Artikel 179 van die Grondwet maak voorsiening vir die instelling van ’n enkele vervolgingsgesag saamgestel ingevolge ’n wet van die Parlement. Dit maak ook voorsiening vir die President om ’n NDOV aan te stel as hoof van sodanige vervolgingsgesag. Gevolglik bepaal die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag, Wet 32 van 1998 (die Wet), dat die President, in ooreenstemming met artikel 179 van die Grondwet, die NDOV moet aanstel. Saamgelees met artikel 237 van die Grondwet, wat bepaal dat alle grondwetlike verpligtinge – met inbegrip van die pligte van die President – “getrou en sonder versuim nagekom [moet] word”, moet die President ’n NDOV binne ’n redelike tydperk aanstel.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is egter reeds sedert Desember 2011, toe die Appèlhof beslis het dat die aanstelling van Simelane nie met die Grondwet versoenbaar was nie en dus ongeldig was, sonder ’n permanente NDOV. Hierdie beslissing is gevolglik in Oktober 2012 deur die Konstitusionele Hof beaam en het gelei tot die aanstelling van Nomgcobo Jiba as waarneembare NDOV sedert Desember 2011.

As ’n mens die ongeldigheid van die President se aanstelling van Simelane oorweeg -­ wat deur laasgenoemde Hof as onredelik en irrasioneel beskou is -­ het die NVG, ten minste teoreties, ’n waarneembare hoof gehad sedert die aanstelling van Mokotedi Mpshe as waarneembare NDOV na afloop van die skorsing en daaropvolgende afdanking van Vusi Pikoli in September 2007.

Die NVG -­ en spesifiek die NDOV as hoof van die NVG -­ is die wagte van die kriminele regstelsel. Alhoewel die Suid-­Afrikaanse Polisiediens en ander departemente ondersoeke loods en onderneem, bepaal die NVG, ingevolge die Grondwet, of ’n saak vervolg sal word of nie. Daarbenewens, ingevolge artikel 179(5) van die Grondwet, is dit uiteindelik die NDOV wat daardie besluit maak -­ of dit nou gegrond is op die nakoming van beleid en riglyne ten opsigte van vervolging, óf gegrond is op die aanhoor van die beskuldigde, die klaer of ander tersaaklike partye. In hierdie verband het die Konstitusionele Hof, in Democratic Alliance v The President of the Republic of South Africa & Others, aangevoer dat ten opsigte van die bepaling van vervolgingsbeleid, die besluit om te vervolg of nie te vervolg nie en die plig om te verseker dat vervolgingsbeleid nagekom word, ’n grondliggende beginsel van ons demokrasie is. Gevolglik het die Hof verklaar dat die posisie van NDOV “nou verband hou met die funksie van die regbank om geregtigheid in die breë te behaal en dat dit uiters belangrik is vir die toepassing van die strafreg”. Om hierdie rede moet die NDOV, as hoof van die NVG, nie slegs doeltreffende en professionele vervolgingsdienste verseker nie, maar het hy of sy ook ’n plig om te verseker dat die onafhanklikheid van die vervolgingsproses gehandhaaf word.

Dit is dus te bevraagteken waarom die President versuim om ’n permanente NDOV aan te stel, nege maande nadat die Konstitusionele Hof beslis het dat sy aanstelling van Menzi Simelane ongeldig was. Dit is ook nie heeltemal duidelik waarom die President vir Nomgcobo Jiba aangestel het as waarnemende NDOV, gegewe haar beweerde duistere verlede. Dit is selfs meer kommerwekkend dat die President, in plaas daarvan om ’n gepaste en geskikte permanente hoof van die NVG aan te stel, besluit het om CASAC se aansoek om die President te dwing om ’n aanstelling te maak, teen te staan.

Ingevolge artikel 9 van die Wet, moet enige persoon wat as NDOV aangestel word oor die nodige regskwalifikasies beskik wat hom of haar in staat sal stel om in alle howe in Suid-­ Afrika te kan praktiseer. Sodanige persoon moet ook “‘n gepaste en geskikte persoon wees, met behoorlike inagneming van sy of haar ondervinding, pligsgetrouheid en integriteit, om met die verantwoordelikhede van die betrokke amp toevertrou te word”. Alhoewel die Konstitusionele Hof in die Simelane-­saak nie ’n bevinding gemaak het oor of hy ’n geskikte en gepaste persoon is om as hoof van die NVG aangestel te word nie (en of die President ’n bepaalde motief gehad het toe hy die aanstelling gemaak het), het die Hof wel die belangrike opmerking gemaak dat desnieteenstaande die feit dat die NDOV deur die President aangestel word, dit nie beteken dat daardie aanstelling ’n “politieke aanstelling” moet wees nie. Aldus die Hof mot die NDOV onpartydig wees en nie ‘n polities-­ gemotiveerde aanstelling wees nie. Hy of sy moet eerder “’n nie-­politiese hoof uitvoerende beampte [wees] wat direk deur die President aangestel word”. ’n NDOV moet voorts in staat wees om, in praktyk, die vereistes van professionaliteit en onafhanklikheid ten opsigte van vervolging uit te leef -­ sonder vrees, begunstiging of vooroordeel. Dalk is die laasgenoemde leiding deur die Hof die rede waarom die President nog nie ’n permanente aanstelling gemaak het nie: nie net moet die volgende NDOV ’n persoon wees wat gekwalifiseerd, geskik en gepas is nie, maar ook ’n geskikte en gepaste persoon in dié sin dat hy of sy onpartydig en nie ‘n polities-­gemotiveerde aanstelling behoort te wees.

Deur Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte

{phocadownload view=file|id=240|text=Laai die PDF af|target=s}

Leave a Reply

Your email address will not be published.