Dit is ‘n ingewikkelde saak en – waar daar sin van kan gemaak word – dit dui op ‘n organisasie wat vasgevang is in onderduimse aktiwiteite en wanadministrasie. Met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) wat sedert sy instelling nog nie ‘n hoof gehad het wat ‘n volle termyn suksesvol voltooi het sonder om te bedank of wat gedruk is om die pos te verlaat nie, is een van die aanduiders hiervan.
Die jongste slag vir die vervolgingsliggaam is die onlangse bevinding deur die Noord-Gautengse Hoë Hof (die Hof) waarin die Algemene Balieraad ‘n aansoek gebring het dat Nomgcobo Jiba (Jiba) en Lawrence Mrwebi (Mrwebi) van die rol van advokate geskrap word – wat toe toegestaan is. In die beslissing het die Hof verdoemende bevindings teen die twee gemaak. Dit is van groot kommer dat die volgende gesê is van individue aan die stuur van die nasie se organisasie wat misdaad beveg: “Ek kan nie glo dat twee amptenare van die hof (advokate), wat sulke hoë poste in die vervolgingsgesag beklee, so laag sal daal vir die beskerming en verdediging van een individue wat by ernstige oortredings betrek word nie.”