom – waarvan hy ten minste die meerderheid sal moet slaag om uiteindelik ‘n onderskeiding te verwerf.

Onlangs is ‘n nuwe Facebook-bladsy – #ImStaying – gestig wat daarop gemik is om Suid-Afrikaners te mobiliseer om te sê òf hulle in Suid-Afrika gaan bly en hoekom hulle sò besluit het. Die aantal lede het baie vinnig na meer as 600 000 gestyg. Dit is ‘n duidelike teken dat Suid-Afrikaners van alle rasse en stande reg is om te bly, maar dat hulle ook besef dat moeilike besluite geneem sal moet word om by ‘n beter toekoms uit te kom.

Tydens Solidariteit se toekomsberaad wat laasweek in Pretoria gehou is, is die konsep van selfbestuur en kulturele selfstandigheid sterk beklemtoon. Volgens die voorsitter van Solidariteit, Flip Buys, het selfbestuur noodsaaklik geword omdat staatsbestuur besig is om te verval en plek-plek reeds misluk. Die tema van die toekomsberaad was “Bou om te Bly”. Hier is dus ‘n groot deel van die Afrikaanse bevolking wat ook sê “ons bly”. En al wil ons nie afhanklik van die mislukkende staat vir ons toekoms wil wees nie, sal ons met die staat saamwerk waar ons kan. En by implikasie wens ons die President sukses toe met sy hervormings.

President Ramaphosa het tereg in sy eerste nuusbrief geskryf dat Suid-Afrikaners gereed is om die land se uitdagings in die gesig te staar. Dit is waar. Maar in die konteks van hierdie telkaart, is die vraag: Meneer die President, ons is bereid om te bly en te bou vir ‘n goeie toekoms. Is u bereid en gereed om die moeilike besluite te neem wat ons sal help om daar uit te kom?

Theuns Eloff is voorsitter van die Adviesraad van die FW de Klerk Stigting
17 Oktober 2019

*Eers op Netwerk24 gepubliseer

Leave a Reply

Your email address will not be published.